|
'n GEBREK aan sportmangees en klubbesture wat nie beheer kan uitoefen nie, is die wortel van die geweld-probleem in die provinsie se klubwedstryde.
Dít is aangevoer as die onderliggende oorsaak van die probleem in 'n spesiale vergadering Maandagaand op Wellington wat gehou is nadat die Boland onder skoot gekom het vir die sogenaamde "geweldstoestande" wat in sekere klubwedstryde plaasvind.
Moorreesburg Rugbyklub het verlede week alle bande met Boland Rugby verbreek nadat spelers in 'n Superliga A1 wedstryd teen Roses United van Wellington weens beweerde vuilspel steke en mediese behandeling moes ontvang.
Moorreesburg, een van die sterkste klubs in die Boland, het aangedui dat hulle voortaan hul rugby gaan speel by Rugga SA, 'n liggaam wat deur 'n oud-voorsitter van Robertson Rugbyklub, Stoney Steenkamp, op die been gebring is, en as alternatief dien vir spanne wat ontevrede is met die huidige situasie in klubrugbystrukture in die Wes-Kaap.
Amptenare van die Boland Rugby Unie (BRU) asook voorsitters en afrigters van al die klubs in die provinsie het die vergadering bygewoon wat deur die Boland-president, Jackie Abrahams, gelei is.
"Ek sou my plig as president versuim as ons nie die probleme deur sinvolle gesprekvoering probeer oplos nie," het Abrahams Maandag gesê.
Hoewel hy erken het dat daar by sekere klubs probleme is, het hy aangevoer dat die beeld van klubrugby in die Boland, soos weergegee in die koerantberigte van die afgelope week, buite konteks was en "dalk 'n wrede veralgemening is."
"Die beeld van Boland Rugby is aan flarde geskeur," het hy gesê.
Dronkenskap, onwettige drankverkope, onwelvoeglike taalgebruik, en geniepsige of vuilspel en bakleiery van die veld af is die groot probleme by klubwedstryde, volgens 'n verslag wat voorgelê is.
"Elke klub is verantwoordelik vir orde, dissipline en die bestuur van rugby op sy gronde. Ek weet dit is nie die geval by sekere klubs nie. Baie klubs doen weinig of niks om te verseker dat mense veilig voel op en langs die rugbyveld.
"Daar is sekere klubwedstryde waarnatoe ek nie my dogter sal neem nie want ek kan myself beskerm, maar nie vir haar ook nie," het Abrahams gesê.
Hy het bygevoeg dat dit die verantwoordelikheid van die klubbestuurslede is om na die probleme om te sien.
"Wys besope toeskouers by die hek weg, en stop die onwettige dranksmokkelary by die velde. So moet toeskouers wat onwelvoeglike taal gebruik ook van die veld verwyder word.
"By sekere velde is die bestuur egter onsigbaar, hulle is almal bekommerd of die eerste span nou wen of wil die skeidsregter konfronteer oor 'n beslissing."
"As jy 'n bevreesde persoon is, moenie 'n bestuurslid wees nie. 'n Bestuursposisie is nie 'n eer nie. Jy moet jou man kan staan en die mense aanvat wat verkeerd doen langs die veld," het Abrahams gesê.
'n Lid van die vergadering het gesê dat dit moeilik is om sekuriteit by sekere velde te verseker aangesien dit in gebiede geleë is waar smokkelhuise en ander ongewenste elemente dit omring.
"Van al die klubs in die Boland is 90% bruin, met velde in agtergeblewe gebiede. Ons weet daar moet 'n proses gevolg word tot die opvoeding van ons mense. Maar dit maak die uitdaging net soveel groter. Ons moet nie 'n slaaf word van ons omstandighede nie," het Abrahams gesê.
Volgens Gerhard van Vuuren, voorsitter van Ceres Rugbyklub, is sy spelers bang om op sekere velde te speel.
"Hoekom moet spelers bang wees om op sekere velde te speel? Ons kan sê dit is geisoleerde voorvalle, maar net een voorval waarin iemand met 'n bottelnek gesteek of 'n speler se oë wat probeer uitgekrap word, is te veel," het Van Vuuren gesê.
Hy het bygevoeg dat Ceres "niks van Rugga SA wil weet nie."
"Maar dit help nie spelers sê Saterdag vir ons op die rugbyveld, 'Gaan speel vir Rugga SA nie'. Dit help nie ons gee hier op 'n vergadering 'n front van eenheid voor en klap hard hande as daar van rassisme gepraat word, maar dan word ek 'n rassis genoem as ek iemand langs die rugbyveld uitwys wat verkeerd doen nie," het Van Vuuren gesê.
Voorsitter van die Botrivier Rugbyklub, WC Oelofsen, het op sy beurt gesê dat spelers van sekere klubs wat nie die besoekende bestuur groet nie, eenkant alleen hul motors trek en "hoogmoedig langs hul neuse af kyk" na die ander spelers, gemoedere langs die veld ook versuur.
"Dit maak ook emosies seer," het hy gesê.
Daar is ook genoem dat die skeidsregter dikwels die rede is vir die gebruik van vuiltaal en aggressie langs die veld.
"Julle sal verbaas wees oor sekere afrigters se gebrek aan kennis van die reëls. Dat 'n skeidsregter 'n fout kan maak ís so, maar hel, hanteer hulle as mense," het Abrahams geantwoord.
Abrahams het gesê dat dit grondwetlik onmoontlik is om Rugga SA te stop.
"Maar dit maak my diep ongelukkig dat hy mense bymekaarmaak en op 'n pad lei waar daar vir hul geen toekoms lê nie. As hy dit wil doen, moet hy Boland Rugby en Sarvu uitlos. Hy is oningelig. Hy dra nie kennis van wat Sarvu doen vir klubs en amateurrugby nie," het hy gesê.
Die Bolandse president het 'n beroep op almal teenwoordig gedoen om hulle te verbind tot die aanspreek en oplos van al die betrokke probleme.
Jackie Abrahams het beaam dat Moorreesburg Rugbyklub steeds deel kan wees van die Boland Rugby-unie, maar dat hy nie na Moorreesburg sal gaan vir onderhandelings nie.
* Moorreesburg Rugbyklub het in antwoord op 'n uitnodiging van Boland om vanaand op Wellington te vergader, gesê die BRU moet die gemeenskap van die dorp daar kom toespreek aangesien hul "volgens 'n mandaat van die gemeenskap opereer". Hulle het die uitnodiging van die hand gewys. |