|
HOEWEL die plaaslike atlete wat almal aan die Statebond Jeugspele in Australië deelgeneem het nie een 'n goue
medalje kon inpalm nie, beaam hulle dat die ervaring self wel goud werd was.
Reagan Julius van die Paarl Atletiekklub is die enigste Paarliet wat met 'n medalje kan terugkom van Bendigo,
Australië.
Julius se sprong van 7,45m het hom 'n brons in die verspring verseker. Die Aussie, Chris Noffke, het die item gewen
met 'n afstand van 7,64m gevolg deur die Brit, Bernard Yeboah met 7,60m.
Reagan se pa, Raymond, het die SA atletiekspan vergesel as afrigter.
"Dit was goeie blootstelling vir die atlete. Die feit dat Reagan in 2003 aan die Jeug... Wêreldkampioenskappe
deelgeneem het, het hom gehelp om die druk van internasionale kompetisie beter te verwerk.
"Die Statebond Jeugspele het die atlete goed voorberei vir die 2006 Statebond Spele en Olimpiese Spele in 2008 in
Beijing," het Raymond gesê.
Hy het bygevoeg dat die hewige humiditeit tesame met baie warm sonskynweer die atlete se sake bemoeilik het.
Daarby het die nege tydgrense wat die Suid-Afrikaners moes oorsteek en die min tyd wat tot hul beskikking was om te
klimatiseer en die vlugvoosheid af te skud, ook hul vertonings beïnvloed, sê Raymond.
"Die twee lande wat ons gewen het, het nie so gesukkel met die tydsaanpassing nie. Die Australiërs het natuurlik nie
'n probleem gehad nie, maar die Engelse atlete het reeds 10 dae voor die Spele in Australië aangekom om genoegsaam aan te pas."
Nog 'n Paarl atleet wat ook kwaai deur die tydskwessie omvergewerp is, is die fietsryer Magdalene Nicholson.
Nicholson het in beide pad- en baanwedrenne deelgeneem en moes skaars vier uur nadat sy in Australië geland het en ná
36 uur van reis, haar eerste wedren ry.
"Die baan was ook ongewoon, met drie hoeke en een reguit gedeelte en dit was plat," vertel Magdalene wat ook gekies
is om die Suid-Afrikaanse span te lei tydens die openingseremonie van die Spele.
Die jong Paarliet het in reën en koue weer teen baie sterk kompetisie gejaag.
"Al die meisies wat gery het, het in Augustus aan die Junior Wêreldkampioenskappe in Los Angeles deelgeneem. Maar ek
het ook baie tricks geleer. Die Nieu-Seelanders en Australianers het saamgewerk, terwyl die Engelse en Walliese fietsryers mekaar weer gehelp het. Ek was op my eie, maar dit was 'n groot uitdaging want ek het met elke attack saamgejaag,"
vertel sy geesdriftig.
Magdalene het sewende gekom in die 500m tydtoets, 13de in die 10-15km tydtoets, en agste in die 7,5km gelykstaande
wedren. Sy het in die puntewedren uitgeval, nie vir die naelry-finaal gekwalifiseer nie en in die Kirin oor 2km het haar ketting in die laaste ronde afgeval.
"Ek het baie geleer en weet nou ten minste teen wie ek in Januarie gaan ry in die Jeug Spele in Australië," het sy
gesê.
Dit was ook die eerste keer dat Rèniell Matthysen van Paarl Fietsryklub oorsee deelneem.
Matthysen wat eers verlede maand 16 geword het, was die jongste ryer in die veld.
Die jong leerder van Hoërskool Labori was 14de in die 20km puntewedren en 11de in die 10km gelykstaande wedren. In
albei wedrenne het hy 'n beter posisie behaal as die gerekende SA jaer, Kyle Swain.
"Hy het baie ondervinding opgedoen. Rèniell sê, hy het gedink hy weet wat fietsry is, nóú weet hy wat fietsry is,"
het Rèniell se pa, Reinald Dinsdag gesê.
Die gemiddelde spoed van die wedrenne waarin Matthysen gejaag het, was 'n blitsige 55km per uur. Daarby het hy nog
met sy ligter ratverhouding gery vir deelname in die o.16 jaar afdeling.
Drie ander plaaslike seuns, Hilton Lobberts (New Orleans Sekondêr), Ricardo Croy (Paarl Gim) en Terry Jacobs (Hoër
Jongenskool Paarl) was deel van die Suid-Afrikaans Sewesrugbyspan.
Dié span het in die inleidende wedstryde die Cook Eilande (24-17) en Skotland (26-0) geklop maar toe 38-15 teen Fidji
vasgeval. In daaropvolgende wedstryde het hulle weer die Cook Eilande (38-7) geklop, maar 31-7 teen Samoa verloor. In hul finale wedstryd het hulle vir Skotland 12-5 geklop.
SA was derde in die medaljes-oes met met Engeland tweede en Australië eerste.
|