|
DIE 28-jarige Arno van Staden is die toonbeeld van gesond lewe. Tog leef hy met 'n siekte wat enige dag sy laaste kan maak.
Arno het Sistiese Fibrose, 'n algemene lewensgevaarlike genetiese siekte wat die longe en die spysverteringstelsel aantas.
Normaalweg hou slym die longe en lugweë skoon deur kieme en stofdeeltjies weg te vervoer. By 'n SF-draer is die slym so dik dat dit die kleiner lugweë verstop. Gevolglik versamel bakterieë, waar dit vermeerder en infeksie tot gevolg het.
Dieselfde gebeur by die spysverteringstelsel. Die oormaat slym verstop die klein buisies in die pankreas wat die ensieme verskaf wat verantwoordelik is vir vertering.
Gevolglik word voedsel nie behoorlik verteer nie en verloor die liggaam die noodsaaklike voedingswaarde daarvan.
Hoewel Arno eers gediagnoseer was toe hy tien jaar oud was, is daar persone wat eers later in hul lewe gediagnoseer word wat erg getref word.
Dit is om dié rede dat Arno vanjaar sy tiende Argus Fietstoer wil gebruik om die publiek van dié siekte bewus te maak.
"Ek wil bewustheid skep rondom SF sodat ek die kinders wat aan dié siekte ly, kan help," vertel Arno.
Hoewel Arno 18 pille 'n dag moet drink, is hy gesond omdat hy van jongs af baie gesond leef.
"Arno het op skool aan tienkamp deelgeneem en tennis, hokkie en muurbal gespeel," vertel Arno se ma, Francine.
Tans oefen Arno twee keer 'n week waartydens hy 300km aflê.
"Ek ry vanjaar my tiende Argus vir die Sistiese Fibrose Vereniging en dit sal wonderlik wees as die publiek en spesifiek, besighede, my kan borg.
"Ek hoop dat jong kinders met SF of enige ander siekte sal sien dat met genoegsame geesdrif en vasbeslotenheid al hul doelwitte en drome kan vervul."
Alle donasies kan in die Vereniging se spaarrekening gedeponeer word, onder Cape CF Fund, Eerste Nasionale Bank, Vishoek 202-309, spaarrekening 62007578852. Die depositostrokie kan aan 782-0566 gefaks word met die verwysing "Arno - Argus".
* Fietsryhemde word tot Saterdag se Argus by die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad verkoop, ten bate van die Danie du Toit (Jr) Trust.
Danie du Toit (31) van die Paarl, 'n eggenoot en pa van vier kinders, is onlangs met chroniese miëloïde leukemie (CML) gediagnoseer.
Dit is 'n tipe bloedkanker wat in die beenmurg ontstaan en Du Toit het dringend 'n beenmurg-oorplanting nodig.
Die soektog na 'n geskikte skenker het reeds begin, plaaslik en internasionaal, maar tot dusver was dit onsuksesvol.
Die Danie du Toit (Jr) Trust is gestig om alle koste van dié soektog te betaal, asook die mediese koste wat nie deur Du Toit se mediese fonds gedek word nie.
Die fietsryhemde is ook beskikbaar by Hein Kroff Fietse in die Paarl, of skakel Anne-Marie by 082-554-6601. Familielede gaan namens Du Toit aan die fietstoer deelneem.
* A Paarlite is to raise funds for cystic fibrosis sufferers during the Argus cycling tour, while another will raise funds for a bone marrow transplant. |