|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
'n OOREENKOMS tussen Hugenote Kollege en Chester Universiteit in Amerika hou groot voordeel in vir skole in die Boland. Mornay Pretorius, verbonde aan die Hugenote Kollege, het tydens 'n besoek aan die West Chester Universiteit verlede jaar, nou saamgewerk met die voorgraadse maatskaplikewerk-studente van dié universiteit. Dié samewerking het gelei tot 'n Trans-Atlantiese samewerkingooreenkoms waarby skole baie gaan baat. Maatskaplikewerk-studente van die West Chester Universiteit behoort almal aan 'n vereniging wat bekend staan as die "Social Work Club". Hierdie organisasie doen vrywillige werk op die terrein van sosiale geregtigheid en ander welsynsverwante aspekte. Primêr bevorder hulle die saak van maatskaplike werk op die kampus en in die gemeenskap. Tydens besprekings tussen die twee instellings het die klub aangedui dat hulle graag gesamentlike projekte met die maatskaplikewerk-studente van die Hugenote Kollege wil aanpak. Die eerste projek is nou aangepak met die insameling van toerusting uit die VSA wat aan skole in die Boland omgewing versprei word. Dit sluit in skryfbehoeftes, kasset- en CD-spelers en boeke. Die studente beplan reeds verdere projekte wat die ontwikkeling en vestiging van 'n rekenaarsentrum vir studente by die Hugenote Kollege insluit. * Huguenot College has formed an alliance with the West Chester University in Philadelphia. |
|
|
|
|
VYF Jeugwerkstudente verbonde aan die Hugenote Kollege, Wellington, bring vir die duur van die Julievakansie, tot 16 Julie, besoek aan Duitsland as deel van hul praktiese studie-ervaring. Die studente gaan tydens hulle besoek by verskeie jeugwerkorganisasies inskakel om hul prakties te voltooi wat deel is van die program Jeugwerk. Dié besoek is moontlik gemaak deur Sagenet (Suid-Afrika/Duitsland Netwerk). Elke student is verantwoordelik vir die kostes van die vliegtuigkaartjies, maar volgens die Kollege se ooreenkoms met Sagenet sal die organisasie die kostes dek met betrekking tot die verblyf en etes. Die doel van die besoek aan die jeugwerkorganisasies in Duitsland is om studente kennis en ervaring te laat opdoen en vaardighede aan te leer oor die wyse waarop Duitse jeugwerkers te werk gaan om hul unieke uitdagings te hanteer. Die uitdagings waarmee die Duitse jeugwerkers te doen kry, soos dwelmmisbruik en gesinsverbrokkeling is soortgelyk aan dié in Suid-Afrika. Ook verskaf kulturele integrasie, geweld in verskillende vorme en hul identiteit as derde generasie Duitsers ná die Tweede Wêreldoorlog heelwat uitdagings wat 'n besoek die moeite werd maak. Die jeugwerkorganisasies waar die studente hulle praktiese werk gaan verrig, wissel van staats-, semistaats- tot jeughostelverenigings. Hulle gaan onder meer stede soos Düsseldorff, Hamburg, Dortmund en Dachau besoek. Hendry Tromp gaan in 'n stedelike jeugwerkkonteks werk waar daar veral gefokus word op jeugprogramme. Jacques Jansen van Rensburg gaan inskakel by 'n jeugwerkorganisasie waar daar veral met straatkinders gewerk word. André Anthonissen en Maritza Steyn skakel in by 'n jeughostel in Dachau waar hulle met kinders gaan werk wat probleme ondervind met hul verlede. Celesté Brits gaan weer in 'n jeugklub werk wat programme vir jongmense aanbied wat hulle help om uitdagings te hanteer., |
|
|
|
|
DIE soektog na Suid-Afrika se beste skoolkoerante en aspirantjoernaliste het begin. Media24 het pas bekendgemaak dat die prysgeld wat jaarliks in dié kompetisie weggegee word, vanjaar aansienlik hoër is. Afrikaanse en Engelse skoolkoerante kan deelneem aan die kompetisie wat deel is van die Nasionale Skoolkoerantprojek (NSP) wat landwyd aangebied word. Hoër- en laerskole wat hul staal wil kom wys, kan of in die afdeling vir die land se voorste skoolkoerant inskryf of in enige van die 19 ander kategorieë. Dit sluit onder meer in die beste bedryfsplan, bladuitleg, nuus- asook sportberig, grafika, nuus- en sportfoto asook resensie, rubriek en spotprent. Volgens Ivor Price, joernalis wat die projek vir Die Burger koördineer, bied die kompetisie 'n geleentheid vir elke skool, of die koerante nou gedruk, gefotostateer of op die internet is. "'Dit is die inhoud wat geld en nie soseer hoe die koerant voorkom nie, hoewel ook dié gedeelte beoordeel word in van die ander kategorieë," het hy gesê. "Verder is entrepreneurskap iets wat ons na aan die hart lê. Daarom wil ons skoolkoerantredaksies aanmoedig om geldelik onafhanklik van hul skool te wees. En meer en meer koerante kry dit reg deur goeie advertensiewerwing en slim projekte." Inskrywings sluit Woensdag 14 Augustus en koerante wat van 1 Augustus verlede jaar tot 31 Julie vanjaar verskyn het, mag deelneem. Die jong wenners sal op 'n spog-prysaand vereer word. Die redakteurs van die topdrie-koerante sal outomaties kwalifiseer om die NSP se gevordere joernalistiekkursus by die Universiteit van Stellenbosch by te woon. Meer inligting oor die kompetisie is reeds op www.dieburger.com beskikbaar onder die hofie "Koerant-projek". Vir inligting of inskryfvorms bel Price by 406 2731 of e-pos aan nsp@dieburger.com. |
|
|||||