|
DIE taaiste kano-wedvaart in Suid-Afrika, die Bergrivier Kanomarathon, spring op 14 Julie in die Paarl weg.
Die marathon, wat volgende week vir die 43ste keer gehou word, spog vanjaar met 'n nuwe borg - Isuzu.
Die formaat waarin die legendariese wedvaart aangebied word, sal vanjaar ook verder verskil met die wegspringplekke wat deur 'n tydtoets bepaal sal word.
"Die top 60 gekeurde roeiers, volgens die nasionale ranglys en onlangse Bergrivier-wedvaarte, sal na die tydtoets uitgenooi word wat die Dinsdagmiddag 14:00 voor die wedvaart gehou word," sê die voorsitter van Paarl Kanoklub, Herbert Conradie.
"Roeiers sal individueel en twee minute uit mekaar by die voetbrug oor die Bergrivier (oorkant Boishaai se sportgronde) wegspring en 5km verder by die Daljosafat-keerwal klaarmaak."
"Die 50 roeiers met die beste tye sal in die A-groep wegspring wat in rye gespasieer sal wees.
"'n Geeltrui sal ook die aand voor die Berg-wedvaart aan die roeier oorhandig word wat die vinnigste tyd in die tydtoets afgelê het."
Die eerste 60 roeiers sal só self hul wegspringplekke bepaal pleks van die lotingsproses van vorige jare wat dikwels tot ontevredenheid onder die top roeiers gelei het.
Slegs 188 roeiers het tot dusver vir vanjaar se Berg ingeskryf.
"Die lae watervlak wat verlede jaar genoodsaak het dat die wegspring van die Berg van Paarl na Hermon verskuif, het baie roeiers afgeskrik.
"Hulle wag nou eers om te kyk of daar genoeg water is," sê Conradie.
Volgens hom is die huidige watervlak voldoende vir 'n beslissende wedvaart.
"Die stuk tussen Grensplaas en Hermon wat verlede jaar die probleem-area was, is steeds vol bome, maar die watervlak is hoog genoeg om te roei," sê Conradie.
Kenners meen die gunsteling om vanjaar se Berg te wen is die wenner van 2002 en 2003, Jacques Theron van Gauteng.
Daarby sal verlede jaar se naaswenner, Graeme Solomon van die Skiereiland Kanoklub in Muizenberg ook weer Theron se grootste teenstander wees.
Die wêreldkampioen in die 38km marathon, Hank McGregor wat die Berg in 2000 gewen het, neem ook weer vanjaar deel en is beslis een van die roeiers waarmee daar ook rekening gehou moet word.
Twee roeiers wat gereeld hul plek in die Berg se top vyf roeiers volstaan, is Gert en Chris van Deventer.
Dié twee Matie-roeiers en oud-Paarliete neem egter nie vanjaar deel nie aangesien hulle SA tydens die Wêreld Kanomarathon-kampioenskappe in die K2-klas gaan verteenwoordig wat op 1 Augustus in Noorwëe gehou word.
Gert en Chris was verlede jaar onderskeidelik derde en vyfde in die Berg.
Plaaslike roeiers wat ook met belangstelling dopgehou sal word, is die ontwikkelingsroeiers Beaucrim Coetzee (o.16), Paul Lombard (o.18), Wayne August, Jermaine Pietersen, Niklas Tiras (aldrie o.21), en John Stadtler (senior).
Lombard en August het onlangs tydens die SA snelroei- en marathonkampioenskappe die WP verteenwoordig waar hulle tweede gekom het in die K2-klas van die byeenkoms.
Die marathon begin Woensdagoggend om 09:30 by die Markstraatbrug en eindig die daaropvolgende Saterdag sowat 200km later by Velddrif. |