|
MEER as 30 brandsiek honde is Dinsdag binne twee uur in Chicago in Paarl-Oos uit haglike omstandighede weggeneem.
Die siek honde is deur die Dierebeskermingsvereniging in woonstelle en agterplase in Springbok- en Gemsbokstraat aangekeer.
Hulle is dieselfde dag nog genadiglik uit hul seer gesit.
Die optrede Dinsdag is die eerste van 'n reeks wat deur Linda Groenewald en haar DBV assistente beplan word.
Kriminele klagte kan volg ná die ontdekking van die mishandelde honde en veral die optrede van 'n huisbewoner wat 'n kwaai reun op die hondevanger losgelaat het.
Munisipale werker Style Julies is gebyt en moes onmiddellik teen klem-in-die-kaak ingespuit word.
"Ek kan nie verstaan hoe diere in sulke omstandighede aangehou word nie," het Linda met haar arms vol babahondjies in Gemsbokstraat gesê.
"Die eienaars en huismense hou hulle net aan. Hulle word nooit aan geraak of gevryf nie, dis net 'n trap hier en 'n skop daar."
Volgens munisipale regulasie mag brandsiek honde nie aangehou word nie. Brandsiek is hoogs aansteeklik en gee aan mens en dier skurfte.
Die DBV het elke Maandagoggend om 12:00 tot 13:00 'n kliniek in Chicago en om 11:00 tot 12:00 by die Drakensteinbiblioteek waar honde teen R1 stuk gebad, gedip en ontwurm word.
"Dit is nie nodig dat honde só wreed behandel word en só moet ly nie," het Linda gesê. |