|
DIT is komies om in die pers te lees hoe daar nou water getrap word oor die skootrekenaars wat die munisipaliteit aangekoop het.
Dit nogal aangekoop op versoek van raadslede wat nou kwansuis niks daarvan weet nie.
Bestellings vir hierdie skootrekenaars is mondelings en in die geheim reeds op 11 Junie by 'n nie-amptelike vergadering van die Uitvoerende Burgemeesterskomitee (UBK) geplaas.
Teenwoordig by hierdie heel eerste besluit wat die nuut aangestelde UBK geneem het, was al die komiteelede en een amptenaar, Hertius Carstens, wat die bestelling geneem het.
Die Demokratiese Alliansie (DA) het 'n wenk van 'n lid van die publiek ontvang, en dit is slegs op aandrang van die DA, deur middel van twee briewe op 11 Julie en 23 Julie, dat die Uitvoerende Burgemeesterskomitee (UBK) op 'n vergadering op 24 Julie vra dat die Munisipale Bestuurder 'n verslag oor die aangeleentheid voorlê.
In die briewe vra die DA volledige inligting, maan teen die kondonering van die aankope, asook dat die aankope nie gemagtig word alvorens 'n volledige verslag aan die volle raad voorgelê word nie.
Eina!
Die UBK vra dus nou 'n ondersoek na 'n aangeleentheid wat sy oorsprong het op hul eie nie-amptelike vergadering wat agter geslote deure plaasgevind het.
By vorige geleenthede het die DA reeds gewaarsku teen 'n ondeursigtige proses en dat dit nie die belange van die publiek dien nie.
In hierdie hele aangeleentheid was daar niks op skrif of op band nie.
Die besluit dat skootrekenaars aangekoop moes word, die hoeveelheid, die prysklas, die individuele bestellings, wie sou ontvang, dat die bestelling van R385 000 sal uitgaan op kwotasie en nie tender nie, uit watter begroting, en die opdragte vanaf 11 Junie, het alles mondelings geskied.
Sal enige amptenaar so mal wees om hierdie aankope te doen, veral op hierdie manier, sonder dat die uitvoerende politieke gesag die saak steun of druk nie?
Om nou die skuld op 'n amptenaar of twee te wil afskuif, sonder dat die uitvoerende politieke gesag mede-verantwoordelikheid vir hul geheime besluite aanvaar, is om die intelligensie van die publiek in Drakenstein te beledig.
Ten minste kon raadslede wat op die UBK dien, en daarop roem dat hulle oor jare se ondervinding in die diens van die publiek beskik, daarop aangedring het dat die aankope op tender uitgaan soos dit hoort (vir aankope bo R120 000), nadat die meriete van die saak in die openbaar bespreek is.
Hierdie aangeleentheid is eintlik 'n groot skandaal.
Die hele UBK behoort te bedank, want hulle het met die intrapslag getoon dat hulle nie opgewasse is om Drakenstein se prosesse en finansies te bestuur nie.
Deetlefs du Toit Raadslid (DA) |