|
"DIE water kom by die fondamente en die mure in. Ons opgewondenheid om 'n huis van ons eie te kry was van korte duur."
Só sê die inwoners van skemahuise in Greenfields in die Paarl wie se huise deurgeloop het in onlangse reënstorms.
Die inwoners het in November 2002 in die huise ingetrek en Brenda Wildschutt kon haar opgewondenheid nie beteuel nie.
"Ek het tien jaar gewag vir my eie regte huis nadat ons in 'n hok gebly het. Ek was uit my vel uit van blydskap," sê Wildschutt.
Maar die glimlagte van inwoners het nie lank daarna nie in spyt en pure woede verander.
Volgens Clive Serfontein, voorsitter van die buurtwag hier, is die huise wat vir hulle gebou is, nie op standaard nie en is dit 'n groot gesondheidsrisiko.
"Die water kom deur die fondamente in en die matte word nat. Die water kom deur krake in die mure. Die huise slaan muf uit.
"Dit kan net ongesond wees, veral vir asmalyers. Dis 'n broeiplek vir TB," sê hy.
"Ons was al baie by die Munisipaliteit en hulle het tot op hede nog nie gekom om na die huise te kom kyk nie, nog minder om dit reg te maak," sê hy.
"As dit reën, moet ek my bed skuif om die water wat uit die muur kom te vermy," het 'n bejaarde inwoner gesê.
Volgens dié inwoner kom die reën ook bo by haar dak in waar die dakplate vasgebout is.
"Ons wil hê ons huise moet van binne en buite gepleister word sodat dit sterker kan wees en die gate toegemaak is.
"Ons is nie bereid om geld op die huise te spandeer nie, omdat dit nog nie op ons name oorgedra is nie.
"Nog iets wat pla, is dat die strate waar ons bly, soos Johanstraat, nêrens op 'n kaart verskyn nie.
"Ons bly al twee jaar hier, maar as jy die brandweer bel om 'n brand hier te blus, sê hulle daar bestaan nie so 'n straat nie!"
Volgens 'n munisipale woordvoerder is die huise die eiendom van die inwoners, hoewel dit nog nie op hul name oorgedra is nie.
"Die grond het aan die provinsie behoort en moet eers na die munisipaliteit oorgedra word voordat dit amptelik onderverdeel is.
"Ongelukkig is daar vertragings met die oordrag deur die staatsprokureur weens probleme by die akteskantoor en kan dit nog geruime tyd sloer.
"Inwoners het meer as 'n jaar gekry om alle klagtes aan te teken by die ontwikkelaar en die Munisipaliteit. Alle klagtes is opgevolg en foute reggemaak, selfs nadat die retensieperiode verstryk het.
"Die pleister van die mure, geute en afvoerpype was egter nooit ingesluit by die gratis huise nie.
"Dit is nou tyd dat inwoners eienaarskap aanvaar en lekkasies self regmaak. Hulle moet self hul mure pleister en verf, en hul lekkende dakke herstel.
"Die water dring slegs deur die vloere waar mense nie verseker het dat die grond wat teen die mure opgestapel is, verwyder is nie.
"Nadat slootjies om die huise gemaak is, was die vloere droog."
Wat die afwesigheid van hierdie woonbuurt op die munisipale kaart betref, het die beplanningsdepartement beloof om die saak dadelik op te volg.
Die name van die strate in die gebied is verander nadat die ontwikkeling begin is, en die nuwe name is nog nie op die kaart aangebring nie.
* Residents of Greenfields have been angered by leaking houses on land which is not yet registered in their names. |