|
SY het nie gedink sy sien ooit weer haar selfoon nie, het Paarliet Heidi Myburgh gedink toe sy twee weke gelede op pad Malmesbury toe ontdek het sy het dit êrens verloor.
As onderwyser van die Sonskynklas vir Gestremde Kinders by Laerskool Swartland, is dit Heidi se plig om soggens 'n paar leerders oppad soontoe 'n geleentheid te gee.
Oudergewoonte het sy dié betrokke Woensdagoggend ook 'n paar leerders voor 'n winkel in Noorder-Paarl opgetel.
En dit is net hier waar die glips ingekom het, toe die selfoon uit haar baadjiesak gegly en op die grond beland het.
Heidi het egter eers naby die Wellington afdraai agtergekom daar is groot fout toe sy 'n oproep wou maak en besef het selfoon se kind is pad-op.
"Ek het geweet dat my foon in my baadjie se sak was. Dié oggend moes ek een van die leerders help inklim en toe val die selfoon uit," het sy vertel.
Maar daar is darem nog iets soos 'n barmhartige Samaritaan.
Johannes Ntsini, werknemer by 'n kabinetnmaker op Wellington, was saam met sy werkgewer in die omgewing, toe hy die selfoon op die grond sien lê het.
Hy het hom ontferm en die foon opgetel en saamgeneem.
"Ek het dadelik my eie nommer geskakel toe ek by die skool aanland," het Heidi vertel, "Ek het gedink die persoon wat my foon opgetel het, het seker al die SIM-kaart verwyder of al my lugtyd opgebel.
"Johannes het egter die foon beantwoord en verduidelik dat hy dit opgetel en veilig by hom gehou het. Omdat hy nie so lekker Afrikaans kan praat nie, moes sy werkgewer as tolk optree.
"Aan die einde van die dag het my man, Tersius, na Prowell gegaan en kon hy my foon terugkry.
"Uit dankbaarheid het hy Johannes 'n beloning gegee. Ek het nie gedink daar is nog sulke eerlike mense nie," het sy dankbaar gesê.
* A Paarlite has been reunited with her cellphone. |