|
AS dit nie was vir die 66-jarige Chris Coetzee se boks-vaardighede nie, sou hy lelik seergekry het.
Coetzee, van Roodeberglaan, is voorverlede Vrydagaand om 20:50 aangerand toe hy 'n oproep wou maak vanaf die publieke telefoon by Labori Sentra in Hoofstraat, Suider-Paarl.
Hy vertel dat hy op pad was om melk te koop toe hy 'n oproep wou maak en agterkom dat hy sy selfoon vergeet het.
"Ek het by die telefoon gestop en net die gehoorstuk opgetel toe iemand my om die nek gryp," sê hy.
"Die man het my agteroor probeer trek, maar ek het vorentoe gebeur. Nog twee van sy makkers het aangehardloop gekom en geskreeu 'gee die mes'."
Dis toe dat Coetzee, wat in sy jonger dae 'n SA junior boks-kampioen was, sy boksvaardighede inspan.
"Die vuiste het geklap en hulle het my op die grond probeer druk. Hulle het my hemp oor my kop getrek, maar ek het uit die hemp geglip.
"Dis toe dat die drie laat spaander het. Ek het na my bakkie gehardloop om 'n knuppel te kry, maar die drie was klaar weg."
Ten spyte van 'n eina-lyf en 'n hou voor die kop, het die drie net met 'n bietjie kontant en Coetzee se bakkie-sleutels ontglip.
Wat hom rooi laat sien, is die feit dat ten tyde van die voorval, daar 'n paar vroue op die muurtjie by die telefone gesit het, en dat hulle geen poging aangewend het om hulp te kry nie.
'n Klag van aanranding is by die Polisie gelê.
'n Kollega van Coetzee, Thomas Rasmeni, is die volgende middag by die OTM by dieselfde sentrum beroof van sy bankkaart en R500 kontant wat hy getrek het.
* An ex-boxer managed to fight of robbers at a pay phone in Suider Paarl. |