|
|
 |
Sport |
|
Sekondes te laat |
 |
Leon Steenkamp |
 |
|
|
 |
 |
|
SLEGS drie sekondes het die wenner van verlede jaar se Safari Halfmarathon, Thembelani Zola, verhoed om Donderdag dié prestasie op Wellington te herhaal.
Zola van Mbekweni en sy Mr Price-spanmaat, Makhosonke Fika, het deur die hele wedloop waaraan sowat 5000 atlete deelgeneem het, op mekaar se hakstene gelê.
Neo Molema, ook van Mr Price, was tot net voor die 8km-merk ook 'n aanspraakmaker, maar is agtergelaat toe Fika en Zola die pas versnel het. |
 |
 |
|
Die Paarliet het self probeer om op die afdraande die voortou te neem, maar Fika het hardnekkig bly klou.
Met 15km agter die rug het Fika teen 'n opdraande weggebreek, maar is kort daarna weer deur Zola ingehaal.
Die twee het die 21km-merk saam-saam oorgesteek, maar teen die afdraande van Bainstraat het Fika met sy naelloop na die wenpaal begin.
Sy eindpoging was te sterk vir Zola en hy breek die lint in 65:20. Zola volg drie sekondes later met Molema derde in 66:48.
Fika is onlangs deur mangelontsteking vir twee weke lamgelê en het die wedloop op Wellington gebruik om sy kragte te toets.
Die 23-jarige Bulelwa Mtshagi van Mr Price Celtics het die vroue-afdeling gewen in 'n tyd van 79:09, gevolg deur Norma Nonkonyana (Adidas) 81:34 tweede en Lauren Weyer (Mr Price Maties) derde met 'n tyd van 83:47.
Stoffel Arendse was die eerste atleet van Wellington Atletiekklub wat die wedloop voltooi het. Hy het in die 170ste posisie klaargemaak in 'n tyd van 73:31.
Louise King (3106de) was die eerste Wellington vrou oor die wenstreep. Haar tyd was 1:47:12. |
 |
|
|
|
 |
Sewesrugby-aksie ontplof in Paarl |
|
|
 |
|
 |
DAAR word dié naweek geen WP rugbyligawedstryde gespeel nie, maar geesdriftige ondersteuners kan hul regmaak vir top hardloop-rugby wanneer Young Peoples Rugbyklub se jaarlikse Sewestoernooi môreaand op Daljosafat-Stadion gespeel word.
Dié gewilde toernooi is 'n hoogtepunt op die plaaslike rugbykalender en oudergewoonte sal agt plaaslike klubs mekaar die stryd aansê in wedstryde van 14 minute elk.
Paarl Rangers Rugbyklub neem ná 'n afwesigheid weer deel en word saam met Albions en Riverstones as die gunstelinge beskou.
Daarby spog Young Gardens, Laer Paarl, Young Standards en Paarl Violets ook met goeie toernooi-rekords.
Die gasheerklub, Peoples, sukkel gewoonlik in die seweman-kode en het in die toernooi se 13 jaar nog net een keer gewen. Die Tiere sal dus moet uithaal en wys as hulle met die beker wil spog.
Die aanskoulikheid van die wedstryde word verder verhoog deur 'n eerste-puntebeleid. Dit beteken dat in 'n gelykopwedstryd die wenner beslis word sodra die eerste punte aangeteken word.
Die ys word gebreek wanneer Violets en Laer Paarl om 19:00 in die eerste wedstryd teen mekaar te staan kom.
Daarna sal Albions teen Rangers (19:20), Riverstones teen Peoples (19:40) en Gardens teen Standards (20:00) speel.
Die plaat- en bekereindstryde volg om 21:30 en 21:50. |
 |
|
|
|
 |
Rangers klop Gardens in naelbyt-stryd |
|
|
 |
|
 |
IN 'n wedstryd met min hoogtepunte, maar volop spanning het Rangers daarin geslaag om Young Gardens met 15-13 (10-7) te klop.
Die humeure het by tye opgevlam met die skeidsregter wat in albei helftes twee geelkaarte aan elke span uitgedeel het.
Rangers het eerste punte aangeteken toe skrumskakel, Mark Adams, met 'n strafskop slaag.
Die voorsprong was van korte duur, tien minute later druk Gardens se Jeremy September (stut) onder die pale met losskakel Chesley Theo wat verdoel.
Adams druk en verdoel self om die rustydtelling op 10-7 te bring.
'n Kwartier in die tweede helfte druk Kevin Pietersen (flank) vir Rangers ná 'n Gardens-lynstaan 10 treë van Gardens se doellyn.
Theo hou Gardens in die wedstryd met nog twee strafskoppe. Rangers behou egter die druk vir die wen.
* Paarl het hul eerste nederlaag van die seisoen gely toe Harlequins hulle met 24-5 laat les opsê het. Kaptein John Claasen het die besoekers se enigste drie gedruk.
Die o.21 span het 'n goeie 46-10 oorwinning oor SK Walmers behaal, deur veral voorlangs te oorheers.
Jan de Lange (slot), stutte H Zandberg en Johnny Haines, Jean van der Walt (flank) en B Goliath (losskakel) het uitgeblink terwyl Jean Visser (haker) sy slotte goed gevind het in die lynstane.
Haines, Zandberg, De Lange, Van der Walt, Z Jackson, R Hugo, Mario Toerien en Nico Smit het drieë gedruk, met Goliath wat drie doelskoppe oorgesit het.
* Op Stellenbosch het 'n driekuns deur regtervleuel Jacques Lategan vir Young Peoples gehelp om vyf ligapunte te kry in hul wedstryd teen Van der Stel.
Peoples het gesukkel om in die reën en op die swaar veld aan die gang te kom, met die tuisspan se groot voorspelers wat vir lang rukke die Paarliete op die agtervoete gehad het.
Peoples se agterspelers het egter te veel skietgoed gehad en met teenaanvalle ente veld gewen. Veral Lategan was hier verwoestend.
Sy eerste drie was 'n plesier om te aanskou. Van der Stel was op die aanval in Peoples se kwartgebied. Die besoekers keer besit om en ná vyf fases kry Lategan die bal, nael vanaf Peoples se tientreë-stippellyn deur vier laagvatte en druk in die hoek.
Barry Williams druk ook vir Peoples, terwyl Melvyn Hermans met drie strafskoppe slaag. |
 |
|
|
|
 |
Fietsryers sluit somerliga op 'n hoë noot af |
|
|
 |
|
 |
TWEE fietsryers van Rhadsport Fietsryklub het die seisoen goed afgesluit met uitblink-vertonings tydens die laaste Supersomerliga-wedren wat Saterdag op Langebaan gehou is.
Garth Thomas en Bertram Siebrits het gewys dat hulle nie net goeie baanryers is nie, maar ook hul man in padwedrenne kan staan.
In die Elite wedren het Thomas met die geharde padryers van Sub3 en CVT asook die Pinnarello spanne afgereken toe hy in die stryd na die wenstreep vir Christopher Esch (CVT) en Chris Willemse (CWC) geklop het.
Ook in die bondel was Moolman Welgemoed (Sub3), Wesley Cole en Mark Wilcox (albei van CVT).
Thomas het in die laaste deel van die wedren hard gewerk in die wegbreekbondel. Dit was veral die CVT-ryers wat die groep probeer terughou het, om hul naelryers kans te gee om weer terug in die wedren te kom.
In die senior skoleliga het Bertram Siebrits gewys dat hy in die komende padseisoen 'n bedreiging gaan wees toe hy in die laaste 15km weggebreek het en tot aan die einde voorgebly het.
In die proses het hy ervare padspesialiste geklop.
Volgens Elrick Kulsen van Rhadsport het onlangse borgskappe 'n baie positiewe effek op die klub se ryers gehad. |
 |
|
|
|
 |
Nuwe tafeltennisliggaam vir Boland |
|
|
 |
|
 |
 |
|
DAAR is nuwe lewe in plaaslike tafeltennis geblaas ná die onlangse stigting van die Boland Tafeltennis Raad (BTTR).
'n Boland Tafeltennis Unie het vroeër jare bestaan maar het ontbind. Sedertdien was Paarl Tafeltennisklub al klub wat op klubvlak deelgeneem het. Dié spelers het in die Westelike Provinsie liga deelgeneem.
Die nuwe Raad is reeds by die Suid-Afrikaanse Tafeltennis Raad geaffilieer en het klubs help stig in Wellington, Saldanhabaai en Brackenfell en is besig om spelers in Worcester te werf.
Volgens Mornay Pretorius, skakelbeampte van die BTTR, is daar ook heelwat junior klubs met skoolspelers, wat ook reeds by die nuwe liggaam geaffilieer is.
"Daar is nog baie plek vir klubs wat by die Raad wil affilieer. Boland word as die nuwe provinsie in die SATTR erken en 'n Boland-span gaan vanjaar aan die SA Ope-toernooi deelneem," sê Pretorius.
Die nuwe Raad word Saterdag amptelik geloods, met die eerste Boland geslote tafeltennistoernooi wat in die Paarl Ontspaninningsaal in Du Toitstraat plaasvind. Die toernooi begin om 10:00 en inskrywingsgeld is R10 vir juniors en R20 vir seniors. Enige speler in die Boland kan inskryf.
Vir meer inligting, skakel Mornay Pretorius (073-237-6437) of Edwin Erasmus (072-388-9430). |
 |
|
 |
Newtons looi Hermanus tuis |
|
|
 |
|
 |
 |
|
DIT was sukses vir Newtons dié naweek toe hulle in hul Superliga A2 wedstryd vir Hermanus 14-7 langs die kus geklop het.
Die besoekers het eerste punte aangeteken toe Rodney Appollis (stut) druk. Volgehoue druk deur Newtons se blitsige agterlyn, veroorsaak dat die tuisspan twee strafskoppe in hul gebied afstaan wat Tino Prins (heelagter) verdoel en hulle loop rustyd 11-0 voor.
Ondanks 'n terugvegpoging deur Hermanus, verdedig Newtons verwoed en is dit hulle wat weer punte aanteken danksy 'n skepskop deur Prins. Hermanus druk in die doodsnikke vir hul sewe punte.
Uitblinkers vir Newtons was Prins, Reginald Manuel (senter), Marvin Arendse (vleuel), Desmond Monck (stut) en Clayton Hendricks (flank).
Newtons speel Saterdag tuis teen Darling.
* Die eerstespan van Roses United is stert in die lug, nadat hulle Donderdag met Brandvlei Perseverance en Saterdag met Robertson afgereken het.
Roses het Brandvlei 27-20 (10-3) geklop danksy drieë deur Alsaun Bock, Elrick Muller, en Burton Abrahams 2. Morné Albany het met twee doelskoppe en 'n skepskop geslaag.
In hul 28-17 (11-7) sege oor Robertson was dit Bock 2, Abraham Afrika en Virgil Frans wat drieë gedruk het. Warren Apollis het met 'n doel- en twee strafskoppe geslaag.
Die vleuels Frans en Bock, asook Burton Abrahams (slot), Ignatius Korabie (agsteman) en Elrich Muller (heelagter) was die uitblinkers.
Roses was voor dié wedstryde laaste op die Boland Superliga A1 punteleer, maar beklee nou die vyfde posisie. Roses speel Saterdag tuis op die OKB-velde teen Saldanhabaai.
* Wellington het tot dusver 'n uithaler-seisoen. Al drie spanne is ná sewe wedstryde onoorwonne, met die eerstespan wat met bonuspunt-oorwinnings weggekom het.
Wellington het Saterdag in 'n wegwedstryd vir Saldanhabaai met 49-3 vernietig, nadat hulle Rawsonville die vorige Woensdag geklop het.
Wellington het alle fasette oorheers en sewe drieë gedruk. Pieter Wium (haker), Derick Poole (stut), Hennie Smit (slot), Arthur Snyders (senter) en Jan Rautenbach (losskakel) was die uitblinkers.
Wellington het 35 punte en lê gelyk met Ceres wat reeds agt wedstryde gespeel het.
As Wellington hul volgende drie wedstryd teen St Helenabaai, Robertson en Moorreesburg met bonuspunte wen, kan hul in hul laaste wedstryd teen Ceres vasval en steeds vir die SA Supersport Klubkampioenskappe kwalifiseer. |
 |
|
 |
Boland Landbou trap Affies |
|
|
 |
|
 |
 |
|
VEERTIEN rugbyspanne van Boland Landbouskool, het verlede week na Pretoria gereis om kragte te meet teen Afrikaans Hoër Seunskool.
Affies het al die wedstryde gewen behalwe twee. Die o.14A-span van Boland Landbou het met 15-12 geseëvier.
Die hoogtepunt van die dag was ongetwyfeld die wedstryd tussen die twee eerste spanne waar Boland Landbou 21-17 gewen het.
Boland se pak voorspelers het van die afskop af oorheers en Affies in hul halfgebied vasgepen.
In die eerste helfte het haker Chris Buckle 'n drie vir Boland Landbou gedruk, met losskakel Rudie Botha wat verdoel.
Daarna het vleuel Wian Mouton 'n strafskop en skepskop oorgeklits. Vir Affies het hulle kaptein 'n drie gedruk na 'n strafskop naby die pale. Die doelskop was suksesvol.
Net voor rustyd het die tuisspan nog sewe punte aangeteken, wat die telling op 14-3 in Affies se guns te staan gebring het.
Boland Landbou het meedoënloos aangeval en regtervleuel Janno van Zyl druk agter die doelpale terwyl Mouton met nog 'n strafdoel geslaag het.
By drie geleenthede het Boland Landbou byna drieë gedruk. In die laaste beweging van die wedstryd het Van Zyl weer oorgeduik maar net-net uitgetrap.
Boland Landbou se skoppers kon net nie hulle rigting vind nie en het sewe skoppe pale toe verbrou. Daarby kon Affies slegs met 'n strafdoel slaag. |
 |
|
 |
|
|
|
|
|
|