|
'n BETER afgeronde vertoning deur Paarl Gimnasium het Saterdag verseker dat dié span vanjaar nie net met die gesogte interskole-oorwinning kon wegloop nie, maar ook die rekordboeke herskryf het.
Gim se 15-0 oorwinning oor Boishaai was die grootste drag slae nog in die 74-jarige geskiedenis van dié tradisieryke kragmeting.
Voor dit was die wedstryde waarin die grootste punteverskille voorgekom het in 1995 toe HJS vir Gim met 17-3 geklop het en in 1981 toe Gim 12-0 gewen het.
Hoewel swaar reënneerslae Donderdag en Vrydag die rugby- en hokkievelde in moddermoerasse verander het en die netbalbane in bedrieglike glybane, kon die sowat 15 000 toeskouers Saterdag in sonskynweer aansit vir dié groot kragmeting op die Faurestraat stadion.
Boishaai het in die eerste helfte met 'n sterk wind van agter gespeel en het reeds in die eerste minute geleentheid gekry om punte op die bord te sit.
Die wind wat skuins oor die veld gewaai het, het egter Alwyn Burger (losskakel) se strafskop van vyf meter binne Gim se halfgebied net verby die regoppaal laat verbyskuur.
Daar was min te kies tussen die twee pakke voorspelers wat baie goed teen mekaar opgeweeg het, maar die Gim-agterlyn se slaankrag was net een te veel vir Boishaai.
Diep in die eerste helfte was HJS in die moeilikheid toe 'n doellose skop in die hande van Gim se Hennie Daniller beland en hy met 'n teenaanval begin het.
Die sterk heelagter en SA Skolespeler het met baie vaart en kragtige afstampe van net binne Boishaai se helfte regdeur 'n horde wit-en-blou truie gehardloop en geswenk om in die hoek te druk.
Die Boishaaiers het hierna die druk verhoog en slaag daarin om Gim in hul eie halfgebied vas te pen.
'n Strafskop het HJS se Burger 'n tweede kans na die pale gegee, maar die skop is regs verby.
Hoewel die Gimmies se losskakel, Etienne Duvenage, sy bes gedoen het om spel vanuit hul eie gebied te verskuif, het die wind lang lynskoppe bemoeilik en het Boishaai vir die res van die helfte gebiedsvoordeel geniet.
Hulle kon egter nie deur die hegte verdediging van Gim deurdring nie en rustyd breek aan met die telling op 5-0.
Vroeg in die tweede helfte kry Duvenage geleentheid om Gim se voorsprong te vergroot met 'n strafskop na die pale, maar ook hy sukkel om die kol te tref.
Hoewel Gim ook die wind gebruik het om Boishaai in sy eie gebied vas te pen, het laasgenoemde met groter sukses spel vanuit die gevaargebied verskuif.
Ná 'n strafskop 10 treë van Boishaai se doellyn bestorm die Gim-pak die doelgebied en agsteman Dirk Coetzee val oor vir die drie.
Coetzee druk dan ook Gim se derde drie ná 'n aanskoulike stukkie ondersteunende spel wat weer eens 'n sterk lopie deur Daniller ingesluit het.
Gim het tot op die einde druk uitgeoefen en HJS nooit deurkomkans gebied nie. Hulle wen welverdiend die wedstryd.
'n Gimmie wat veral met verlangende oë die aksie op die veld dopgehou het, was CP Mouton wat op linkervleuel sou uitgedraf het. Hy moes egter Donderdag onttrek weens Duitse masels. Riaan Bailey het in sy plek gespeel.
Mouton wat vanjaar in graad 11 is hoef egter nie sy ideaal om in die interskole te speel totsiens te wuif nie, en kan uitsien om volgende jaar sy merk in dié groot wedstryd te maak.
Ander uitslae: Rugby o.14C HJS wen 20-5, o.14B Gim wen 5-3, o.14A Gim wen 28-10, o.15D HJS wen 22-0, o.15C HJS wen 17-5, o.15B Gim wen 15-0, o.15A HJS wen 13-12, o.16D gelyk 19-19, o.16C HJS wen 5-0, o.16B Gim wen 9-0, o.16A Gim wen 24-6, o.19H HJS wen 12-3, o.19G Gim wen 5-0, o.19F HJS wen 3-0, o.19E HJS wen 12-7, o.19D Gim wen 10-6, o.19C Gim wen 8-5, o.19B Gim wen 8-0. Netbal o.14C Gim wen 16-5, o.14B Gim wen 20-6, o.14A Gim wen 17-11, o.16F Gim wen 26-1, o.16E wen 20-4, o.16D wen 11-2, o.16C HMS wen 21-12, o.16B Gim wen 17-13, o.16A HMS wen 21-19, o.19F Gim wen 22-0, o.19E Gim wen 17-8, o.19D Gim wen 13-9, o.19C Gim wen 15-13, o.19B Gim wen 19-12, o.19A HMS wen 24-22. Seunshokkie o.14A 1-1, o.16A HJS wen 3-0, o.18A 1-1. Meisieshokkie o.14B 1-1, o.14A 1-1, o.16E 1-1, o.16D Gim wen 6-0, o.16C Gim wen 7-0, o.16B Gim wen 1-0, o.16A Gim wen 2-0, o.19D Gim wen 2-1, o.19C Gim wen 2-0, o.19B Gim wen 1-0, o.19A 1-0. Skaak Gim wen 8, HJS wen 3. Muurbal o.19A HJS wen 9-7, o.19B HJS wen 14-4. |