|
VROUE het 'n groot aandeel gehad in die vorming van die Paarl se gemeenskap soos ons dit vandag ken.
Saterdag is Vrouedag en om dit te vier nooi Paarl Museum alle vroue om hulle van Vrydag tot Maandag gratis te besoek.
As lusmaker is hier 'n paar interessante feite oor van die formidabele vroue wat u vooruitgegaan het:
* Die eerste vrou, Sara du Toit, was getroud met 'n vroeë kolonis. Op 1 Desember 1706 wou amptenare vir Guillaume du Toit van die plaas De Klyne Bosch in Daljosafat arresteer omdat hy een van Adam Tas se rebelle was. Sara het eiehandig 14 van hierdie amptenare verjaag.
* "Ek is gebore op mnr M se plaas, naby Kalabaskraal," vertel Rebecca van de Kaap, van die plaas Simonsvlei.
"Toe my baas te oud was om te boer, het hy die meeste van sy grond en goedere tussen my broers verdeel. Ek, en 'n klompie vee, is aan baas Nortjé gegee, my ma en nog vee is Franschhoek toe gestuur."
* Op 20 Maart 1814 skryf die Hottentottin Saartjie aan die goewerneur, Sir John Francis Cradock: "In die distrik van Stellenbosch onder veldkornetskap van Johan Gerhard Wagener van die Paarl, en aangrensend aan die erf van Pieter Malherbe Sr naby die Bergrivier is 'n stuk grond wat geskik is vir landbou."
Spioen
* Dan is daar die Bolandse Boerenooi-spioen. Margaretha Magdalena Joubert van De Twyfeling, Wellington, is gedurende die oorlog op aanklagte van spioenasie en hoogverraad aangehou.
Sy en haar niggie, Ita Malan, van Pretoria het geheime nuus in suurlemoensap geskryf wat gestryk moes word om leesbaar te word. Sy is gevonnis tot vyf jaar tronkstraf met harde arbeid. Later is dit versag na ses maande tronkstraf sonder harde arbeid.
* In 1900 het daar twee massa-vrouebyeenkomste op die wynplaas, Labori et Picardi plaasgevind.
Ongeveer 1800 vroue teken protes aan teen die gevangeneming en wegvoer van onbeskermde Boere-vroue in stryd met all wette en gebruike van oorlogvoering.
Beswaar is ook gemaak teen die verbranding, plundering en verwoesting van privaat eiendom, waardeur vroue en kinders hulpeloos gelaat is.
* Lizzy Phike, deesdae provinsiale parlementslid, het Paarl toe gekom toe sy nog baie jonk was.
Sy sluit in 1954 by die Food and Canning Workers' Union aan en in die 1960's word sy 'n komiteelid en in 1979 'n voltydse vakbondwerker.
Terselfdertyd raak sy betrokke by die United Women's Organisation en stig 'n plaaslike tak saam met Liz Abrahams. Gedurende die brood-veldtog in 1982 is Lizzy die eerste keer in hegtenis geneem.
* Nellie Johnson is in 1930 in Port Elizabeth gebore, is wees gelaat op 'n vroeë ouderdom en by haar oom in Rosakistraat, Paarl-Oos.
Sy is net 16 as sy in 1946 trou. Later word sy gedwing om Paarl-Oos te verlaat as gevolg van die Groepsgebiedewet.
In September 1975 maak sy die eerste crèche in Mbekweni oop.
* Maria du Toit is in 1903 in die Paarl gebore. Ten spyte van swak gesondheid studeer sy medies en werk haar hele loopbaan in sending-hospitale, onder meer in Soedan en Nigerië. Op die ouderdom van 93, skryf sy haar lewensverhaal.
* Gedurende die 1890's het Idel Schwartz, 'n immigrante handelaar, 'n winkel op Klapmuts gekoop. Later het hy sy vrou en twee dogters uit Rusland laat kom. Een van hulle, Bertha (wie se getroude van Solomon was), het later een van Suid-Afrika se bekendste parlementslede geword, waar sy baie vir die Vroue Stemregbeweging beteken het. |