|
AMPSMOTORS vir bugemeesters is ingestel in 'n era toe burgemeesters slegs deeltydse pligte verrig het, teen byna geen of min vergoeding.
Tye het verander. Die huidige burgemeester van Drakenstein (nou ANC) word voltyds betaal en sy totale jaarlikse salarispakket beloop tans R358 014. Hierby ingesluit is 'n reis/vervoertoelaag van R52 022.
Oor 'n vyfjaartermyn waaroor voertuie as bate afgeskryf kan word, sal dit dus R260 110 beloop, sonder dat die jaarlikse verhoging in ag geneem word.
Die burgemeester kan dus die geld wat spesifiek vir daardie doel aan hom betaal word, aanwend om vir hom 'n ordentlike voertuig te koop, pleks van 'n nuwe ampsmotor van R500 000.
Wat die res van sy burgemeesterskomitee (na die oorlopery almal ANC of onder ANC beheer) aan betref: die onderburgemeester se totale jaarlikse vergoedingspakket staan nou op R296 784, en die ander komiteelede op R280 384 elk.
Hierdie vergoeding sluit in salaris, behuisingstoelaag, reistoelaag, pensioenfondsvoordeel, mediese fondsvoordeel, telefoon- en selfoontoelaag.
Die burgemeester, onderburgemeester, speaker, die nege ander lede van die burgemeesterkomitee en die sweep (ook ANC) kos Drakenstein R3 755 422 per jaar.
Die ander 45 raadslede saam kos die raad minder teen R3 253 828.
Daar is nog verdere kostes wat by die burgemeesterskomitee se rekening gevoeg moet word: die salarisse van "ondersteunende personeel" en die inrig van spesiale kantore, wat miljoene beloop.
Niemand is verbaas dat raadslede na die ANC "oorloop" om posisies (en inkomste) te behou of te verkry nie.
Daar is geen aanduidings dat die aksies van die burgemeester en sy komitee enige noemenswaardige werkskepping en ander voordele na Drakenstein gebring het nie.
Hoe lank die mense van Drakenstein nog hande gevou gaan sit en kyk hoe die ANC hulle geld mors, moet ons maar sien.
Deetlefs du Toit (DA raadslid) |