safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 10 April 2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 16 April 2003 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

People - Mense


Hond se gedagtes

[ Top ]


wtheoHAASTIGE hond mag dalk sy mond verbrand, maar nie Theo Els van Wellington nie. Hy kan binne twee uur jou haastige hond leer sit en soetjies aan die leiband laat stap.

Els waarborg dat hy nie net die woel uit jou worshond, die lui uit jou Labrador en die ruk uit jou Rottweiler sal kry nie, maar ook die St Bernard van jou bed sal afhou.

Hy kan jou hond leer om sproeierkoppe in die tuin, wasgoed op die draad en kos op die tafel te los.

Jou hond kan ook geleer word dat besoekers se motorbande nie daar is om gehap te word nie.

Uit die 130 honde wat Theo Els al by sy Pluto Akademie op sy hoewe De Oude Woning onder hand gehad het, het hy nog net een keer moes tou opgooi.

"Dié hond het my gebyt," sê Els.

"Ek het eers gedink ek probeer weer, maar toe die hond sy eienaar ook byt, het ek besef hy is nie opleibaar nie."

Met die honde se eienaars is dit 'n ander storie, en selfs op dié gebied was daar in al die maande net vier terugslae, sê Els.

"En dit was deur die bank omdat die eienaars nie met die opleiding volgehou het nie."

Els, 'n bedrogondersoeker van beroep, het met die oplei van honde begin as stokperdjie.

Hy gebruik die tegniek wat vervolmaak is deur hondekenner dr Sarel Strydom van Pretoria, en ondersteun deur die bekende dr Platzhund.

Naas Botha se Karin het haar hond by dr Strydom gehad, en oorlede Hansie Cronjé se hond is deur Strydom se seun gehoorsaamheid geleer in Bloemfontein.

Els het 'n kursus van vier weke gedoen en toe die ongehoorsame honde van Wellington na sy hand begin leer.

Dit is 'n basiese gehoorsaamheidskursus, nie 'n aanvalskursus nie. Daarvoor stuur Els die kliënte na sy medehonde-afrigters in die Vallei.

"Gehoorsaamheidsopleiding is terapeuties," sê Els.

"Jy sien hoe die honde rol en wurg aan die leiband as hy hier aankom, en hoe rustig en gehoorsaam hulle twee uur later hier weggaan."

Die woeligste knape is Jack Russels terwyl Bassets die meeste geduld vereis omdat dit lyk asof hulle niks kan onthou nie, sê Els sonder aarseling.

Die Dalmatian is moeilik opleibaar, want hy is so senuagtig. Hulle eienaars moet baie stap in hul gebied, sodat die hond kan sosialiseer.

Rottweilers is hoogs opleibaar, sê Els, al het hy al "'n knypie of twee aan die agterbeen" gehad van dié soort hond.

"Alle honde kan geleer word, sommige net makliker as ander. En sommige is so bederf dat hulle skoon hardhorend geword het."

Die mooiste woorde vir Els is wanneer 'n eienaar skakel en sê: "Die hond luister nie vir my nie."

Dan kan hy met 'n skoon gewete sê: "Bring maar jou hond. Hy sal soos 'n Volkswagen hier aankom, en hy sal soos 'n Mercedes met 'n kragstuur weggaan."

Els sê: "Hy gaan aan sy leiband langs jou stap of saam met jou draf, sonder 'n getoutrekkery.

"Hy gaan nie opspring nie, en hy gaan bly daar waar jy vir hom beveel om te bly."

Maar die sukses lê by die eienaar, beklemtoon Els.

Die hond sal binne twee uur die bevele bemeester, met en sonder leiband, maar dan moet die eienaar elke dag met die hond oefen.

Die beste leertyd vir honde is tussen die ouderdomme ses en 18 maande, sê Els.

Die eerste twee uur se opleiding by De Oude Woning is gratis. Wanneer die kliënt tevrede is as hy die hond kom haal, moet die baas en sy hond saam vir nog 'n twee-uursessie kom. Dié koste is R650.

Die volgende twee weke verskaf Els 'n opvolgdiens, en daarna is dit in die hande van die eienaar.

Die eerste drie maande is baie belangrik, sê hy, en daarna behoort die hond nie sy opleiding te vergeet nie.

Nou hoekom moet jy so sukkel om hond haar-af gemaak te kry met Wagter of Vlekkie of Ounooi-se-honne?

* A Wellington dog trainer needs two hours to teach your dog obedience.

 


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za