|
Terwyl Wellington steier onder die moord in 'n idilliese tuin in Burgstraat, word vrae gevra oor die
verdagte.
Hoe kan 'n man wat tien jaar oud was toe hy die eerste keer met die gereg gebots het, en sedertdien 25
keer skuldig bevind is aan huisbraak en diefstal, vry rondloop?
Ná sy mees onlangse vrylating uit die tronk in Mei verlede jaar, is hy die verdagte weer in
wonings in Uitsig, Bain- en Burgstraat betrap.
Slagoffers het hierdie week vertel dat die verdagte daarvoor bekend is dat hy inbreek en steel terwyl
huismense tuis is.
Terwyl Elton John Lourens (27) Maandag van die moordtoneel deur aangrensende erwe gevlug het, is by
die woning van die Du Plessis ingestorm en geld gesteel.
Inwoners van die Silwerkruin tehuis vir bejaardes was verstom toe 'n vreemde man skielik in die gange
afgehardloop het en 'n veiligheidsdeur oopgetrap het om uit te kom.
Polisiebeamptes het 'n kordon om die Boland sportvelde getrek toe konst Heinie Pietersen die man met
die bebloede klere opgemerk het.
Hy het hom platgeduik en gearresteer.
Wellingtonners het later die oggend by die hek van die Smuts-woning saamgedrom.
Lisbé was geliefd in die gemeenskap, en het nou weer geluk gevind nadat haar man, die kunsdosent Timo
Smuts, vyf jaar gelede in haar arms aan 'n hartaanval gesterf het.
Sy en haar kinders, Timotheus (17) en Saskia (11), het ná die skielike dood in die woning aangebly. In
November is sy met Francois Smith getroud.
Maandag is Francois per trein na sy werk as 'n redakteur van Tafelberg-uitgewers. Hy moes van die
Kaapstadse stasie na Wellington teruggebring word.
Die kinders moes uit Bridge House en Hugo Rust skole gehaal word en die skoknuus meegedeel word.
In die moordhuis het 'n babahondjie onbedaardelik getjank. Die hondjie het die Smiths net dae tevore
gekry, nadat Lisbé se getroue skaaphond skielik weggeraak het.
Die huishulp, Johanna Buys, wat al elf jaar vir die gesin werk, het verslae gestaan. Sy is altyd 07:00
aan diens, maar dié oggend moes sy eers haar eie kind by die kleuterskool besorg.
Inwoners van Uitsig het vertel dat dieselfde verdagte al van vyfuur daardie oggend by huise probeer
inbreek het.
Johan van der Merwe, ook van Burgstraat, het voor daglig gehoor sy honde blaf en het die man uit sy
erf gejaag. By sy voordeur het hy 'n panga gekry lê.
Terselfdertyd het 'n buurman 'n mes op sy voorstoep gekry. Die mans het die verdagte
agternagesit, maar moes die aftog blaas.
Hulle het die polisie geskakel en van die vermeende inbreker ingelig. 'n Uur later is Lisbé vermoor.
"Dis omdat daar so sag gewerk word met misdadigers," het inwoners gemeen.
"Dit gaan vandag oor menseregte. Het Lisbé nie 'n reg gehad om te lewe nie?"
Lourens, 'n werklose man van die informele woongebied by Maylaan, Mbekweni, is in hegtenis. Hy word in
voet- en handboeie aangehou ná 'n selfmoord-dreigement.
Lourens was op parool nadat hy nege maande gelede uit die gevangenis vrygelaat is. Nou word hy
aangekla van moord en poging tot moord.
Die saak is gister in die Wellington landdroshof tot 1 April uitgestel. Lourens bly in aanhouding.
"Daar moet nie vinger gewys word nie, maar daar is vrae wat beantwoord moet word.
"Misdaad is aan die toeneem in Wellington en daar moet 'n oplossing gevind word sonder dat ons huise
in tronke verander word."
So praat Deon van Rooyen, 'n Burgstraat-inwoner wat vir Woensdag 16 Februarie om 19:00 'n vergadering
in die Hugenote Laerskoolsaal belê het.
"Die gemeenskap moet koppe bymekaarsit oor sekuriteit."
* Wellington residents are demanding answers after the latest murder shock.
|