|
VALENTYNSDAG is dié een besonderse dag waar paartjies hul liefde kan bewys, en wanneer enkellopendes dalk nie meer
alleen sal wees nie.
Paarl Post het onlangs die jongklomp nader getrek en hul menings gevra oor dié spesiale dag.
Hulle het baie te sê gehad oor hoe 'n mens Valentynsdag moet vier.
Elrich Koopman is slegs nege jaar oud, maar weet alreeds dat as dié spesiale dag aanbreek, die mense geskenke vir
mekaar uitdeel. "Ek gaan vir my ma en ouma 'n roos en 'n kaartjie gee, want ek is lief vir hulle."
"Op Valentynsdag trek die mense baie mooi klere aan. Hulle trek rooi en wit aan, en ek gaan ook op Valentynsdag dié
kleure aantrek."
"Baie mense en outjies en meisies gaan eet uit in die restaurante en dan is hulle baie verlief. Hulle soen mekaar en
gee mekaar drukkies. Ek gaan die dag baie geniet."
Angelique Clayton voel dit is die dag wat liefde simboliseer. Dit is 'n spesiale dag vir paartjies en alleenlopers
asook familielede en vriende, want families en vriende kan liefde en dankbaarheid toon teenoor mekaar
"Valentynsdag kan wêreldwyd as 'n vreedsame dag beskou word aangesien mense gefokus is om hierdie dag
vir iemand spesiaal te maak. "Dit is die perfekte uitbeelding van liefde teenoor haat. Hierdie dag het 'n positiewe invloed op die bevolking in sy
geheel. Dit is 'n straaltjie lig in 'n lewe geteister met misdaad en teleurstellings.
"Valentynsdag gaan ek myself 'n bietjie bederf met sjokolade en 'n romantiese fliek. Miskien ontvang ek dalk 'n
kaartjie of 'n bos rooi rose, maar ek sal nie my hoop daarop sit nie.
"Ek dink die gemeenskap moet op hierdie dag mekaar omhels en dit as 'n begin beskou om nader aan mekaar te beweeg en
minder in stryd met mekaar te leef."
"Op hierdie manier kan die individu besluit dat hy of sy nie net op hierdie spesiale dag mekaar sal liefhê en liefde
toon nie, maar elke dag as 'n spesiale dag beskou."
Ja, enkellopendes kan ook hulself geniet, maar wat doen die verliefde paartjies?
Samantha Davids en Marcel Theunissen sê dat hulle nog steeds so verlief is, soos die eerste dag toe hulle mekaar
ontmoet het.
"Ek voel dit is 'n baie spesiale dag. Nie net kan verliefdes mekaar met liefde bestrooi nie, maar vriende en families
kan liefde van een en elkeen ontvang.
"Valentynsdag is dié dag dat daardie spesiale persoon die ekstra myl gaan om iets spesiaal vir jou te doen," sê
Samantha.
Marcel stem heelhartig saam: "Dit is nie net op hierdie dag dat jy jou liefde moet toon nie, maar elke dag. Ja,
natuurlik gaan jy net die bietjie ekstra doen om te verseker dat die dag vir jou geliefde spesiaal is."
"Ek beplan 'n spesiale verrassing vir my geliefde en op Valentynsdag sal sy sien dat ek haar meer lief het as ooit."
"Paartjies moet vir mekaar sê 'Ek is lief vir jou', nie net op Valentynsdag nie, maar elke dag.
"Moenie dat sy voel jy skeep haar heeljaar af en nou probeer jy opmaak nie."
"Valentynsdag is 'n wonderlike dag en almal moet probeer om op hierdie dag nie net vir geliefdes liefde te toon nie,
maar vir vriende en families ook.
Skepties
Die ouer generasie is baie meer skepties oor dié dag en probeer om nie so 'n ophef daarvan te maak nie.
Soos een dame dit gestel het: "Ek is nog altyd lief vir my man. Hoekom moet ek dan nou vir hom sê hoe lief ek hom
het.
"Netnou dink hy daar is iets aan die broei."
|