|
Albei oud-Gimmies, is Jean (22) nou 'n Springbok-senter en André-Louis, wat o.19 Springbok gespeel het, speel nou op Stellenbosch voorry.
André-Louis (23) weet wat hy - eendag - in 'n trou-vrou wil hê.
"Sy moet beslis wil kinders hê, 'n sin vir humor hê, nie te lelik wees nie en verkieslik donker hare hê."
En met die lag wat maar nie kan wegbly nie, las hy by: "'n Lady in public..." Ma skud net haar kop. Sy ken haar seun se sê-goed.
"André-Louis sal die beste man wees vir die regte vrou. Hy is baie charming. Hy kook so lekker kos."
En André-Louis gooi sy stuiwer in die armbeurs: "Dis my Ma wat my geleer het om te kook."
Louise kry weer 'n woord in: "Jean hou daarvan om bederf te word."
En wat sê Jean? "Ek soek net geld," spot hy. "Nee, eintlik moet sy blond wees, welbedeeld, 'n mooi lyf, 'n pret-mens, lewenslustig en grapmakerig, net nie sedig nie."
En dan stem hulle oor een aspek van die trou-vrou saam: "Sy sal maar nes ons ma wees, met 'n sterk persoonlikheid en intelligent."
Louise was glo maar kwaai met haar twee seuns.
"Hulle was verskriklik besig toe hulle klein was, het vroeg geloop, altyd woelig.
" En toe hulle ouer word, nog altyd vol dinge. André-Louis wou nie slaap nie, en Jean wou nie leer nie," vertel sy.
Toe hulle onderskeidelik in graad 11 en 12 was, moes hulle nog buk vir die strop.Dit was toe sy agtergekom het hulle steek die geld vir na-skoolse wiskundelesse in die sak, en gaan eerder rugby oefen.
"Hoe meer sy geslaan het, hoe meer het ons gelag," onthou die twee.
"En hoe kwaaier het ek geword," onthou Louise die laaste pak slae.
Eintlik het hulle vir hul eiendomsagent-ma en hul pa, stadsraadslid André, net plesier gegee. Die gesin het 'n oop verhouding en praat hul probleme om die tafel uit.
"Ons wag eers dat die humeure afgekoel het, en dan weet hulle, hulle kan enigiets met ons bespreek.
"Dit help met jou opvoeding, en dis die sukses van ons verhouding - hulle kan enigiets sê of bespreek," vertel Louise.
"Ons was oopkop, maar 'n mens is maar altyd bang iets gebeur met hulle, of dat hulle die verkeerde besluite neem, en daarom was sekere dinge nie onderhandelbaar nie," sê Louise.
"Ons het altyd die ander se oogpunt in ag geneem," meen André-Louis. "En ek begin nou agterkom dat wat my ouers vir ons gesê het, waar was."
En Jean las ewe volwasse by: "Hulle was mos al daar. Hulle weet."
Dan kyk hulle so onderlangs na hul ma, steeds die belangrikste meisie in hul lewe - tot die trou-vrou oor die drumpel kom.
"Behalwe dat sy vir ons daar is wanneer ons geld nodig het," spot Jean, "is sy altyd daar wanneer ons 'n probleem het en hulp nodig het."
So sê hulle in een van die min ernstige oomblikke tussen ma Louise se twee manne met die duiweltjies in hul oë. |