|
VANDAG wil ek ook graag my sê sê. Eenkeer elke maand op 'n Woensdag begin my dag al vieruur soggens wanneer ek my suikerpille moet gaan haal by die Hugo Rust daghospitaal. Elke vier maande sien ek die dokter.
Graag wil ek weet hoekom moet 'n mens van soggens vieruur af tot halfsewe agter 'n toe hek straat-af staan in 'n ry.
Halfsewe word die hekke oopgemaak en dan moet jy nou weer paradeer op na die hospitaal se stoep en dan val jy nou maar weer in die ry tot die verpleegsters kom.
Die rede hoekom mense so vroeg in die ry staan, is om te verseker dat jy 'n plekkie kry, want na 10:00 word jou kaartjie nie meer aanvaar nie.
Hoekom kan ons nie ook ingaan soos by ander hospitale en gaan sit nie in plaas van die koue, donkerte en nattigheid te trotseer.
As jy nou net die oggend kom vir jou pille dan dink jy jy is nou baie gelukkig. Teen halfnege is jy op pad na die apteek-afdeling en dis daar waar al die moeilikheid begin.
Jy moet dan jou sit kry en lekker sit, maklik tot halftwee, want dan word daar iewers vergadering gehou.
Dit is die rede hoekom ek wil weet, is ons dan nie mense nie? Ons is mos nie diere nie. Kan dié wat in beheer is nie 'n klein kennisgewing uitskryf en sê ons hou vergadering nie?
Hoekom elke Woensdag die mense laat sit soos poppe? Ek voel glad nie gelukkig oor die situasie nie, want ek sou die saak anders benader het vir almal se beswil.
Kan daar nie aan die einde van die dag vergader word as almal geholpe is nie?
Die mense wat wag is almal oud, vol skete en kwale, maar mense wat ook op hul dag iets beteken het vir Wellington se gemeenskap.
Sylvia le Cordeur
Dr Breslau Kruger, senior mediese superintendent van Paarl Hospitaal, reageer: Die diensure van kliniekpersoneel is 07:00 to 16:00.
Die hek word om 06:30 oopgesluit deur die sekuriteitswag. Vir sekuriteitsdoeleindes en verstaanbare redes moet daar sleutelbeheer toegepas word en kan die kliniek se sleutels nie vir die sekuriteitswag gegee word om huis toe te neem nie, aangesien hy vir 'n private firma werk.
Dit is dus onsinnig vir pasiënte om vanaf 04:00 by die kliniek te gaan wag terwyl hulle weet wat die kliniektye is.
Pasiënte wat voor 10:00 hul kaartjies in die houer plaas, word nie weggewys nie. Diegene wat na 10:00 aanmeld, word geëvalueer ten opsigte van hul besoek en word dan daarvolgens hanteer. Hulle word nie summier net weggewys nie.
Indien pasiënte te enige tyd die kliniek kom besoek, sal die personeel nooit teen 16:00 klaarkry nie.
Dit is absoluut noodsaaklik dat die aptekers gereeld vergader om nuwe regulasies en vereistes van die Aptekerswet te bespreek.
Die hoofapteker van Paarl Hospitaal het reeds 'n kennisgewing uitgereik wat hierdie situasie aan pasiënte uitspel.
Daar sal in die toekoms gepoog word om die tydperk van vergadering tot die minimum te beperk sodat dienslewering nie negatief beïnvloed word nie. |