ppostgothic
Aida
safetop
uitlefstreep

Thursday 10 June 2004

uitlefstreep

This site will be updated on 17 June  2004 at 17:30

Youth - Jeug

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Syferghoeroe

Malané Bosman

[ Top ]


DIE gogga het in die destydse Sub A gebyt toe Gerhard du Toit van Denneburg aan sy eerste wiskunde-kompetisie (vir standerd twees) deelgeneem het.

En van daardie dag af het Gerhard (17), nou in matriek aan die Hoër Jongenskool Paarl, nooit weer teruggekyk nie.

Sedert graad agt het Gerhard elke jaar aan die wiskunde-olimpiade deelgeneem, en klokslag met 'n goue medalje huis toe gekom.

Dis beslis gene, lag die jong man. Sy ma, Liezel, is 'n Wiskunde-onderwyseres by sy skool..

wgerhard01FC

KWOSIëNTE EN KLAWERS. Gerhard du Toit het 'n kop vir wiskunde, vingers vir klavier en voete vir fietstrap.

Maar dis nie sy wat vir Gerhard onderrig nie - hy leer al vyf jaar lank die fynere puntjies van wiskunde by mev Jessie Bester.

Verlede week het Gerhard weer goud verower deur die eerste plek te behaal in die matriek-afdeling van die Universiteit van Kaapstad se Wiskunde-kompetisie.

Twee weke voor vanjaar se winter olimpiese spele in Griekeland, sal hy aan nog 'n Wiskunde-kompetisie, in Athene, deelneem. Hy het ook verlede jaar deelgeneem aan die internasionale Wiskunde-olimpiade in Japan.

Soos prof John Webb van Ikeys se olimpiades sê, sukses vereis talent, goeie onderrig en tonne harde werk, en Gerhard stem saam.

Maar hy sit nie heeldag by sy lessenaar nie. Hy speel klavier en fluit vir ontspanning en hy ry kompeterend padfiets "om stres af te werk."

Volgende jaar beplan hy 'n werkstoer na Amerika en Europa, en daarna sal hy op die Stellenbosch universiteitsbanke wees vir 'n kursus in ingenieurswese, elektronika of rekenaarwese.

Dié jong man werk sy toekoms fyn uit


Ons moet leer uit die verlede

John Goliath

[ Top ]


VIR sommige is dit 'n dag om in die tuin te werk, laat te slaap of inkopies te gaan doen, maar vir baie jongmense is komende Woensdag se herdenking van die jeugopstand van 16 Junie 1976 'n viering van hul menswees.

Onderwysstudent Charles Lamprecht, voorsitter van die Wellingtonse Studenteraad van die Kaapse Technikon, sê Jeugdag het 'n groot historiese verbintenis en mag nie vergeet word nie.

"Die dag is daar om dié jeug wat voor ons gegaan het te onthou en om uit die foute van die verlede te leer," sê hy.

"Jongmense kan 'n verskil in die land maak, hulle moet oorneem waar hulle voorgangers opgehou het.

"Ons moet 'n positiewe bydrae in die land begin maak en nie net wag vir hooggeplaastes om ons toekoms vir ons te bepaal nie," sê hy.

Volgens hom is skole die hoeksteen van die jeug se ontwikkeling: "Ons moet begin om in ons onderwysers en  kinders te belê. Hulle is die platform waarvan groot dinge in die land kan gebeur," sê hy.

Edwina van der Horst, ook 'n vierdejaar-onderwysstudent by dié kollege, sê die feit dat jongmense gesterf het vir hul vryheid moenie vergeet word nie.

Volgens haar is een dag in die jaar eintlik te min om die verlede te gedenk.

"Daar moet meer geld in ontspanningsplekke vir die jeug belê word om hulle aan te spoor om 'n meer positiewe leefwyse te volg."

Samantha van Wyk, voorsitter van die studenteraad by Hugenote Kollege op Wellington meen dié dag moet die jeug herinner om nie hul "roots" te vergeet nie.

"Dié dag moet gebruik word om oor ons (die jeug) verantwoordelikhede te besin sowel as hoe ek die geleentheid kan gebruik om 'n beter persoon van my te maak," sê dié student in maatskaplikewerk.

Uiteindelik hang dit van jouself af wat jy met jou lewe maak, meen sy.

"Wat jy vandag insit beïnvloed jou môre," sê dié meisie van Warrenton in die Noord-Kaap.

Christi Thirion, 'n student in jeugbediening by Hugenote Kollege, sê behalwe vir die Comrades Marathon is Jeugdag ook die dag waarop jongmense hul vryheid kan vier.

Hy meen dis tyd vir alle jongmense om meer positief oor die lewe te dink.

"Ons het baie om voor dankbaar te wees en kla te veel. In vergelyking met ander lande in Afrika is Suid-Afrika tops."

Volgens hom benadeel Vigs, werkloosheid en ekonomiese ongelykheid wel die land.

"Maar daar is hordes geleenthede wat moet raakgesien word om 'n verskil te maak aan die welvaart van die jeug. Ons moet begin om die hartseerverhale in positiewe verhale te verander," sê hy.

Sipho Bokuva van Wellington, 'n sakestudent by Koinonia, sê dit is die jeug se plig om op die nagedagtenis van die jeug wat op dié dag gesterf het, voort te bou.

"Baie kinders het gesterf om vir ons die geleenthede te gee wat ons nou het. Jy kan nou studeer waar jy wil, werk waar jy wil en jou potensiaal ontwikkel."

Volgens hom moet daar drasties gekyk word na die hoë werkloosheidsyfer in die land. Meer werk moet vir die jeug geskep word.

Esmerelda Jansen, ook 'n sakestudent by Koinonia, sê die jeug het 28 jaar gelede groot offers gebring: "Van wat hulle ingesit het, pluk ons tans die vrugte."

Volgens haar moet die jeug begin belê in hul toekoms en meer belang stel in die Suid-Afrikaanse politiek.

"Plaaslike vryheidsvegters soos Lizzie Phike en Rocky Mafekeng het geveg sodat die jeug 'n beter toekoms kan hê. Hulle is vroue van formaat."

Peter-John Pekeur, 'n grafiese kunsstudent by die Peninsula Technikon en ook 'n "hip-hop" kunstenaar in Paarl, sê vir hom is jeugdag 'n geestelike fees.

"Soos Jesus sy lewe vir sy volk opgeoffer het, het talle jeugdiges op dié dag vir ons hul lewens opgeoffer en gesterf sodat ons 'n beter lewe kan hê.

"Ons het keuses, wat hulle nooit gehad het nie," sê hy.

Sy kunstenaarpa, Selwin, inspireer hom deur sy skilderye.

"My pa skilder altyd mense van verskillende rasse wat hande vashou en saam leef - dit is die pad wat ons in die toekoms in die land moet volg."

* On Youth Day, the youth must commemorate those who made sacrifices to ensure their freedom, say local youth leaders.


Jeugdag op Wellington

[ Top ]


DIE Beheerrade Forum van Wellington & Distrik, wat skole in Wellington, Mbekweni, Agter-Paarl en Agter-Wellington verteenwoordig, beoog groot Jeugdagvieringe Woensdag op Boland-stadion.

Die dag begin om 07:30 met 'n fakkelloop en optog na die stadion, waar die simboliese aansteek van kerse om 09:15 volg.

Die Wes-Kaapse Minister van Onderwys, Cameron Dugmore, is die spreker om 13:40. Om 15:30 praat dr Allan Boesak.

Sang- en dansitems sal deur die deelnemende skole gelewer word, met 'n spesiale optrede deur die Jesus Christ Ambassadors.

Leerders van Hugenote Hoër sal die Regte van die Kind voorlees, terwyl Wamakersvallei snitte uit die lewe van iemand met MIV/Vigs voordra.

Bergrivier Sekondêr lewer 'n huldeblyk aan die vaders van demokrasie en ook 'n Vryheidsdans.

Die program sluit net na 16:00 en om 18:45 word daar nagmaal bedien by die VGK Bergrivier.

Navrae by Mara Dolman, telefoonnommer 873-2301.


Youth Day in Paarl

[ Top ]


GREAT festivities are planned for Paarl to celebrate Youth Day on Wednesday 16 June.

Koinonia will host a fun day of athletics, discussions and a disco as part of the Born to Win project.

The day will start with a fun run - entry forms are available at Koinonia Community Centre in Lady Grey Street in Paarl. 

After the fun run, Radio KC's Get a Life team will be broadcasting discussions and talks on Youth Day since 1976 and the way forward for the youth in Paarl and South Africa. 

The day will be rounded off with a live broadcast of DJ's and local artists.

The organisers GoodStuff Promotions are also planning to visit as many schools as possible during the week.

The tour is aimed at teaching the youth about their responsibilities in society and to become outstanding citizens in our country.

Local artists will join the Born to Win team to motivate everybody to become winners. 

Schools can phone the info line on 073-337-1406 to book and sponsors are welcome.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]