safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 9 May 2002

uitlefstreep

This site will be updated on: 16 May 2002 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Lifestyle - Leefstyl


Traumakamer vir Paarl-Oos

[ Top ]


wsharon19DIE Paarl-Oos SAPD spog nou met sy eie traumakamer wat op 'n 24-uur-basis beman gaan word deur opgeleide gemeenskapslede.

Herman Bailey, onderburgemeester van Drakenstein, en dir Vincent Beaton, adjunk-areakommissaris vir Boland, het die opening bygewoon.

Die traumakamer sal gebruik word vir

slagoffers van misdade teen vroue en kinders. 'n Beroep is ook op die publiek gedoen om klagtes in dié verband onverwyld aan te meld.

Die gemeenskap is  genooi om deel te word van hierdie slagoffer-ondersteuningsprojek.

'n TEDDIE VIR LIEFDE. Insp Sharon Blankenberg in die nuwe traumakamer by die Paarl-Oos polisiestasie, met 'n paar van die teddies wat geskenk is vir slagoffertjies. Insp Blankenberg is pas aangestel as die nuwe gemeenskapskakeloffisier vir Paarl-Oos.

Die Dorkas-vrouegroep het reeds hul volle gewig agter die projek gegooi. Hulle sal berading verskaf, en het ook die kamer verfraai en gesorg vir onderklere en ander persoonlike behoeftes van slagoffers. Mense word  gevra vir skenkings in die vorm van poppe, teddiebere en ander speelgoed. Hulle kan insp Sharon Blankenberg by 862-5617 skakel.


Oog op die kind

[ Top ]


DIE Paarl en Distrik Kinder- en Gesinsorgvereniging is besig om Projek Oog op die Kind (Isolobantwana) van stapel te stuur wat kyk na die voorkoming van kindermishandeling en -verwaarlosing asook die beskerming van kinders.

Die projek is in die werksgebied van die vereniging en begin met die opleiding van vrywilligers, wat dan kindermishandeling sal rapporteer.

Hulle sal verantwoordelik wees vir berading en monitering van kinders wat blootgestel word, mishandeling en identifisering van veiligheidshuise.

Mense wat belang stel in opleiding, kan Alicia Rhode of Benita Williams skakel, 862-6182/862-7331.


Kerk bied hoop vir Vigslyers

[ Top ]


KERKE kan kanale van hoop wees in die Miv/Vigs pandemie het Logy Murray onlangs by 'n vigsseminaar vir leiers van die NG Kerk en VG Kerk in die Paarl gesê. Die seminaar is aangebied by die NGK Paarlberg.

"Ons almal het sekere voorveronderstellings oor die persone wat MIV onder lede het en dit bepaal hoe ons dink en hoe betrokke ons by MIV\Vigs is.

"Ons moet begin verstaan dat alle mense wat MIV\Vigs onder lede het of betrokke is in die versorging van die mense geweldig ondersteuning nodig het. 

"In hierdie hele proses is dit nodig dat mense hulle van die feite rondom MIV\Vigs vergewis om sodoende al die misverstande uit die weg te ruim.

"'n Persoon wat met MIV geïnfekteer is, moet met gesonde mense omring word en moet ook hoop, liefde en vrede ervaar, aangesien kommer mense vinniger kan siek maak. 

"Daarom het die kerk wat die draer van hoop, vrede en liefde is, so 'n belangrike taak. 

"Mense wat in armoedige omstandighede leef, is meer vatbaar vir infeksies en siektes en het minder toegang tot mediese dienste. Indien iemand uit hierdie armoedige omstandighede met MIV geïnfekteer word, staan die persoon 'n groter kans om in die vigs-fase in te beweeg en te sterf aan vigs-verwante siektes. 

"Die kerk het daarom 'n geweldige groot rol te speel in hierdie verband, aangesien die kerk op grondvlak ook aan mense finansiële ondersteuning kan gee. 

"Die kerk het 'n geweldige rol en taak en moet hande vat met die regering in die volgende paar jaar as ons enigsins 'n positiewe verskil aan die pandemie wil maak.

"Die enigste verskil tussen 'n HIV persoon en 'n persoon sonder die virus, is dat die HIV persoon 'n dodelike virus dra. HIV kan nie die persoon se persoonlikheid, denke, emosies, verhoudings en menswees vernietig nie. Hulle kan steeds 'n vol, en sinvolle lewe lei," het Murray gesê.

Die seminaar is bygewoon deur 'n persoon met die MIV virus en wat nou in die vigsfase in beweeg het. Sy is baie siek en moet die feit dat sy die terminale fase van die siekte in die oë moet kyk, aanvaar. 

Op 'n vraag of sy nog hoop het vir die vigspandemie en mense wat hierdeur geraak word, het sy gesê: "Daar is altyd hoop in Christus. 

"In Christus leer jy om jou vrese te oorbrug, jouself te aanvaar en die lewe as die grootste gawe met alles wat jy het, aan te gryp."

Sy het ook daarop gewys dat die kerk weer kinders na morele waardes terug moet bring.


Geskiedenis is haar kos

[ Top ]


Vir die nuwe kurator van die Paarl Museum, Jaline de Villiers, is geskiedenis haar kos.

De Villiers, oorspronklik van Bellville, was voorheen verbonde aan die Afrikaanse Taalmuseum. Sy was intussen oorsee voordat sy in Februarie as museumhoof aangestel is.

Sy het Museumkunde en Argeologie aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en was voorheen betrokke by die Departement Argeologie by Maties.

Terwyl sy oorsee was, het sy allerhande werk in Engeland gedoen en heelwat gereis. Sy het ook in Kenia 'n draai gemaak voordat sy teruggekeer het na Suid-Afrikaanse bodem.

"Die lekkerste van museumwerk is om met mense te werk. Ek het 'n geweldige belangstelling in geskiedenis, mense en verskillende kulture.

"Dit is so interessant om die navrae van die besoekers te hoor.  Dit is ook vir my heerlik om met die skoolgroepe te werk wat altyd hier aandoen.

"Ons kry gereeld buitelandse besoekers, maar dis meestal plaaslike inwoners wat 'n draai hier kom maak."

Van haar toekomsplanne is om die Vriende van die Museum weer te laat herleef.

"Die museum behoort uiteraard aan die gemeenskap en ek sou graag wou sien dat hulle meer betrokke raak.

"Ons is ook van plan om ons uitstallings op te gradeer en ons is voortdurend besig met nuwe opvoedersprogramme vir leerlinge."

Skole kan die museum gratis besoek. Die museum is weeksdae van 10:00 tot 17:00 en Saterdae en meeste vakansiedae van 09:00 tot 13:00 oop.

Toegang is R5 (studente en kinders gee 'n donasie). Vir nader besonderhede bel De Villiers by 872-2651.


Ent kinders teen polio

[ Top ]


POLIO, 'n vergete, hoogs aansteeklike siekte uit die verlede, gaan vanjaar met verskerpte massa-inentingsveldtogte die finale nekslag toegedien word.

In 'n laaste poging om te verseker dat 90% van alle kinders in die Wes-Kaap  deur inenting beskerm word, sal alle kinders onder die ouderdom van vyf jaar twee addisionele dosisse van die polio entstof moet ontvang ongeag vorige immunisasies.

Die massa-immuniseringsveldtog vir die eerste dosis vind vandeesweek plaas en van 10 tot 14 Junie vir die tweede dosis.

Die poliovirus word versprei deur besoedelde water en kos, asook swak sanitasiegeriewe. Dit tas die menslike senuweestelsel aan en veroorsaak in die meeste gevalle permanente verlamming van ledemate.

 Inentings bied lewenslange beskerming mits dosisse toegedien word op die volgende ouderdomme: direk na geboorte, op ses weke, op 10 weke, op 14 weke, op 18 maande en dan weer vir oulaas wanneer die ouderdom van vyf jaar bereik word.

Alle gesondheidsdienste in die Wes-Kaap bied toegang tot polio-immunisering en dit word gratis verskaf in hospitale en klinieke.


Laat ent huisdiere

[ Top ]


HONDE en katte in en om Wellington kan nog tot môre gratis ingeënt word teen hondsdolheid.

Die veldtog word deur die afdeling veeartsenydienste van die Departement van Ekonomiese Sake, Landbou & Toerisme geloods, en volg nadat daar verlede jaar 'n voorval van hondsdolheid in die Malmesbury distrik was.

Hondsdolheid is 'n dodelike virussiekte van alle warmbloedige diere, insluitend die mens.

Die virus kom in die speeksel van die besmette dier voor en word oorgedra deur 'n bytwond.

Besmette diere se gedrag verander duidelik. Die dier mag skielik terughoudend voorkom, liefdevol, rusteloos, geïrriteerd, 'n abnormale seksdrang of 'n eetlus vir vreemde voorwerpe ontwikkel. Die dier kan begin kwyl en verlamming van die onderkaak en keel, wat die slukproses bemoeilik, kan voorkom.

Simptome van hondsdolheid by mense kan binne een week tot ses maande na kontak voorkom.

Die algemene tekens is hoofpyn, geïrriteerdheid, angstigheid, ligte spierpyne, koors en vomering. Later word die stem hees, moeilik om te sluk en oormatige speekselvorming.

Dit word gevolg deur krampagtige sametrekkings, vrees vir water en verlamming. Eindelik is daar tekens van verstandelike versteurdheid, waarna die persoon sterf.

By die mens kan die siekte voorkom word indien die persoon onmiddellik behandeling ontvang na blootstelling.

Hondsdolheid kan suksesvol beheer word indien alle huisdiere van drie maande en ouer gereeld geënt word.

Vandag word diere van Newton-Wes, Vanwyksvlei, Weltevrede en 1068 Fase 1 van 12:00 tot 18:00 by die Safmarine gemeenskapsentrum ingeënt.

Die veldtog eindig môre met inenting vir diere van Hillcrest (Peyton), Sonchem en 1068 Fase 1&4 van 08:00 tot 16:00 by die Hillcrest Kliniek.

Alle verdagte gevalle by diere moet onmiddellik onder die aandag van die staatsveearts, dieregesondheidstegnikus, gesondheidsbeamptes, polisie of 'n landdros gebring word.

Enige navrae kan gerig word aan Rudolf Nieuwenhuis by 083-381-6992 of 808-5253.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za