|
DIE jaarlikse Stokkiesdraaifees op Wellington vind van Donderdag 23 tot Sondag 26 Oktober plaas waar van die beste produksies van die Klein Karoo Kunstefees te sien sal wees.
Dit sluit in Kanna hy ko hystoe, Tip, Raaiselkind, Anna se Engel (met Pedro Kruger), Lagga (met Soli Philander) en Een Vers Job met Deon Bosman.
Stadion
Die stadionkunstenaars sluit in Karen Zoid, Skallabrak, Blackie Swart, die Zing wenners, Rooies, Too Much, Kurt Darren, Voël, Piet Botha en die trio Andrew Roos, Lochner de Kock en Richard van der Westhuizen.
Kaartjies vir die fees kan by Computicket of by die Wellington Feeskantoor bespreek word.
Stokkiesdraai bied ook hope vermaak vir die hele gesin. Pa kan Nite gholf speel, veteraanmotors besigtig, in die biertent ontspan of saam met ma opvoerings besoek.
Vir ma is daar drie werkswinkels om uit te kies wat grimeeroormaaksessies, 4X4 en ook kreatiewe tafeldek insluit.
Daar is 'n hondekompetisie, kindervermaak asook 24Seven uiterste avontuur vir dié wat jonk is van gees.
Vir groot en klein is daar die Pik-en-Sluk kostent, massas kunsvlyt en vele meer.
Die fees skop op Donderdagaand 23 Oktober om 19:30 af met 'n opvoering van Kanna hy ko Hystoe in die saal van Hugenote Hoërskool.
Vrydag 24 Oktober word Die Uurwerk Kantel in die hoërskoolsaal opgevoer (10:00 en 12:00).
Om 17:30 is dit Boplaas se Woordmusiek en om 20:00 Pedro Kruger met Anna se Engel.
Vir die kleinspan (kleuters tot graad 3) is daar Pixie Playhouse om 10:00 en 12:00 in die CP van der Merwesaal en in die Hugenote Laerskoolsaal "Stories van Ver" (ook 10:00 en 12:00) vir graad 3 tot 7.
Van 16:00 word die Tassenbergfees tot middernag aangebied in die Boland stadion met onder andere Kurt Darren, Piet Botha, Karen Zoid en Skallabrak.
Saterdag 25 Oktober is daar heeldag aktiwiteite in die stadion met stoepstories, sangers en klopse, 'n kunsmark, mallemeule, abseilmuur en hondevertoning.
Daar is ook 'n pretdraf, motorfietsrit en vroue 4x4.
By Hugenote Laer is daar rolskaatshokkie en skaatsplankryery. Om 11:00 is die Famsa kiskarresies in Genl Hertzoglaan.
In die hoërskoolsaal is Raaiselkind om 14:00 te sien, Tip om 18:00 en Lagga met Soli Philander om 20:30.
Van 17:00 bied die Three Ships fees verskeie kunstenaars in die Boland stadion, insluitend Blackie Swart, Francois Henning, Zing-finaliste asook Andrew Roos, Lochner de Kock en Richard van der Westhuizen.
Kabaret
'n Kabaret, in die Stilte van my Klerekas, is op die Vrydag om 19:30 in die Goodnowsaal en die Saterdag om 14:00 en 19:30.
Musiek van Brel en Piaf asook ou Afrikaanse gunstelinge word aangebied deur sangeres Nadja Opperman begelei deur Conrad van Breda (klavier) en Sarah Evans (altviool).
Die Sondag om 11:00 bied Deon Bosman Een Vers Job in die CP van der Merwesaal.
Vir navrae, skakel die Stokkiesdraai-feeskantoor by 873-3988.
* Stokkiesdraai-fees se naam het sy oorsprong in die dae toe wingerdstokkies met rafia geheg is vir enting. Omdat die kinders uit die skool moes bly om te help het die term "stokkiesdraai" vir afwesigheid ontstaan. |