|
DIE leerders in die graad 8D klas van Klein Nederburg Sekondêr het twee groot rolmodelle wat saam met hulle die skoolbanke deel.
Richard-Dean Arendse en Melissa Sherman moes albei op vroeë ouderdomme die moeilike stryd teen kanker veg.
Richard-Dean is in Maart 1999 met beenkanker gediagnoseer, nadat sy ouers 'n swelsel op sy linkerknie opgemerk het. Drie maande later is sy linkerbeen geamputeer.
In Augustus 2001 is sy regterbeen ook verwyder nadat die kanker ook daar sy verskyning gemaak het.
Hoewel hy nou in 'n rolstoel oor die weg moet kom en nie meer skool kan bywoon nie, is Richard-Dean steeds 'n moedige jongman wat maklik glimlag.
Melissa het aan die begin van dié kwartaal eers teruggekeer skool toe. Sy is in April met kanker gediagnoseer nadat sy las gehad het van 'n steekpyn in haar regtersy.
'n Doktersondersoek het 'n gewas op haar regternier aan die lig gebring.
Die moedige 13-jarige is 'n week later geopereer en is die gewas sowel as haar nier verwyder.
"Ek was bang aan die begin. Die dokters het gesê dit is kwaadaardig, maar dat die gewas nog nie versprei het nie en dat dit so gou moontlik verwyder moet word," vertel die meisie met 'n skamerige glimlag en trek versigtig die wolmus oor haar kop reg.
Ná die operasie moes sy vir byna vyf maande chemoterapie ondergaan. Sy het nietemin daarin geslaag om verlede kwartaal haar eksamen, alleen in 'n kantoor, af te lê.
Hoewel al die kinders in die skool haar situasie verstaan, is dit haar noue vriendekring wat haar die meeste ondersteuning gegee het die afgelope tyd.
Melissa is nou skoon van die kanker en, sê sy met 'n sagte stem, dit is "baie lekker" om weer by die skool tussen haar vriende te wees.
* Two students of Klein Nederburg Secondary are fighting cancer. |