ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 7 October 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 14 October  2004 at 17:30

Sport

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

wNICKYfc

VOLSTOOM. Die Kavaliers se reserwe-slot, Nicky Smit, beur doellyn toe, terwyl drie Valke-verdedigers hom van stryk probeer bring. Die Boland het Saterdag op Wellington bo-oor die Valke gestorm deur hulle met 66-17 te wen. Kaptein Conrad Burke het 'n droomwedstryd gehad en vier van sy span se tien drieë gedruk, nadat hy reeds in die eerste helfte sy driekuns behaal het. Dié sege het die Kavaliers van 'n tuis-halfeindstryd verseker. Boland is nou bo-aan die Curriebeker Eerste Liga se punteleer met 35 punte. Die Grens Bulldogs teen wie die Kavaliers Saterdag in Oos-Londen speel, lê tweede met 32 punte.                                                                              


Kolfwerk praat hard

[ Top ]

Leon Steenkamp


AS die Wellingtonner, Jaco Conradie, eers met sy krieketkolf begin lostrek, dan kom selfs die polisie onder skoot.

Conradie het juis weer Saterdag in die eerste wedstryd van die seisoen sy slaankrag behoorlik ten toon gestel toe hy 124 gemoker het.

Hoewel die telling nie 'n buitengewone groot totaal is nie (hy het al self meer as 140 gemoker), is die ses grenshoue en veral die 13 sesse beslis nie iets wat mens elke dag aanskou nie - én daarom is sy 124 in slegs 54 balle gemoker.

"The Big Show" soos hy onder sy spanmaats bekend staan, het die ankerrol gespeel vir Wellington se tweede krieketspan tydens hul wedstryd teen Paarl-Oos wat Saterdag op New Orleans beslis is.

Dié kaptein van die tweedespan se pragbeurt is egter beëindig toe hy op pad na sy 14de ses uitgevang is.

"Ek sê nog steeds, ek was nie uit nie. Ek het net begin moeg raak en kon nie meer die bal so vêêêr buite die grens slaan nie," skerts Conradie vandeesweek oor die veldwerker wat skynbaar met een voet binne en die ander buite die grens, die vangskoot geneem het.

Conradie is veral tevrede met sy vertoning aangesien dit die eerste speelbeurt met sy nuwe kolf is. Dié wilgerlat het hy spesifiek vir homself laat maak in Kaapstad, omdat die "ander kolwe te lig is" vir hom.

Dié donderstok het blykbaar 'n "sweet spot" wat 'n vreugde is. "Meeste van daardie houe het ek net rustig van die agtervoet af gespeel," sê hy met 'n glimlag.

Vir dié groot man maak dit nie sin om op en af te hardloop as jy sulke groot houe in jou arsenaal het nie.

Dit is dan ook juis die rede hoekom tydens 'n vorige wedstryd teen Malmesbury 'n polisievangwa moes terug piekel stasie toe - met 'n stukkende voorruit.

Maar terug by die wedstryd.

Vroeër die dag het Paarl-Oos 251/7 in hul 60 boulbeurte aangeteken.

Hier was dit Garth Lewis (96) wat die groot kanon was. Lewis wou egter sy honderdtal met 'n ses tegemoet storm, maar pleks van gelukwense was dit die dowwe plonk van skoongeboulde paaltjies wat sy ore begroet het.

Die 15-jarige Tiaan Cloete, wat vir New Orleans Sekondêr se o.19A-span speel, het goed ingeklim met die kolf en 60 lopies gemoker.

Werner Erasmus het ook 'n waardevolle 21 lopies bygedra.

Danksy Conradie se groot totaal en goeie bydraes deur Morné Saterdag (31), en Hein Seconds (28nun) het Wellington 253/7 in die 52ste boulbeurt behaal.

Mario de Kock (3/41 in 15BB, 5 leeg), en Justin Watts (2/79 in 15BB, 2 leeg) was die Paarliete se beste boulers.

Op Wellington het dié klubs se eerste spanne mekaar die stryd aangesê.

Paarl-Oos word ingestuur en slaan 'n respektabele 270/6.

Rosslyn Jephta (70 4x13, 6x1), kaptein Jackie Daniels (47nun 4x4), Bruce Muller (42 4x8), Mark Borchards (39nun 4x4) en Zynodien Fredericks (35 4x5) het goed gespeel.

Die tuisspan kry 159/6 ná hul toegelate 60 boulbeurte.

Godfrey Stevens (56 4x4) en Warren Groeneveld (41 nun) was die top lopiemakers, terwyl Elroy Abrahams (2/30 in 15BB) en Waylin September (1/30 in 15bb) Paarl-Oos se paaltjies geneem het.

Die besoekers kry dus die meeste punte vir 'n wen-gelykopuitslag.

Saterdag speel Paarl-Oos I tuis teen Oostelikes. Die tweede span speel weg teen Oostelikes II, terwyl die derde span vir Spes Bona op New Orleans pak.


Albions, Peoples pak mekaar in Super 4-finaal

[ Top ]


DIE rugbyspanne van Young Peoples en Albions pak mekaar môreaand in die eindstryd van die Super 4-toernooi, nadat hulle onderskeidelik met Paarl Rangers en Young Gardens afgereken het.

Die eindstryd behoort 'n gelyke en taai stryd te wees. Peoples het vanjaar net-net relegasie na die tweede liga ontduik terwyl Albions op hul beurte weer die tweede liga gewen het.

In dié konteks behoort daar dus min te kies te wees tussen die twee.

Albions, die verdedigende Super 4-kampioen, het egter vir Peoples in hul laaste twee ontmoetings geklop en toeskouers kan beslis 'n aanskoulike eindstryd te wagte wees.

In verlede week se halfeindstryd het Peoples vir Rangers 29-3 geklop.

Peoples se groot pak voorspelers het die beduidende rol gespeel.

Met hul eie pak onder druk het Rangers se gevaarlike agterlyn die bal voortdurend op die agtervoet gekry - 'n situasie wat met groot genot deur die Tiere se agterlynverdediging uitgebuit is.

Hoewel daar by tye te veel geskop is, is die toeskouers ook op mooi hardlooprugby en dodelike dryfwerk deur die Tiere-pak getrakteer.

Peoples se vyf drieë is deur Bernard Davids, Leon Williams, Ben Martin, Charles Booysen en Barry Williams gedruk. Martin en Davids het elk 'n doelskop behaal.

Claude Arendse het vir Rangers 'n strafskop deur die pale gejaag.

In die tweede halfeindstryd het Albions vir Young Gardens 30-18 kafgedraf.

Young Gardens het die wedstryd teen 'n geweldige tempo begin maar namate hul wind opgeraak het, het Albions begin beheer oorneem.

Drieë deur die vleuels, Alvin Hugo en Elrico Pietersen, asook 'n straf- en doelskop deur Ashley Raubenheimer (skrumskakel) het Albions teen rustyd 15-3 laat voorloop.

Soos gewoonlik was Albions se lostrio, onder leiding van Jenovan Cornelissen weer puik en is die punte in die tweede helfte nog verder opgestapel.

Pietersen en Hugo gaan kuier elkeen nog 'n keer agter die doellyn terwyl die flank, Yulin Claasen ook gaan druk.

Gardens se drieë is deur Jeremy Kohkom en Anwar Daniels gedruk. Randall George was in die kol met twee strafdoele en Tino Prins behaal sukses met 'n doelskop.

Die plaateindstryd begin môreaand om 19:00 met die hoofwedstryd om 20:30.


Kompetisie sterk in Paarl Post sport-kroon

[ Top ]


DIE beoordelaars het besluit, die uitslae is terug en die 12 finaliste vir die 2004 Paarl Post Sportlui van die Jaar-kompetisie is bekend.

Oudergewoonte was die sterkste kompetisie in die twee junior afdelings, met prestasies in sporte wat strek van toutrek tot Taekwondo.

Die drie finaliste vir die junior vroue-toekenning is Shirlynn Smith (hokkie en atletiek), Magdalene Nicholson (fietsry) en Madri Burger (biathle en tweekamp).

Die mededinging onder die junior manne was selfs kwaaier, maar ongelukkig kon daar net drie finaliste wees. Hulle is Ashley Johnson (rugby), Maahir Moerat (Taekwondo) en Randall April (rugby en krieket).

Die drie ystervroue wat vanjaar sake tot op die laaste uitgespook het, is Ronél Beukes (atletiek), Lerine Bester (biathle en tweekamp) en Dianthia Thyssen (netbal).

Die beoordelaars se drie gunstelinge vir die senior sportman van die jaar-toekenning was Waylin September (krieket), Dawie van der Walt (gholf) en Sors Joubert (tienkamp).

Die wenners word Maandagaand aangewys.


Nuwe liga wil fietsryers oplei

[ Top ]


ONTWIKKELINGSRYERS kan solank hul reg wikkel in hul saels, want die naweek hou Yorkshire Fietsryklub 'n baanbyeenkoms spesifiek gemik op beginners.

'n Ontwikkelingsliga-byeenkoms sal môreaand om 19:00 by Faurestraat Stadion gehou word.

Die klub poog om met dié byeenkoms beginners die kans te gee om gewoond te raak aan items soos enkelagtervolging, puntewedrenne en tydtoetse wat die jaers beter sal voorberei vir kompetisie op hoër vlak.

"Die klub sien ontwikkeling as 'n prioriteit en juis daarom is die liga geskep," sê Ian Goetham van Yorkshire Fietsryklub.

"Ons nooi alle skoliere met enige soort fiets om aan dié liga deel te neem. Ons het veral die ondersteuning van die skole nodig en leerlinge wat belang stel, is welkom om deel te neem," sê Goetham.

Fietsryers kan vanaf 18:00 gratis inskryf, waarna die klub se afrigters die basiese beginsels en vaardighede van fietsry aan die jong klomp sal oordra.

Dit is egter nie uitsluitlik 'n ontwikkelingsbyeenkoms nie en geregistreerde ryers sal ook in aksie wees.

Die drie jaers in die top drie plekke in elke wedren sal kwalifiseer vir ligapunte.

Verdere ligabyeenkomste word beplan vir 15 en 22 Oktober asook 5 November. Die Yorkshire Baanbyeenkoms word op 30 Oktober om 14:00 gehou.

Navrae: Ian Goetham 083-949-4501 of 862-5670.  


Oukraal, Hopefield is bobaas

[ Top ]


DIE spanne van die Oukraal en Hopefield jukskeiklubs was Saterdag te sterk vir die res van die kompetisies tydens die Hermanus le Roux-toernooi in die Paarl.

Die Oukraal Jukskeiklub, gasheer van die toernooi, het sowel die A- as die B-afdelings met 44 en 51,5 gewen.

Nog 'n Paarl-klub, Labori, was weer tweede in albei afdelings (43 en 46,5) terwyl Fleur-de-Lis (39) van Wellington en Groenberg (34,5) van Sandbaai derde was in die A- en B-afdelings.

Die doel van die toernooi is die verering van 'n legendariese jukskei-Springbokkaptein, 'n fondsinsameling, en die verdere keuring van die junior Boland-spanne.

Die jonger spelers het Saterdag goeie ondervinding opgedoen. Hulle het nog net een kans om die keurders te beïndruk voor die Boland-span gekies word vir die SA Juniorkampioenskappe op Kroonstad in Desember, en dit is tydens Saterdag se Openingstoernooi op Sandbaai.

Twee spanne van die Hopefield Jukskeiklub het die C1- en C2-afdelings gewen met tellings van 48,5 en 52,5.

In die C1-afdeling was die Boland o.14-seunspan tweede met 41, gevolg deur die Boland o.19-seunspan derde met 39,5.

Kleinmond (38,5) was tweede in die C2-afdeling gevolg deur die Boland o.19-meisiespan met 38.


Winterspele in Paarl

[ Top ]


DIE Boland streek se Winterspele word Saterdag in die Paarl gehou.

Spelers sal in sewesrugby, hokkie, netbal, sokker, en tafeltennis heeldag teen mekaar meeding.

Die spele dien as proewe vir die Provinsiale Winterspele wat vroeg volgende jaar gehou word.

Die program: Rugby en sokker (Boy Louw-velde), netbal (Daljosafat stadion), tafeltennis (Ambagsvallei sportsaal). Die hokkiewedstryde sal op 16 Oktober op die Parysvelde gespeel word.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@paarlpost.co.za  

[ Top ]