|
|
 |
Sport |
 |
DIT was voorwaar 'n Blou Saterdag toe die eerste rugbyspan van Boishaai vir Paarl Gim in hul jaarlikse interskole-kragmeting met 25-6 geklop het.
Boishaai, wat verlede jaar aan die ontvangkant was van 'n vernederende rekord-pak van 15-0, het vanjaar daarvoor vergoed deur Gim met 19 punte te klop en só hul beurt gekry om die rekordboeke te herskryf. In die aanloop tot die o.19A-rugbywedstryd het Gim oorheers deur die o.14A (20-7), o.15A (12-0), |
 |
twee wat gelykop geëindig het.
Maar soos gewoonlik was die hoofwedstryd die een wat tel en hier is Gim vroeg reeds 'n slag toegedien.
Die span se kaptein en senter, CP Mouton, moes ná slegs tien minute se spel met 'n draagbaar van die veld gedra word.
Mouton het roerloos op die veld bly lê nadat hy 'n harde laagvat uitgevoer en sy kop gestamp het. 'n Duidelik deurmekaar Mouton is met harsingskudding per ambulans na die hospitaal vervoer.
Die eerste punte het reeds ná vyf minute op die bord verskyn toe HJS se skrumskakel, Danie van der Merwe, met 'n strafskop slaag.
Vyf minute later maak Gim se Willem Laubscher (losskakel) sake gelyk toe hy ook met 'n strafskop slaag.
Hoewel Gim 'n paar keer vir Boishaai kwaai onder druk gehad en hulle diep in hul kwartgebied vasgepen het, kon hulle nie die doellyn oorsteek nie.
Beide spanne se senuwees en oorgretigheid het hulle verhoed om met sukses af te rond.
Sake het tot kort voor rustyd redelik gelykop verloop met die spanne wat elk nog 'n strafskop aangeteken het.
'n Drie deur Terry Jacobs (regtervleuel) net voor rustyd het egter die weegskaal in Boishaai se kant laat kantel.
Aangevuur deur hul eerste kuier in die doelgebied, val HJS weer meedoënloos aan van die inskop af.
Was dit nie vir die bal wat hulle net voor die doellyn vorentoe verloor het nie, het hulle straks weer gedruk.
'n Strafskop aan Gim het egter verligting gebring vir die span van Noorder-Paarl.
Nadat Van der Merwe vroeg in die tweede helfte in die regterhoek oorgeduik het vir sy drie om die telling op 16-6 bring, was dit alles Boishaai.
HJS het totaal beheer geneem oor die wedstryd en 'n parmantige, koelkop skepskop deur Eben Heunis (losskakel) het Gim se probleme nog meer vererger.
Heunis se skopvoet het ook telkens sy span tot in die Gimmies se gebied gebring, terwyl kaptein Pieter Louw en sy pak die pap dik aangemaak het in die los en vaste fasette.
Met 13 punte verskil en niks wat na wense wil verloop nie, was die druk vierkantig op die Gimmies.
Die harde, fisiese stryd het by tye ook oorgespoel tot geniepsige spel met die skeidsregter wat gereeld moes hard praat.
Een so 'n voorval, waar die spelers mekaar langs die kantlyn gekarnuffel het en Gim se flank, Ashley Johnson, gestraf is, het Van der Merwe weer 'n kans na die pale gegee.
Die skop was net links verby, maar Van der Merwe vergoed gou weer daarvoor met 'n suksesvolle poging om die telling 22-6 te maak.
Kort voor die eindfluitjie word Johnson vir kopstampery uitgewys en kry hy 'n geelkaart vir sy moeite.
Van der Merwe slaag met die strafskop en bespreek so vir hom en sy span 'n plek in die rekordboeke.
Die ander uitslae is: o.14D Gim wen 16-10, o.14C wen 18-5, o.14B HJS wen 24-0, o.15C Gelykop 3-3, o.15B HJS wen 10-0, o.16D HJS wen 12-3, o.16C Gim wen 20-7, o.16B Gim wen 13-10, o.19H Gim wen 22-7, Gim wen 19-8, o.19F Gim wen 5-3, o.19E Gim wen 5-0, o.19D gelykop 3-3, o.19C Gim wen 7-6, o.19B Gim wen 26-8. |
 |
|
 |
 |
|
Klein Nederburg, New Orleans takel mekaar |
|
|
 |
DIE jaarlikse derby tussen Klein Nederburg Sekondêr en New Orleans Sekondêr kom Saterdag tot 'n hoogtepunt wanneer die hardebaarde mekaar in die o.19A rugbywedstryd die stryd aansê.
Heelwat kodes is al vandeesweek afgehandel. Vandag speel die vlugbalspanne om 14:00 terwyl die meisies mekaar op die bane pak wanneer die netbal om 14:00 begin. Die eerste netbalmeisies se wedstryd begin om 16:00 by Klein Nederburg.
Saterdag se rugby begin met die o.14A rugbyspanne wat om 10:00 op Faurestraat Stadion begin speel. Die o.15A's kom om 11:05 teen mekaar te staan en die o.16A spanne om 12:20. Die tweedespanne draf om 13:45 op die veld waarna 'n vrouerugbywedstryd om 15:00 begin.
Die voorstelling van die hoofde en eerste rugbyspanne is om 15:40 en die hoofwedstryd om 16:00. |
 |
 |
|
Kavaliers skop goed af in Absa- kompetisie |
|
|
 |
|
 |
 |
|
DIE Kavaliers het hul aanslag op die Absa-beker op 'n hoogtepunt begin deur die Valke in Springs met 29-20 te klop.
Hawies Fourie, afrigter van die Kavaliers, moes reeds verlief neem met die vertrek van Andries Human (stut, Blou Bulle) en Ernst Joubert (losvoorspeler, WP). Ryan Pickering (senter) en Piet Myburgh (slot) het albei vir Italiaanse klubs gaan speel nadat die Kavaliers nie vir die Curriebeker kon kwalifiseer nie.
Daar was sprake dat Chris Potgieter wat die Kavaliers die afgelope seisoen as kaptein aangevoer het, by die Arende sou aangesluit, maar hy het intussen besluit om by Boland aan te bly.
Fourie en sy span het egter Saterdag bewys dat hulle die teleurstelling reeds oorkom het en nou fokus om die Absa-beker in te palm.
Die staatmaker skrumskakel, Cassie Carstens, het weer die wa deur die drif help trek nadat die Kavaliers met rustyd 8-5 agter was.
'n Karaktervolle terugvegpoging waar Carstens en Pieter Terblanche drieë gedruk het, het egter die Kavaliers 'n waardevolle wegoorwinning besorg.
Die span van Wellington pak môre die Grens Bulldogs in die Boland en Fourie is vasbeslote om op Saterdag se vertoning voort te bou.
Volgens Denver Pienaar, spanbestuurder van die Kavaliers was die span se verdediging hul groot sterkpunt, terwyl hulle minder goed gevaar het in die lynstane.
"Ons het egter dié week baie aandag gegee aan ons lynstane en glo ons sal Saterdag skerp wees in daardie faset," het Pienaar gesê.
Volgens die bestuurder verwag hulle 'n harde aanslag van die Bulldogs waar gaan hulle poog om 'n aanvallende wedstryd te speel waar hulle maksimum punte kan insamel.
Die span is Antonius Verhoeven, Ashwell Rafferty, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, Warren Petersen, Daniel Philander, Cassie Carstens, Chean Roux (k), Kobus le Roux, David Hendricks, Henk Eksteen, Michael Noemdoe, Tommy Dixon, Conrad Burke en Pieter Terblanche. Wedstryd begin Vrydag om 16:00. |
 |
|
 |
 |
|
Netbal kry hupstoot met nuwe sub-streek |
|
|
 |
|
 |
 |
|
IN 'n poging om die netbal te bevorder in Paarl-Oos, het entoesiaste in dié deel van die Paarl bymekaargekom om die Paarl Drakenstein Sub-streek tot stand te bring.
Die groep het verlede week met Bennie Saayman en Rosie Gordon van Boland Netbal vergader rakende affiliasie by dié provinsiale liggaam.
Volgens Nicholas Fischer, woordvoerder van die Paarl Drakenstein Sub-Streek, het die rugbyklubs van Albions, Young Gardens, Riverstones, Young Peoples en Violets almal oor netbalspanne beskik.
"Ons wil weer netbal in Paarl-Oos vestig en daarna kyk om soortgelyke substreke op dorpe soos Hermon, Saron en Wellington tot stand te bring," het Fischer gesê.
Saayman het haar opgewondenheid oor die gebeure uitgespreek.
"Dit is vir ons baie goeie nuus dat julle netbal in die Paarl-area wil optel. Ons was 'n paar jaar gelede met lede van Paarl Plase in gesprek oor dieselfe kwessie, maar niks het daarvan gekom nie," het Saayman gesê.
"Daar is baie talent in die Boland, maar ons kan nie by almal uitkom nie. Ons is daar om netbal te dien en help graag," het sy verder gesê.
Saayman het die vergadering ingelig oor die vereistes vir Boland affiliasie wat insluit 100 geregistreerde spelers wat by die sub-streek sal speel, die registrasie van elke speler, 'n eenmalige registrasiekoste asook 'n verslag aan die einde van elke seisoen.
"Boland wil nie inmeng by die administrasie nie, maar as julle by ons geregistreer is, moet ons na julle omsien," het Saayman gesê en die groep ingelig oor die ontwikkeling wat die provinsie hul kan bied.
Ontwikkeling van spelers, afrigters, skeidsregters en beamptes sal gedoen word.
Die bestuur is ook ingelig oor die o.19 Spele wat op 13 September op Stellenbosch gespeel word. Volgens Saayman kan hul reeds 'n span vir dié toernooi inskryf mits hul registrasie gou afgehandel word.
Die bestuur van die substreek was gretig om so vroeg al betrokke te raak, en het gevra of daar voor dié toernooi 'n skeidsregtersessie aangebied kon word om spelers, afrigters en skeidsregters op hoogte te bring van die huidige spelreëls. Daar is besluit op 'n sessie op 6 September om 09:00 by Paulus Joubert Sekondêr.
Klubs en spelers wat belang stel om by die sub-streek aan te sluit, kan Francois Krotz skakel by 862-2124. |
 |
|
 |
 |
|
Paulus Joubert, NP pak mekaar in derby |
|
|
 |
DIE hoërskole Paulus Joubert en Noorder-Paarl kom op 14 Augustus teen mekaar te staan in hul jaarlikse derbystryd.
Vanjaar se derby val saam met die 50ste bestaansjaar van Noorder-Paarl en beloof om vol opwinding te wees.
Dié twee skole kom vanjaar vir die 38ste keer teen mekaar te staan en dit is dus een van die oudste derby's in die Paarl-omgewing.
Die derbyverrigtinge begin op 13 Augustus met 'n oud-studentewedstryd wat om 18:00 op Daljosafat gespeel word.
Bekende oud-studente soos Thinus Linee en Rudolf en Courtney de Wee is reeds genader om in die wedstryd uit te draf.
Verlede jaar is die algehele puntetrofee deur Paulus Joubert verower, terwyl die wedstryd tussen die eerste rugbyspanne gelykop geëindig het.
Oud-studente van Paulus wat in Woensdag se wedstryd wil speel, kan mnr September by 084-352-8229) skakel. |
 |
 |
|
Paarl Rangers klop hul bure |
|
|
 |
|
 |
 |
|
DIE span van Paarl Rangers het Saterdag vergoed vir hul nederlaag teen Franschhoek United in hul eerste ronde Premierliga B wedstryd deur dié span 15-10 op Daljosafat te klop.
Die besoekers het probeer om met kragrugby die ligter span van Rangers te oorrompel, maar die tuisspan het nie 'n duim teruggestaan nie.
Die besoekers het eerste bloed getrek toe Ivan Olivier ná 'n kwartier gaan druk het.
Rangers het egter kort daarna die voortou geneem toe Randall Pietersen agter die doellyn gaan kuier en Mark Adams verdoel het.
Laat in die eerste helfte druk Franschhoek se Louwin Jacobs om die rustydtelling 10-7 in hul guns te maak.
Vroeg in die tweede helfte maak die tuisspan sake gelyk toe Adams met 'n strafskop slaag.
Met slegs 10 minute oor, druk Johannes van Reenen om die Rangers die voorsprong te gee.
Ondanks hul desperate aanvalle, kon Franschhoek nie deur die tuisspan se verdediging breek nie en wen die Paarliete die kragmeting.
Rangers se tweede span verloor 34-12 en die derde span wen 3-0.
Young Gardens se wraak was soet toe die Rooi Rose Saterdag vir Temperance met 23-12 op City Park geklop het.
Dit was veral Gardens se agttal wat die grondslag vir 'n oorwinning gelê het.
Chrisbin Meyer, Rowan Fortuin en Neville Fortuin was voorlangs die groot uitblinkers.
In die agterlyn kon Anwar Daniels, speler van die wedstryd, nie 'n voet verkeerd sit nie en met sy kraglopies het hy die tuisspan se verdediging deurgaans getoets.
Chesley Theo en Joe Dirkse het ook goed vertoon.
Meyer en Ashley Jacobs het Gardens se drieë gedruk, met Theo wat met die doelskoppe en drie strafskoppe suksesvol was.
Gardens se vrouerugbyspan kom Saterdag 13:00 by Gardens Park te staan.
Albions het Saterdag sy tuisskare op goeie rugby trakteer deur Hamlets 26-20 te klop.
Die tuisspan het teen rustyd 8-3 voorgeloop danksy 'n strafskop en drie deur Alvyn Hugo (vleuel).
Hoewel ligter as die pak van Hamlets, het die Albions vyftal geensins teruggestaan nie. Daarby was die Paarliete se lostrio vinnig op enige losbal en het so goeie besit verseker.
In die tweede helfte het Albions die bal voortdurend voor hul voorspelers gehou. Hoewel Hamlets se losskakel hul heeltyd in die wedstryd gehou het met vyf strafskoppe, het drieë deur Gaimian Poggenpoel (senter) en Ashley Manuel (heelagter) die Paarliete die deurslag gegee.
Hugo se skopvoet het in dié helfte met 'n doelskop en drie strafskoppe geslaag om die wedstryd te beklink.
Hugo en Manuel is albei as spelers van die wedstryd aangewys.
Albions se tweede span wen 19-13 en die derde span verloor 31-12. |
 |
|
 |
 |
|
Roses lê goed op punteleer na hulle Brandvlei pak gee |
|
|
 |
|
 |
 |
|
'n Oorwinning oor Brandvlei Perseverance dié naweek het verseker dat Roses United op skuif na die vierde plek in die Boland Superliga A1.
Roses het die stryd 31-27 gewen nadat hulle rustyd 31-12 voorgeloop het.
Geniepsige spel wat in die spel ingesluip het en gebrekkige verdediging deur Roses het Wellingtonners swaar laat trek in die tweede helfte.
Roses se drieë is gedruk deur Danver Koert (slot), Henry Beukes 2 (vleuel), Devan van Wyk (vleuel) en Ricardo Williams (flank). Warren Apollis het met drie doelskoppe geslaag.
Die span se uitblinkers was Fernando Sauls (stut), Williams en Michael Abrahams (flank).
Met sy ster sewes-speler, Ranfred Dazel, aan die voorpunt en 'n agttal wat sake dikteer, het Newtons Saterdag daarin geslaag om Darling met 12-5 te klop.
Op Darling was dit die tuisspan wat eerste punte aangeteken het, ná puik tweedefase-spel hul tot in die doelgebied gebring het.
Ondanks die wind in hul ruê en hope gebiedsvoordeel was dit die laaste punte wat Darling kon aanteken.
In die tweede helfte maak Newtons gou hul stem dik, toe Vlam Davids (vleuel) druk en verdoel.
Kort hierna toon Dazel sy individuele briljantheid toe hy met 'n goeie langafstand-drie die telling op 12-5 te staan bring.
Roderick Demas (slot), Ronnie Lottering (stut), Mario Linnerts (agtsteman), flanke Clayton Hendricks en Francois Julies en Audiel Cassiem (vleuel) het ook vir Newtons uitgeblink. |
 |
|
 |
 |
|
Women's Day cycling event to be held |
|
|
 |
THE Boland Cycling Union will host a Women's Sports Project on Saturday, National Women's Day.
The project, called "U-Go-Girl" is part of the BCU development plan and aims to increase the number of women participating in and administering sport.
Saturday's programme starts at 14:00 at Foschini in Lady Grey Street.
A talk by sport biokeneticist, Lizel Wium, will follow at 14:15, with a cycling and skills clinic at 14:40.
A women's race stretching over some 20km will start at 15:00, followed by the presentation.
For more information contact Henry van der Merwe at 083-491-7063. |
 |
 |
|
Young stars verskiet teen Peoples |
|
|
 |
|
 |
 |
|
YOUNG PEOPLES het Saterdag in Groenpunt hul goeie vorm voortgesit toe hulle vir Young Stars met 34-22 geklop het. Die Tiere het rustyd 20-0 voorgeloop.
Die Paarliete het goed begin en Stars met vyftienmanrugby van sy voete af gespeel.
Die terugkeer van ysters soos Bradley Fortuin (flank), Brian Williams (stut) en Bernard Davids (agtsteman) het 'n reuse verskil gemaak, terwyl die agterlyn met kwaliteit balbesit hul klas gewys het.
Jody Davids (vleuel), Justin Fortuin (senter) en Sam Titus (losskakel) het met goeie spel die oog gevang, terwyl die jong skrumskakel Delwaine Cornelissen gewys het dat hy reg is vir groter dinge.
Kommerwekkend is dat Peoples in die laaste 30 minute die kluts kwyt geraak het en na beserings aan Bradley Fortuin en Cedric Williams (haker) het die tuisspan hard teruggeveg.
Die Paarliete sal egter moet besef dat daar vir die volle 80 minute gespeel moet word om te verhoed dat hul teenstanders nie by die agterdeur insluip nie.
Vir Peoples het Jody Davids, Justin Fortuin en Francois Manual drieë gedruk. Melvyn Hermanus het twee doelskoppe en vyf strafdoele oorgeskop.
Peoples B wen 36-0 en Peoples C verloor 10-0. |
 |
|
 |
 |
|
Two Paarlites play national basketball |
|
|
 |
 |
|
TWO Paarlites have been included in the Engen All Star basketball team that was chosen recently.
Jermaine Kermis and Nathaly September of Klein Nederburg Secondary School together with the rest of the All Star team were selected at the Engen 18 and under National Basketball Championship in Bloemfontein.
The All Star team will attend a training camp at the Sports Science Institute of South Africa in Cape Town this coming weekend as part of the Maestro's of the Future Programme.
The members of the All Star Team are also members of the newly selected boys' and girls' national squad.
The squad will undergo two more training camps after which a national boys' and girls' team will be selected to represent South Africa at the 2003 Engen African Challenge during October. |
|