|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||
|
Die Drakenstein Munisipale Raad sal in Julie terugvoering kry oor die rede vir die verbrokkeling van die baan, minder as drie jaar nadat dit gebou is. Die hoë kwaliteit sintetiese baan is in |
|
|
|
ontwerp van die baan te behartig. 'n Kontrak is in Oktober dieselfde jaar toegeken aan GCF Konstruksie as hoofkontrakteur en aan En-Tout-Cas (Africa) as genomineerde subkontrakteur. Die baan het 'n sesjaar-waarborg op die sintetiese oppervlakte wat op 16 November 1999 in werking getree het. Tydens die retensieperiode (in Januarie 1999) het probleme met die baanoppervlak opgeduik en is dit deur die firma, ETC, herstel. In April 2000, tydens 'n waarborginspeksie, is verdere probleme opgemerk. Die sintetiese oppervlakte het op plekke los gekom en dit is met BKS en ETC opgeneem. BKS het monsters van die baan geneem en by die SABS laat toets. ETC is weer aangesê om die baan te herstel in terme van die waarborg. Die toetsuitslae van die SABS het aangetoon dat die kwaliteit van die sintetiese baan nie op standaard is nie. Die SABS toetse word egter nie deur die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) erken nie en ETC het die ontwerp van die onderliggende asfaltlaag bevraagteken. 'n Meningsverskil tussen BKS en ETC rakende die geskiktheid van die asfaltonderlaag, het tot gevolge gehad dat ETC nie verder herstelwerk aan die baan gedoen het nie. Dié situasie is in April 2001 aan die Raad oorgedra en daar is op prokureursadvies in Julie verlede jaar besluit om deskundiges in te roep om die werklike oorsaak van die probleem te bepaal. Ná 'n verslag aan die Raad in Oktober verlede jaar is nog 'n raadgewende ingenieursfirma, Africon, aangestel om die saak te ondersoek. Monsters van die baan is verlede maand vir toetse weggestuur na 'n laboratorium in die Verenigde Koninkryk, wie se bevindinge wel deur IAAF erken word. Daar word ook ondersoek ingestel na die asfaltlaag. Africon sal die uitslae en aanbevelings in Julie vanjaar aan die Raad voorlê. Die ondersoek deur Africon beloop 'n beraamde R181 900. |
|
|
|
|
DIT was beslis met groot verligting wat die Boland Kavaliers Saterdag op Wellington van die veld gestap het ná hul 37-28 oorwinning oor die Bulldogs van Grens. Die Boland moes in die laaste minute nog verbete klou aan sy voorsprong van vier punte, met die gevaarlike agterlyn van die Bulldogs wat die doellyn onverpoosd aangeval het. 'n Onderskepping deur Lean van Dyk enkele meters van die tuisspan se doellyn het egter die Boland-kamp 'n slaak van verligting laat gee nadat hy in die hoek gaan druk het. Maar die Boland sal môre beslis 'n meer afgeronde vertoning wil lewer as hulle die Blou Bulle op Wellington wil klop vir 'n plek in die eindstryd. Sy span se tam voorkoms op die veld skryf die afrigter, Jerome Paarwater, toe aan die strawwe wedstryd wat die Kavaliers gespeel het sedert hul kwalifikasie in die Top Agt. "Sedert ons na die Top Agt deurgedring het, speel die manne elke week harde wedstryde wat nie net fisies is nie, maar ook geestelik die spelers tap," sê Paarwater. "Daarby moet hulle ook klaarkom sonder ervare manne soos Vion Wium, Henley du Plessis, Dale Santon en Hannes de Kock wat op die krukkelys is." Paarwater verwag dat die jong Blou Bulle span ook met hardlooprugby en balverspreiding die Bolandse verdediging tot die uiterste gaan beproef. "Ons het verlede week al begin skaaf aan ons verdedigingslyne. Verdediging het baie te doen met jou houding en die manne is positief om die gate toe te stop," sê Paarwater. Die wedstryd Vrydag begin om 15:30 op Boland Park. Die span is Lean van Dyk, Daniel Philander, WP Strauss, Dewald Femboes, Pieter O'Niell (k), Cassie Carstens, Chris Potgieter, Reginald Nutt, Chris Thiart, Randall Julies (o/k), Henk Eksteen, Eugene Maqwelana, Gustav Rademeyer en Carel van der Merwe. |
|
|
|
|
'n ERG verswakte Young Peoples het die naweek sy eerste nederlaag van die seisoen gely teen Silvertree in Mitchell's Plain. Sonder agt van sy gereelde eerstespan-spelers was Peoples se pak eenvoudig nie opgewasse teen die Kapenaars nie. Die Paarliete was voortdurend op die agtervoet, maar het onder moeilike omstandighede 'n moedige vertoning gelewer. Tien minute voor die eindfluitjie was Peoples 17-10 agter en was 'n gelykopuitslag en miskien 'n oorwinning nie te vergesog nie. Maar twee vinnige drieë deur die tuisspan het die Paarliete beslis uit die water geskiet en hulle verloor 27-10. Vir Peoples het Charles Booysen gedruk, met Andrew Victor wat suksesvol is met 'n doel- en strafskop. Peoples se tweede en derde spanne het beter gelyk en 10-6 en 5-0 gewen. Young Peoples se jaarlikse sewesrugbytoernooi word môreaand op Daljosafat gehou. Dit is een van die hoogtepunte op die plaaslike rugbykalender en beloof aanskoulike rugby vir die toeskouers op te dis. Die toernooi begin om 19:00 wanneer Peoples en Blues kragte meet, gevolg deur Vineyards/Standards en Violets/Riverstones. Toegang is R5 (R3 vir kinders en motors). * Violets het Saterdag 'n goeie vertoning gelewer om Peninsula in Muizenberg te klop. Die span van die Paarl het rustyd met 'n kort kop voorgeloop en kon danksy kookwaterspel deur sy kaptein en agtsteman Eugene Stevens, Eugene Herklaas (heelagter) en losskakel Melvin Pietersen die 7-5 telling uitbou na 'n 16-11 oorwinning. Herklaas het 'n drie gedruk, terwyl Pietersen met drie strafskoppe en 'n doelskop geslaag het. Die tweede en derde spanne wen 15-7 en 10-7. Die bestuur van Violets Rugbyklub vergader Saterdag om 13:00 by LK Zeeman om die klub se 100ste bestaansjaarvieringe volgende jaar te bespreek. Alle belangstellendes is welkom. Vir inligting skakel Gavin by 082-476-5108. * Hoewel Rangers drie drieë gedruk het teenoor die twee van Paarl, kon hulle nie die wedstryd wen nie weens swak skopwerk. Rangers het met ses skoppe na die pale misluk in 'n wedstryd wat andersins baie gelyk verloop het. Die uitslag was tot in die laaste minute nog nie 'n uitgemaakte saak nie, maar Paarl wen 21-15 nadat dinge met rustyd gelykop was met 10-10. Marco Martin en Werner Visagie druk vir Paarl. Len Bester slaag met 'n doelskop, twee strafskoppe en 'n skepdoel. Vir Rangers het Randall Pietersen, Eric Plaatjies en Phillip van Staden drieë gedruk. |
|
|
|
|
TYDENS die SA Meesters atletiekbyeenkoms wat die naweek in Bellville gehou is, het Ronél Beukes van Paarl weer haarself laat geld. Beukes wat in die 40 tot 44 ouderdomsgroep deelneem, het teen Evette de Klerk, senior rekordhouer van beide die 100m en 200m, deelgeneem en drie medaljes ingeoes. Sy het twee silwermedaljes verwerf in die 100m en 400m, met tye van onderskeidelik 13,97 en 62,92. "Daar was strawwe kompetisie veral van Sentraal-Gauteng, Kwazulu-Natal en Namibië," vertel Beukes. Daarvan getuig haar prestasie in die 200m. Hoewel Beukes haar beste tyd ooit van 27,24 in die naelloop gehardloop het, kon sy net in die derde plek eindig. Vir Anthony Solomons wat vanjaar vir die eerste keer aan die byeenkoms deelgeneem het, was dit 'n minder suksesvolle naweek. Hoewel Solomons wat in die 30 tot 34 ouderdomsgroep deelgeneem het, 'n silwermedalje in die 4x100m aflos opgeraap het, het 'n besering hom verhoed om verder deel te neem. "Ek het Vrydag tydens die 800m my regterknie beseer. 'n Dyspierbesering tydens die 200m uitdun, het beteken dat ek my aan die 200m finaal moes onttrek asook die 100m en 400m," vertel hy. Solomons wat vir Korrektiewe Dienste (Allandale) deelneem het in Maart tydens die WP Kampioenskappe goud gekry in die 400m en silwer in beide die diskus en 200m. 'n Rekordgetal van bykans 400 atlete het aan die SA byeenkoms deelgeneem. |
|
|
|
|
DIE eerste rugbyspan van die Hoër Landbouskool Boland sal in die jare wat kom met groot trots terugdink aan hul suksesvolle 2002 toer na die Ooste. Dié o.19 span wat deur Sarvu aangewys is om Suid-Afrika in Japan te verteenwoordig by die Wêreld Sanix Jeug Uitnodigingstoernooi, het gespeel dat dit bars om vanjaar die kampioene te word. Spanne van SA, Korea, Nieu-Seeland, Australië, Kanada, Skotland, Fidji asook agt spanne van die gasheerland het van 27 April tot 6 Mei teen mekaar gespeel. Grey Kollege van Bloemfontein het verlede jaar dié toernooi gewen, en die Bolanders was oorgehaal om die titel vir Suid-Afrika te behou. Die span van die Agter-Paarl het goed begin deur sy eerste twee wedstryde maklik te wen. Boland wen teen Shuyukan 34-10. Die Suid-Afrikaners se ses drieë is deur Amos Visser, Gys Liebenberg, Johan du Plessis, Wynand Myburgh en Janno van Zyl (2) gedruk. Myburgh het met twee doelskoppe geslaag. In hul volgende wedstryd oorrompel hulle vir Korea met 71-0 in 'n sege wat 10 drieë deur Boland insluit. Die Japanse spanne kon egter nie onderskat word nie, soos 'n vroeë nederlaag deur Australië aan die hand van een van die tuisspanne aangedui het. Die aanduiding is verder by die besoekers ingeskerp toe Boland Landbou Woensdag met 23-0 teen Sendai Ikue van Japan vasgeval het. Ondanks die nederlaag word Boland Landbou ná die reekswedstryde in die vierde plek gekeur. Hulle wen hul kwarteindstryd 50-0. In die halfeindstryd het die Paarliete teen die sterk span van Wesley Kollege van Nieu-Seeland te staan gekom. Dié skool het verlede jaar die plaaslike uitklopkompetisie in Nieu-Seeland gewen. In 'n opwindende wedstryd waarin dit deurgaans gereën het, wen Boland naelskraap 6-5. Die skrumskakel, Tobie Botes, slaag met twee strafdoele in antwoord op Wesley Kollege se onderskep-drie. In die eindstryd wat Maandag gespeel is, het Boland Landbou weer teen Sendai Ikue te staan gekom. Boland het egter dié keer hul huiswerk gedoen en gee die Japanese nie kans om hul spelpatroon af te dwing nie. Teen rustyd loop die Suid-Afrikaners 14-5 voor en speel al beter om die wedstryd en die toernooi 32-10 te wen. |
|
||||