|
DIE Kankervereniging van Suid-Afrika (Cansa) bied op Woensdag 20 Oktober, in samewerking met Paarl Medi-Clinic en Boland Kollege, 'n borskanker pretstap (ongeveer 5km) aan as deel van hul nasionale borskanker bewusmakingsveldtog.
Die wegspring is om 18:00 by die Paarlse stadsaal.
Oktober is Borsbewustheidsmaand - wanneer vroue leer hoe om hulle waardevolste bate te versorg en die belangrikheid begryp van die vroeë opsporing deur maandelikste selfondersoek en gereelde mediese ondersoeke, soos 'n jaarlikse mammogram ná die ouderdom van 40.
Borskanker is die nommer een kanker onder vroue wêreldwyd en is die tweede mees algemene kanker onder Suid-Afrikaanse vroue.
Huidige statistiek toon dat, onder alle bevolkingsgroepe, een uit elke 31 vroue in hierdie land die gevaar loop om borskanker te kry.
Alle vroue loop die gevaar om borskanker te kry, maar jy loop 'n groter risiko as jy ouer is as 40; 'n ma of suster het wat met die siekte gediagnoseer is; op 'n vroeë ouderdom begin menstrueer het; op 'n laat stadium deur menopouse gegaan het; kinders ná die ouderdom van 30, of glad nie, gehad het nie; meer as twee glase alkoholiese drank per dag drink.
Vroeë waarskuwingstekens sluit in 'n klont in die bors of armholte; 'n plooiing van die borsvel; 'n ongewone vergroting van die een bors; 'n ingesinkte tepel; 'n vergroting van die kliere; 'n verandering in die vel om die tepel; 'n ongewone swelsel in die armholte en een bors wat opmerklik laer as die ander is, met die tepels op verskillende hoogtes.
Belangstellende stappers word aangemoedig om so gou moontlik in te skryf. Inskrywingsvorms kan verkry word by Paarl Medi-Clinic of kan afgelaai word van: www. mediclinic.co.za.
Deelnemers kan op 18 en 19 Oktober by Virgin Active in die Paarl registreer, van 10:00 tot 15:00.
Op 20 Oktober kan mense van 10:00 tot 17:30 by die stadsaal inskryf. Inskrywingsgeld is R20 (studente, skoliere & pensioentrekkers R20).
Voltooide inskrywingsvorms kan ook gefaks word aan 023-347-1933 en inbetalings kan gedoen word by Absa Bank-rekening 911 954 2770 (Kansa Boland).
Kontakpersone: Alta Falck (865-2408), Juanita Kennard, (807-8000) of Marli Saunders (872-3323). |