|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
'n Man wat Saterdag aan die onderpunt van Hospitaalstraat langs die rivier op 'n stomp gesit het, het iets vreemds teen 'n graspol aangespoel gesien. Hy het eers gedink dit was 'n dooie dier, maar het na die naaste woning gehardloop om die polisie in kennis te stel toe hy besef het dis 'n kind se liggaam wat hy half onder die water sien. Polisiemanne het dadelik die walle van die rivier deursoek, maar kon geen teken van die boetie vind nie. 'n Twaalfjarige is Sondag in hegtenis geneem nadat hy glo gespog het oor die verdwyning van die kinders. Die verdagte - sy ouers woon in Wellington, maar hy lewe saam met haweloses onder die Markstraatbrug - het Karen se hemp aangehad toe hy in hegtenis geneem is. Gisteroggend het 'n veertienjarige van Paarl-Oos homself aan die polisie oorgegee. Net soos die ander verdagte, word ook hy gereeld deur die Paarl polisie in hegtenis geneem vir klagte van diefstal en huisbraak uit motors en wonings in die dorp. Hulle is nooit aangehou nie, maar deur die hof in die sorg van hul ouers uitgeplaas. Die veertienjarige het vertel hoe hy ook Dinsdag daar was toe die kinders in die water geslinger is, glo saam met 'n rooi fietsie. Maandag het polisieduikers met 'n opsporingshond en twee rubber roeibote die rivier tot in Noorder-Paarl gefynkam op soek na Brendon se liggaam. Die reën van die naweek het die rivier sterk laat vloei en die soektog bemoeilik. Duikers en honde sal vandag verder soek. Die seun was bekend op Jan Phillipsplein in die middedorp, waar hy met hartseer ogies by motoriste om geld gebedel het. Sy pa Carolus, 'n motorwasser op die parkeerterrein, is onlangs tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis op 'n aanklag van aanranding. Die hartseer nuus dat twee van sy kinders gesterf het, is Maandag aan die pa in die Allandale Gevangenis oordra. Die een verdagte is hierdie week deur die Paarl hof na die Lindelani bewaarplek vir jeug in Koelenhof verwys terwyl die ouer seun nog in Wellington aangehou word. * A girl (5) drowned and her brother (8) is presumed dead after they were pushed into the Berg River. |
|
|
|
|
DIE Franschhoek speurdiens het onlangs 'n slag geslaan tydens 'n misdaadoperasie in die plakkersgebiede. By twee wonings in Langrug plakkerskamp het die speurders op vyf emmers reeds verpakte en los dagga sowel as twee plastieksakke vol dagga, beslag gelê. Verder is daar ook op twaalf pakke dagga, twintig liter papsakke wyn asook R3889 kontant beslag gelê. 'n Vrou is hier gearresteer op klagtes van handel in dagga en drank. By die woning te Vietnam plakkerskamp is daar op vier Mandrax tablette en agt halwe Mandrax tablette beslag gelê. Twee mans, Quinton Gabriels (32) en Frans Williams (67) is in hegtenis geneem vir die besit van Mandrax tablette. Drie persone is ook op lasbriewe gearresteer en twee op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Almal het op 24 Oktober in die Paarlse landdroshof verskyn. Dié operasie het onder leiding van insp Jaco van der Bank, bygestaan deur insp Jeff Roziers (misdaadvoorkomingshoof), plaasgevind. Die ander drie lede van die speurdiens was insp Salie Jonkers, sers Lood Muller en konst Bongo Mnonopi. * Franschhoek police made a drug haul during an anti-crime operation. |
|
|
|||||||||||||
|
Dit was Drakenstein raadslid Solomon Ross (NNP) se reaksie nadat hy Donderdag 'n koeël in 'n koevert ontvang het. Die koevert, wat aan Mnr S Ross gerig was, is deur die posafdeling van die Drakenstein Munisipaliteit ontvang en is na die bodes gestuur vir aflewering. 'n Bode, Alfin Wilson, het onraad bemerk en die koevert oopgemaak. "Ek het net my vrou gaan oplaai by haar werk, toe Wilson my bel om te sê daar is 'n probleem," vertel Ross. Hulle is Munisipaliteit toe, waar hy self aan die koevert gevoel het, maar dit nie weer oopgemaak het nie. "My vrou en kinders was verskriklik ontsteld oor die voorval," het Ross, self sigbaar geskok, gesê. Die polisie het die koevert en koeël geneem vir vingerafdrukke en ondersoek nou 'n saak van intimidasie. Intussen het Johnny Schippers, LP vir Drakenstein, in 'n verklaring gesê die NNP beskou die saak in 'n baie ernstige lig. "Ons vertrou dat die SAPD die saak indringend sal ondersoek en die skuldiges spoedig sal opspoor. "Die dreigement, van 'n onbekende persoon, is 'n sein uit die gemeenskap wat nie ligtelik opgeneem moet word nie, aangesien elke raadslid se lewe en dienste aan die gemeenskap belangrik geag word. "Die NNP betreur die voorval en doen 'n beroep op die gemeenskap om hul samewerking aan die polisie te gee." Enigeen met inligting kan speurinspekteur Danie Viljoen skakel by 807-4000. * A Paarl councillor was upset by a mysterious envelope containing a bullet. |
|
|
|||||||||||||
|
VIER ure van swoeg deur 'n agenda van meer as 120 bladsye kan Drakensteiners laat hoop dat die stadsraad tog nou weer 'n slag aan die werk is. Die eerste vergadering van die nuwe uitvoerende komitee van die munisipale raad het Maandag plaasgevind en behalwe die nuutgekose lede was daar ook heelwat belangstelling van ander raadslede. Binne die komitee het die NNP en ANC maar versigtig gevoel-voel aan die grense van hul nuutgevonde alliansie, terwyl Koos Louw van die DA hom duidelik op 'n baie verlate en eensame eiland bevind. Een van die eerste sake waaraan die komitee aandag gegee het, was die verkiesing van voorsitters vir die verskillende portefeuljekomitees. Soos vermoed, het die ANC en NNP die agt poste gelykop tussen hulle verdeel, met die DA wat op die wal moes bly staan. Die ANC portefeuljes is Finansies (Sikhumbuzo Mgajo), Sosiale & Ekonomiese Ontwikkeling (Anthea Sheldon), Ekonomiese Dienste & Publieke Werke (Ndodomzi Mkabile) en Menslike Hulpbronontwikkeling (Nomthandazo Stemela). Die NNP is verantwoordelik vir Korporatiewe Dienste (André vd Spuy de Villiers), Veiligheid & Sekuriteit (Deon Swart), Gemeenskapsdienste (Bokkie Claasen) en Beplanning & Behuising (Bernardo Maralack). Die pligte en verantwoordelikhede van die komitees sal by 'n volgende vergadering bespreek word. 'n Raadsvergadering word vanmiddag om 16:00 in die Drakensteinkamer gehou om sake af te handel. * Drakenstein town councillors are holding marathon meetings to catch up on their work. |
|
|
|
DIE Raad van die Boland Distriksmunisipaliteit is Maandag hersaamgestel nadat stadsrade nuwe afgevaardigdes benoem het. Die ANC het nou 'n meerderheid van 16 uit die 36 raadslede, gevolg deur die NNP (12), DA (5) en UDM en ACDP met een elk. Die veranderinge is onder andere veroorsaak deurdat Harlan Cloete en Edmund Pheko van die ACDP na die ANC oorgeloop het en raadslid dr Norman Kahlberg van die AFC na die ACDP. Clarence Johnson (ANC) en Dirk Oosthuizen (NNP) is herkies as burgemeester en onderburgemeester onderskeidelik. Doreen Hani (ANC) is verkies as Speaker in die plek van dr Kobus Victor (NNP). Die ander lede van die Uitvoerende Komitee is Appollis Solomons (ANC), Deon Adams (ANC), Edmund Pheko (ANC), Neil Hamman (NNP) en Marion Julius (DA). Drakenstein raadslede wat nie meer in die Distriksraad dien nie, is Bernardo Maralack, Pele Mgajo, Anthea Sheldon en Rina Smit. In sy intreerede het Johnson daarop gewys dat die nuwe koalisie tussen die ANC en NNP daartoe verbind is om ekonomiese en sosiale ontwikkeling te bevorder, armoede aan te spreek en eenheid onder die inwoners van die Boland te bewerkstellig. "Alhoewel dit nie maklik gaan wees nie, is die teenkanting teen die skepping van 'n verenigde Boland besig om te verdwyn," het hy gesê. Die raadslede wat deur Drakenstein Munisipaliteit afgevaardig is, is Appollis Solomon, Boniswa Sishuba, Matty Paulse, Harlan Cloete (almal ANC); JT Basson en Chris Leander (NNP); en Marion Julius en Johan van Wielligh (DA). Mike Mgajo (ANC) en John van Eeden (NNP) is direk verkose. * The Boland District Council now has a new speaker and executive committee. |
|
|
|
|
'n JEUGDIGE plaaswerker van Wellington is skuldig bevind aan die moord op die bejaarde boer by wie se woning hy byna twee jaar gelede ingebreek het. Elton Smit (19) word op 2 Desember vir die huisbraak, diefstal van drank en die moord op Ernst Neuenschwander (83) in die Kaapse Hooggeregshof gevonnis. Daar is die oggend ná die moord in Januarie 2001 op die wingerdplaas Panorama by die arbeiderswonings beslag gelê op 'n bebloede byl. Neuenschwander het in sy slaapkamer aan wonde aan sy nek gesterf. Sy vrou, Trudie (81), is nie in die aanval beseer nie, maar is ses maande na die tragedie oorlede. Terwyl die moordenaar verlede week kalm die regter se beskuldigbevinding aangehoor het, het sy familielede in die hofbanke flou neergeslaan. Smit het tydens die hofsaak, wat drie weke lank aangehoor is, gereeld vir die ondersoekbeampte geknipoog en arrogant op vrae van die staat geantwoord. Alhoewel die Neuenschwander gesin uitsien na vonnisoplegging wat die einde van hul maandelange trauma sal beteken, is hulle en die ondersoekbeampte, insp Karel Rossouw, tevrede met die uitspraak. Die regter het die beweringe van die aangeklaagde dat hy net ingebreek het, verwerp, terwyl die getuienis van die staat aanvaar is. Vonnisoplegging sal volg ná insae in 'n proefbeampteverslag. * A farm worker (19) has been convicted of murdering a Wellington farmer two years ago. |
|
|
|
|
GERADBRAAKTE Engels ten spyt, het die dertig nooddienswerkers van Kosovo hul opleidingstyd in die Paarl terdeë geniet. "Hier en daar kom daar selfs 'n paar Afrikaanse woorde deur," vertel Hennie Fouché, voormalige brandweerhoof van Drakenstein en leier van die groep. Die studente, almal Albane van Kosovo, 'n provinsie van die oorlogverskeurde Joego-Slawië, het die afgelope week opleiding in Drakenstein, Kaapstad en ook by die Nasionale Seereddinginstituut ontvang. Daar is veral na brandbestryding en openbare reddingswerk gekyk. Fouché is al sedert 2001 deeltyds betrokke by Kosovo se nooddienste en het onlangs bedank om 'n voltydse pos daar te aanvaar. Sy eerste kontak met Kosovo was gedurende sy termyn as president van die SA Nooddienste Instituut van 1999 tot 2001 toe 'n span van Kosovo aan die reddingskompetisie by die wêreldkongres deelgeneem het. Hulle het met hom gesels oor hulp en in Augustus 2001 is Fouché Kosovo toe om te kyk na soek-en-redding, brandbestryding, chemiese gevalle en noodmediese dienste. Hy het onder meer, as deel van die Verenigde Nasies Vredesmag, 'n program ontwikkel om voormalige soldate van die bevrydingsmag op te neem in 'n beskermingsdiens. "Dit het groot sensitiwiteit en empatie gekos, want die soldate moes gedemilitariseer word, waarna hulle geëvalueer is vir diens." Vroeër vanjaar het Fouché besluit om te bedank by Drakenstein en voltyds Kosovo toe te gaan. Hy is verantwoordelik vir die ontwikkeling van opleidingsmateriaal. Hy deel 'n huis met nog twee Suid-Afrikaners, wat die opleiding doen. Deel van die program is om elke drie maande 'n groep van die studente na 'n ander land te neem vir opleiding. "Dit is vir my 'n groot uitdaging en dit is wonderlik om die mense se waardering te sien." Fouché het ook groot empatie met die ontwrigte Albane en Serwiërs. "Daar is niks wat 'n land so vernietig soos 'n burgeroorlog nie - dit is verskriklik as burgers van een land vir mekaar bang is. "Ek kan die emosies wat ek ervaar het, nie in woorde omskryf nie." Intussen is Fouché se vrou, Marlene, besig om planne te maak om haar volgende jaar by hom aan te sluit. * Former Albanian soldiers involved in the war in Kosovo are being retrained as rescue workers. |
|
|
|
|
VYF treinrowers van Klapmuts is verlede week elk tien jaar gevangenisstraf opgelê toe hulle in die Paarl streekhof verskyn het. Stanley and Steven Klaasen (18), Anton and André Paulsen (19) en Geoffrey van Rooyen (29) is op 20 Junie in hegtenis geneem nadat hulle pendelaars beroof het. Die mans het die middag om 15:50, kort voor die Klapmuts spoorwegstasie, messe uitgepluk en pendelaars in 'n wa van selfone, sonbrille, juweliersware en kontant beroof. Hulle het op die Klapmuts stasie uitgespring en verdwyn. Inligting van die publiek het die polisie na hul wonings gelei waar hulle in hegtenis geneem is. Van die geroofde items is teruggekry. "Die vonnis wys dat die polisie en die howe ernstig is in die stryd teen misdaad," het tevrede polisiemanne van Klapmuts gesê. * Five train robbers from Klapmuts have each been sentenced to ten years in prison. |
|
|
|
|
SES jeugdiges van die Paarl is die naweek in hegtenis geneem op aanklagte van moord, gewapende roof en diefstal. 'n Twaalfjarige is aangekla van die moord op 'n boetie en sussie wat in die Bergrivier verdrink het (sien bl 1). Vier van die seuns (16 en 17 jaar oud) is aangekla van rooftogte by die Daljosafat spoorwegstasie. Die jeugdiges, almal van Chicago, voldoen ook aan die beskrywing deur slagoffers van rooftogte in Paarl-Oos. Jeugmisdadigers word by die dag arroganter, sê 'n polisie-woordvoerder. "Wees bedag op groepe jeugdiges wat in woonbuurte ronddwaal. Hulle rig eenvoudig vuurwapens op voetgangers en huisbewoners en beroof hulle dan." Koperkrane en -pype by wonings is 'n trekpleister en loop deur onder die hande van jong diewe. Die polisie waarsku ook die publiek om op hul hoede te wees wanneer hulle pakkies in hul motors laai terwyl jeugdiges hulle aandag aftrek en hul maats die voertuig stroop. Kontak kapt Leon Laubscher (807-4000) of insp Michelle Spies (807-4204) met inligting. |
|
|||||