|
WELLINGTON hou van Maandag tot Sondag 20 April hul jaarlikse Christusfees.
By hierdie derde Christusfees word voortgebou op vorige jare se suksesse, veral die Passiespel onder leiding van Rozelle Drudè wat Goeie Vrydagaand in Victoriapark aangebied word.
Die program begin Maandag met die jeug wat 'n menseketting gaan vorm teen geweld, asook 'n fakkelloop.
Behalwe die tradisionele Goeie Vrydag Nagmaaldienste in die verskillende gemeentes, bestaan die week se program uit 'n sang- en musiekaand, seminare, 'n voetewasseremonie, 'n pretloop, asook 'n verskeidenheid van programme vir die jeug.
'n Beplande 2000 kospakkies word weer voorberei wat die Saterdagoggend aan kerkleiers in die gemeenskap oorhandig sal word vir hul wat nie kos op die tafel het nie, as 'n gebaar van omgee.
Bo en behalwe die groot finansiële bydrae van die plaaslike sakelui om die uitgawes te dek, word 'n oproep gedoen op groothandelaars, supermarkte, kruideniers en inwoners om hul kosmandjie-harte oop te maak en ruimhartig te gee.
Nie-bederfbare voedsel kan afgegee word by die NG-kerkkantoor in Kerkstraat.
Die Saterdag word 'n feesmark in Victoriapark gehou, wat 'n boekeverkoping deur Lux Verbi, tientalle stalletjies, asook 'n vermaaklikheidsprogram sal insluit.
'n Hoogtepunt is die Gospel Jeugfees die Saterdagaand op Boland Stadion wanneer Cor en Letitia Uys, oftewel O/Karoolus & Lente van Radiokansel se Maranathaland-faam optree.
Die Radiokansel Wellington Christusfees word die Sondagaand om 19:00 afgesluit op Boland Stadion waartydens dr Clifford Heys die prediker sal wees, saam met die Maranathaland-vriende, O/Karoolus & Lente. 'n Groep plaaslike sangers en musikante sal voorgaan met lofprysing en aanbidding.
Vir navrae ,skakel met Kobus Nagel van Radiokansel (082-777-2353), Lea Adams (873-3237/082-959-1869) of kantoorure (08:30-13:00) vir Melanie van Zyl, by 873-1561.
* Daar is nog plek vir vooraf geselekteerde uitstallers en stalletjies vir die feesmark op Saterdag 19 April in Victoria Park. Navrae by Lea Adams, 082-959-1869. |