|
DIE keuse van jou beroep is ongetwyfeld een van die belangrikste keuses wat jy in jou lewe maak. Dit moet berus op kennis van die beroepswêreld en voldoende selfkennis.
Selfkennis impliseer 'n realistiese begrip van jou vermoëns, belangstellings, waardes en persoonlikheid sodat 'n bereikbare beroepsdoelwit gestel word.
Om leerders blootstelling te gee aan die beroepslewe en verskillende werksgeleenthede word daar weer 'n loopbaanuitstalling vir Bolandse leerlinge gehou op 17 Maart en 18 Maart in die Paarlse stadsaal.
Leerders wat goed voorberei is vir die besoek en toepaslike vrae vra, behoort hulself hierdeur beter toe te rus met kundigheid om 'n ingeligte toekomsbesluit te maak. Ouerbetrokkenheid kan ondersteunend hierin meewerk.
Die Paarlse skoolsielkundiges reël die uitstalling in samewerking met Paarl Tafelronde 44.
Graad 9, 11 en 12 leerders sal die uitstalling in georganiseerde groepe besoek. Ander leerders, ouers en die publiek is ook baie welkom, gratis.
Die uitstalling sal op Woensdag 17 Maart om 08:30 geopen word deur mnr LJ de Jager (Obos Weskus-Wynland) en is op van 09:00 tot 17:00 en 18 Maart vanaf 08:15 tot 13:00.
Meer as 50 uitstallers waaronder universiteite, technikons en kolleges vir beroepsonderwys en ander instansies sal raad aan leerlinge gee oor beroepe en studierigtings. |