|
KOOL, spinasie, prei en beet - hope gesonde groente laat nou die sente inrol vir 'n groep vroue van Fairyland en Mbekweni. Raadslid Emma Classen is nie min trots op hierdie breinkind van haar wat nou sy eerste vrugte afwerp nie.
Ná lang onderhandelinge het die groep vroue 'n stuk grond van Allandale Korrektiewe Dienste gekry en hier het hulle vroeër vanjaar begin groente plant.
Agttien vroue is by die projek, wat bekend staan as "Let us grow women", ingeskakel.
Onderburgemeester Anthea Sheldon, wat aan die hoof staan van die raad se Armoedeverligtingsprogram, het bemesting verskaf vir die projek.
Nou het hulle hul eerste oes gehad. Die vroue kry van die groente vir eie gebruik en die res is verkoop.
Raadslid Claasen sê hulle wil in die toekoms kyk om van die groente aan bejaardes en TB-lyers te verskaf, moontlik deur 'n sopkombuis.
Intussen het die vroue reeds weer kool, spinasie en prei geplant. Hulle is nou besig om bykomende grond te ploeg vir die plant van aartappels. |