|
OM te verseker dat kinders besig bly, bied die biblioteke gratis vakansieprogramme aan.
Die Paarl Biblioteek (Meulstraat) se vakansiepret vir kinders 3 tot 9 jaar begin Maandag 12 Julie van 09:30 tot 10:30 met knip en plak (bring 'n skêr saam).
Dinsdagoggend 13 Julie gaan daar geverf en geplak word ('n skêr word benodig.)
Frieda se Poppekas is Woensdag 14 Julie in die saal van die Lutherse Kerk om 09:30 (kaartjies kos R5 by die deur, maar R4,50 vooraf by die biblioteek se toonbank. Groepkaartjies (meer as 10 kos R4).
Donderdagoggend 15 Julie kan die kinders weer 09:30 met hul skêre biblioteek toe gaan om te knip en plak.
Die laaste oggend in dié pretweek, Vrydag 16 Julie, sal afsluit met 'n video wat in die biblioteek gewys word om 09:30.
Drakenstein Biblioteek in Paarl-Oos gaan ook van 12 tot 16 Julie hul gratis vakansieprogram aanbied.
Maandag gaan die kleuters (4-7 jaar) inkleur. Dinsdag is daar twee video-vertonings. Die eerste vertoning sal 11:00 wees, terwyl die tweede vertoning 14:00 is.
Woensdag 14:00 gaan daar legkaart gebou word en bordspeletjies wees vir kinders van alle ouderdomme.
Donderdag se program is vir die ouer kinders (8-12 jaar) en behels 'n praatjie oor dwelmmisbruik van 11:00 tot 12:00.
Vrydag sluit Drakenstein Biblioteek hul vakansiepret af met 'n videovertoning om 14:00.
Wellington Lesersbiblioteek (Weltevrede) gaan vir vermaak gedurende die hele skoolvakansie sorg.
Daar sal elke dag van die week, insluitend Saterdagoggende, video's gewys word, speletjies aangebied word en inkleurprente beskikbaar wees.
Die programme begin wanneer die eerste kinders opdaag en alles is ook gratis. |