|
'n BEHOORLIKE heksejag het in die Paarl losgebars ná verlede week se berig oor raadslede in die ANC/NNP koalisie wat voel hulle word "wees gelaat" deur die huidige politieke bestel in Drakenstein.
Sedertdien is beskuldigings oor wie dan kwansuis met die Paarl Post sou gepraat het, blykbaar aan die orde van die dag was in NNP-geledere.
Daar was selfs raadslede wat beweer het hulle het die "skuldiges" by die koerantkantore sien ingaan. Dit terwyl verskeie onderhoude elders gevoer is.
Na verneem word, is sekere raadslede selfs gevra om beëdigde verklarings af te lê dat hulle nie met die Paarl Post gepraat het nie.
Ten minste een van dié raadslede is besig om regsadvies in te win oor 'n moontlike lastereis.
In 'n amptelike verklaring het Johnny Schippers (NNP LP) dit betreur dat koalisielede in Drakenstein stadsraad hul "ongelukkigheid" by die pers bekla het.
"Dis seker hul goeie reg om onder die beginsel van anonimiteit hul identiteit te beskerm, maar party-lojaliteit moet ook seker 'n rol speel."
Burgemeester Herman Bailey het sy verbasing uitgespreek oor die klagtes van raadslede dat hulle "wees gelaat" is deur die Burgemeesterskomitee en dat wyksraadslede geen magte het nie.
"Die ou stelsel van Burgemeester, Uitvoerende Komitee en Raad is in Junie deur die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering vervang deur die stelsel van Uitveroende Burgemeester.
"Uitgebreide magte is aan die Burgemeester toegeken in samewerking met die Burgemeesterskomitee.
"In 'n deelnemende proses het die leierstrukture van die NNP en die ANC (die koalisie) hul voorkeur naamlyste aan die Burgemeester voorgelê, waaruit die komitee van tien lede aangewys is.
"Hierdie proses was vooraf bekend en juis daarom vind ek dit vreemd dat hieroor nou gekla word.
"Wat die DA betref is dit korrek dat hulle nie in die Burgemeesterskomitee verteenwoordig is nie, omdat hulle deel van die opposisie is. By rade waar die DA in bewind is, is daar slegs DA lede in die Burgemeesterskomitee."
Volgens Bailey is die portefeuljekomitees so saamgestel dat dit verteenwoordiging het van alle politieke partye (Artikel 80 komitees).
"Die Burgemeesterskomitee vergader tweeweekliks om sake spoediger af te handel, terwyl die volle Raad hoogstens een keer per kwartaal vergader om die bevoegdhede waaroor slegs die Raad beskik, te hanteer.
"Die Uitvoerende Burgemeester moet steeds aan die Raad rapporteer deur middel van periodieke verslae. "Al 58 raadslede ontvang dieselfde agenda as die Burgemeesterskomitee en is dus op hoogte van elke item wat op die vergadering behandel word.
"Binne elke politieke groepering se koukusvergaderings word voldoende geleentheid gegee vir insette van alle partylede tot die denke wat in die verskillende items opgeneem moet word.
"As lede dan weier om die koukusvergaderings by te woon, ontsê hulle hulself die geleentheid tot deelname," sê Bailey.
Hy meen die aantygings dat die meerderheid lede van die Burgemeesterskomitee proporsionele raadslede is, dra geen gewig nie.
"Daar is geen verskil in die status van 'n wyksraadslid en 'n proporsionele raadslid nie.
"In die nuwe bedeling gaan daar 'n reusetaak op die skouers van wyksraadslede rus met die instelling van Wykskomitees vir Drakenstein.
"Wat raadstoelaes betref, is dit korrek dat daar 'n verskil is in dié van gewone raadslid en die voltydse lid van die Burgemeesterskomitee.
"Van Burgemeesterskomiteelede word in terme van die Wet verwag om al hul aandag aan die taak te wy en ook mag hulle geen ander voltydse werk hê nie."
Hy het die verwysing van raadslid Deeflefs du Toit na die "Drakenstein politburo" met "die grootste minagting" verwerp.
"Dit sal baie help indien die opposisie 'n meer konstruktiewe rol wil speel en sodoende 'n bydrae maak tot die verwesenliking van die doelwitte soos vervat in die GOP," het Bailey gesê.
"Gesamentlik kan ons van Drakenstein 'n wen-munisipaliteit maak, maar dan moet dit die erns van elke raadslid wees om toegewyd sy rol te vervul, nie in eie belang nie, maar ter wille van die mense wat ons daar gestel het om hulle te dien.
Volgens Schippers word beslis van konsensuspolitiek in die NNP/ANC koalisie gebruik gemaak en dit werk goed.
"Die afleiding wat gemaak kan word, is dat die 'beswaarde groep' ontevrede is omdat hulle nie op die Uitvoerende Burgemeesterskomitee dien nie.
"Enige party het ook seker die reg om stappe te neem as enige onwaarheid verkondig word.
"Die berig skep die indruk dat 'n groot groep die aantygings gemaak het, maar by wyse van eliminasie, kan ons slegs aan twee lede dink."
"Ons is besig met 'n voorlopige ondersoek om die identiteit van die 'groep' vas te stel, en daarna sal konkrete voorstelle gemaak word om, indien hulle bona fide NNP-lede is, dissiplinêr op te tree."
* The NNP has launched a witchhunt to identify councillors who have complained about the 'authoritarian' executive mayoral system. |