ppostgothic
safetop Aida
uitlefstreep

Thursday 11 March 2004

uitlefstreep

This site will be updated on18 March  2004 at 17:00

 Letters - Briewe

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

Watter regte het ons belastingbetalers?

[ Top ]


EK is 'n getroue belastingbetaler en inwoner van Wellington en gereelde leser van Paarl Post. Dit is kommerwekkend om te lees wat in Drakenstein Munisipaliteit aan die gang is, maar onlangse berigte maak dit nou ook verstaanbaar waarom die verswakking van algemene dienste wat deur ons munisipaliteit verskaf word, plaasvind.  

As raadsvergaderings nie 'n grap en skande is op die wyse hoe dit plaasvind nie, dan lees mens van salarisse en raadsvergoeding wat 44% van die begroting uitmaak. 

Om nie te praat van onregmatige aankope van skootrekenaars sonder magtiging nie. 

My vraag is: Waarom nog belasting betaal as jou swaarverdiende geld so gemors word?

Die algemene praktyk is dat jy as individu betaal vir diens, maar dan verwag jy dat diens van gehalte gelewer word.  

Dit wil asof voorkom dat die arme eiendomsbelastingbetaler nou weens wetgewing 'n strop om die nek het en water uit 'n klip gedruk word. 

'n Monopolie bestaan aangesien die Munisipaliteit nie kompeterende mededinging het wat besparing en oordeelkundige gebruik van belastinggeld aanmoedig nie.

Watter reg het ek as getroue belastingbetaler om insae te hê in wat met my belastinggeld gebeur en watter vertroue kan ek plaas dat hierdie geld nie wangebruik word nie?

Waarom word die Raad nie aanspreeklik gehou vir bedrog en wanpraktyke nie?

Wie is verantwoordelik dat hierdie mense wat so met my en jou belastinggeld mors uit hul ampte ontslaan kan word? Waarom word daar nie opgetree            nie?

Ek stem nie saam met DA Raadslid Deetlefs du Toit se opmerking in sy brief dat die Raad tot orde geroep word nie.

Dit het tyd geraak dat hul verantwoording doen aan ons getroue belastingbetalers anders sal dit lei daartoe dat ons selfs weier dat ons geld so gemors word. 

Die groot munisipale skuld moet ten eerste 'n aanduiding wees dat belastingbetalers lankal reeds gatvol is vir die Raad se optrede en as hul nie spoedig hul huis in orde kry nie, sal die skuldlas hulle almal sonder werk laat.

Ontstoke belastingbetaler


Optrede van Pieter Lourens het geskok

[ Top ]


DIE Boland Atletiekkampioenskappe vir hoërskole is die naweek op Coetzenburg gehou.

Na afloop van die byeenkoms was mnr Wiaan Fourie (hoofkeurder) gereed om die span af te  lees.

Voordat hy dit kon doen, het mnr Pieter Lourens, voorsitter van Boland Ussasa, opdrag gegee dat hy nie die name van die atlete van Hoërskool Paarl Gim, Hoër Jongenskool Paarl, Hoër Landbouskool Boland en Paul Roos Gimnasium wat die Bolandspan gehaal het, uitlees nie.

Toe mnr Fourie weier om die span so uit te lees, is die name aan mnr Gert Engelbrecht gegee wat dit so uitgelees het.

Die outokratiese optrede van mnr Lourens benadeel atletiek en die atlete geweldig.

Die atlete is toegelaat om aan die byeenkoms deel te neem. Hulle het die kwalifiserende standaarde behaal en medaljes en sertifikate ontvang.

Vir die atlete en ouers om tot 22:15 te wag vir die bekendmaking van die span en dit dan as politieke speelbal te misbruik, is vernederend en totaal onvanpas.

Geen verdere reëlings deur ouers of die bestuur kan getref word nie. Dit terwyl bykans 'n derde van die seunspan bestaan uit atlete van dié vier skole.

Dit is betreurenswaardig dat een persoon toegelaat word om soveel skade aan kinders en atletiek aan te rig.

Geskok

Die sekretaris van Boland Ussasa, Fred Josias, reageer: Die Boland USSASA maak kapsie teen die feit dat die president van die organisasie deur die skrywer te na gekom word.

Die grondwet stel dit baie duidelik dat elke skool wat affilieer by Boland met al sy sportkodes moet deelneem aan Boland kompetisies en ook sy spelers beskikbaar stel vir Bolandse spanne.

Die genoemde skole wil rugby speel in die WP en met al die ander sportkodes in die Boland speel. Dit is teenstrydig met Boland se grondwet en Boland kan nie toelaat dat enige presedente geskep word nie aangesien dit tot chaos sal lei.

Ons het op verskeie geleenthede vir die skole voorgestel dat hulle kan aansluit by die WP sodat hulle al hul sportkodes daar kan beoefen.


Keer swaarvoertuie weg van hierdie pad

[ Top ]


KAN die Drakenstein Munisipaliteit asseblief aan die inwoners van Klein Drakensteinweg verduidelik hoekom hierdie straat as 'n deurpad vir swaarvoertuie gebruik word.

Hierdie straat is seker die besigste in 'n bewoonde area in die Paarl. Nogtans word die inwoners en hul kinders blootgestel aan die gevaar van swaarvoertuie wat enige tyd van die dag of nag hierdie pad gebruik.

Hulle is net so 'n groot gevaar vir voetgangers soos die taxi's wat hulle nie steur aan enige padreëls of verkeersligte nie.

Vanaf 18:30 tot omtrent 22:00 op 'n warm Vrydagaand, terwyl ek op my stoep gesit het, het ek 23 swaarvoertuie getel wat vanuit die rigting van Worcester in Klein Drakensteinweg afgery het.

Dít terwyl voetgangers heen en weer oor die pad beweeg. Dit sluit ook die voertuie uit wat in die rigting van Worcester beweeg    het.

Hoekom nie Meakerstraat of Langehovenweg gebruik vir swaarvoertuie nie? Die kanse vir lewensverliese op hierdie twee strate is soveel skraler as Klein Drakensteinweg.

Moet daar iets ernstigs gebeur alvorens daar opgetree gaan word?

Bekommerde inwoner


Interessante plakkerbeheer-
beleid

[ Top ]


DIT is baie interessant dat die munisipaliteit Erf 9603, regoor Huguenotstasie, per openbare tender verkoop het, vir ontwikkeling as 'n besigheidsperseel, volgens verlede week se Paarl Post.

Deur hierdie erf te verkoop per openbare tender, met plakkers daarop wat deur die nalatigheid van die Munisipaliteit die erf oorgeneem het, veroorsaak dit dat die erf teen 'n baie laer prys verkoop is, as wat dit sou wees indien daar nie plakkers aanwesig was nie.

Die laer verkoopprys is dus tot nadeel van die belastingbetalers, en dus die dorp in geheel.

Dit is ook duidelik dat die Munisipaliteit deur op hierdie wyse te handel, sy regsplig teenoor sy belastingbetaler ontduik en die koper moet nou sorg dat die plakkers verwyder word.

Die ander moontlikheid is natuurlik dat die erf vir 'n goeie prys verkoop is, omdat die naburige eienaar (die koper) so raadop was met die plakkers dat hy maar self 'n plan gemaak het.

Wat 'n interessante manier om van munisipale eiendom (en plakkers) ontslae te raak.

H Esterhuyze


Spinnekop vat vas

Editorial

[ Top ]


VOOR in die pad brand dalk tog  'n lig - so wil dit lyk as 'n mens kyk na die polisie se ywerige optredes in die Paarl-streek.

Nie net word ernstige misdade voorkom deur verdagtes aan te keer nie, daar word ook met die behulp van die weermag en verkeerspolisie met mening toegeslaan op padgebruikers wat nie weet hoe om hulle te gedra nie.

Waar daar gewoonlik steen en been gekla word oor die beweerde onaktiwiteit en laksheid van ons wetstoepassers, kan wetsgehoorsames vandeesweek breed glimlag.

Tot in Kaapstad het ons polisiemanne nou al gesteelde motors van Paarliete gaan haal, en die motordiewe ook saam teruggebring.

In Operasie Izigcawu (Spinnekop) word oortreders hand en tand beveg in optredes wat hopelik misdadigers permanent aan bande sal lê in ons streek.

Want dit is tyd dat die gewone man in die straat se regte ook 'n slag voorop gestel word - die mense wat die beskerming van die staat se polisie- en regstelsel verdien.

Maar dan moet ons nie die lang arm van die gereg in die wiele ry, deur booswigte by te staan deur hul gesteelde goedere te koop nie.

Dan moet mense alle ferm optrede deur wetstoepassers met ope arms verwelkom, ook wanneer daar oponthoude is by padblokkades, of wanneer 'n straat of buurt afgesper word. Almal gaan  uiteindelik daarby baat.

Indien die regering se begroting sorg dat daar in die toekoms al hoe meer polisielede aangestel word, en dat hulle beter befonds word, kan die gety van misdaad wat ons land oorspoel, dalk net draai.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za  

[ Top ]