|
|
 |
 |
|
Sport |
 |
 |
|
Op sy hakke |
|
|
 |
 |
|
IN 'n naelbytstryd het Neo Molema Saterdag die louere in die 70ste Paarlberg Halfmarathon voor die neus van Owen MacHelm weggeraap.
Meer as 500 atlete het aan dié gewilde wedloop deelgeneem wat by Laerskool Noord-Eind in Noorder-Paarl weggespring het.
Molema het vroeg reeds die pap styf begin aanmaak en het ná 10km (33:34) 'n voorsprong van 'n halfminuut geniet, met MacHelm (34:06) wat geduldig sy kans afgewag het.
Die Mr Price-atleet het egter voortgestoom en ná die 13km-merk die Koning van die Berg-prys ingepalm.
Met die afkomslag het MacHelm op al sy silinders begin hardloop en by die 18km-merk het hy hard in Molema se nek begin blaas. Molema was egter nie |
|
|
 |
van plan om so maklik sy voorsprong prys te gee nie en het kort voor die einde met berekende vaartversnelling weer onder MacHelm begin uitstoom om die wenstreep in 70:10 oor te steek.
MacHelm, wat verlede jaar dié wedloop gewen het, het 12 sekondes later gevolg in 'n tyd van 70:22. In die derde plek was Alfred Esau (72:52) van Harmony Gold.
Die Mbekweni-atleet Nkosana Mponeng, wat vir PTM Gijimas hardloop, was vierde. Phumzo Mrali was die eerste atleet van Wellington Atletiekklub om die wedloop te voltooi en het sesde klaargemaak, in 77:17.
Die eerste drawwer van Paarl Atletiekklub wat die wenstreep oorgesteek het, was Afrika Koopman in 81:53 vir sy 15de plek.
Mrali en spanmaats, Anton Farao, Owen Smith en Wilmore Benn, het ook met die spanprys weggestap.
Onder die vroue het Nontembisa Maliwa van Adidas gewen in 89:24, gevolg deur Melody Cupido (Metropolitan, 90:59) en Lee-Anne Guthrie derde in 96:49.
Hester Kotzé was die eerste Paarl vrou tuis in 102:51 (9de) en van Wellington was dit Louise King in die 26ste plek in 'n tyd van 111:35.
Kotzé was ook die eerste vroue-veteraan en -meester oor die wenstreep. Ishelle Komado van Paarl was die eerste junior vrou om die wedloop te voltooi.
Dié wedloop groei steeds in gewildheid en daarvan getuig die 577 atlete wat vanjaar deelgeneem het, teenoor die 458 van verlede jaar. |
 |
|
 |
 |
|
Oupas, jongklomp gee pas aan |
|
|
 |
|
 |
DIE jongste en die oudste jaers was die groot rolspelers in Saterdag se Ope-fietsrywedren van Yorkshire se Lentedag Fietsbyeenkoms.
Die ope-wedren waarin die junior, senior en veteraneryers deelgeneem het, is oor 64km beslis.
Die junior ryer, Durwhin Benjamin van Rhadsport, het koning gekraai nadat hy in die agtste en finale ronde van die voorste bondel weggebreek het.
Benjamin het genoeg stoom oorgehad om voort te snel en die wenstreep eerste oor te steek.
Kort op sy hakke was die veteraan Greg Botha van Yorkshire, met nog 'n veteraan, Nolan de Wee ook van Yorkshire, in die derde plek.
Verlede jaar se wenner, Nolan Hoffman, was in die vierde plek. Hy het ook die snelpremie in die derde ronde gewen.
In die o.16 ouderdomsgroep waar die ryers 48km afgelê het, het Réniell Matthysen van Paarl Fietsryklub met die louere weggestap, gevolg deur Reginald Benjamin (Rhadsport) en Stefan Herholdt (Maties).
Yorkshire se Magdelene Nicholson het met 'n kragtige naelrit na die wenstreep haar eerste plek in die o.14 groep beklink. Grant Stuurman en Ashley Daniels, albei van Rhadsport, was tweede en derde.
Onder die jonge o.10/o.12's het Avery Arendse (Yorkshire), Emile Jacobs (Paarl) en Avril Adams (Yorkshire) hard getrap om in die top drie plekke te eindig. |
 |
|
 |
Kavaliers, merietespanne pak Valke op Wellington |
|
|
 |
DIE Boland Kavaliers pak môre om 16:00 die Valke op Wellington in 'n Curriebeker Eersteliga-rugbywedstryd.
Die dag se verrigtinge begin reeds om 13:00 met 'n wedstryd tussen Newton Primêr en 'n Drakenstein Korrektiewe XV-tal.
Om 14:00 speel die Boland Meriete span teen hul eweknieë van die Valke.
Saterdag om 11:00 speel die Boland o.20 teen die Vrystaat.
Die Kavalier-span is Antonius Verhoeven, Alshaun Bock, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, Warren Petersen, Solly Goosen, Cassie Carstens, Chris Potgieter (k), Kobus le Roux, David Hendricks, Henk Eksteen, Nicky Smit, Tommy Dixon, Gustav Rademeyer en Pieter Terblanche. |
 |
Wellington gee Ceres pak |
|
|
 |
|
 |
DIE manne van Wellington Rugbyklub het Saterdag 'n groot sielkundige voorsprong gekry vir die eindstryd van die Boland se Superliga A1 nadat hulle Ceres 45-22 pakgegee het.
Die tuisspan sowel as Ceres is reeds verseker van 'n plek in die eindstryd wat op 27 September op Boland Stadion gespeel word.
Sake het in die eerste helfte baie gelyk verloop met die manne van die Koue Bokkeveld wat rustyd 22-14 voorgeloop het.
Wellington se voorspelers het egter in die tweede helfte meer beheer begin kry en die agterlyn kon beter aan die gang kom.
Agter het Jan Rautenbach (senter) en Louw Schabort (heelagter) uitgeblink, terwyl Japie Wiehann (stut), Pieter Wium (haker) en Morné Coetzee (agtsteman) voorlangs die staatmakers was.
Wellington se drieë is gedruk deur Schabort, Rautenbach, Danie le Roux (2), Henco Borman, Abrie Barry en Gordon Johnson. Nicus Bergh het met vyf doelskoppe geslaag.
Die oorwinning verseker dan ook vir Wellington se eerste span die afdelingbeker, terwyl die derde span ook Saterdag die ligabeker gewen het.
Die tweede span moet Saterdag teen Rawsonville vyf punte inpalm om ook hul liga te wen.
Newtons het voorverlede Saterdag met sy gelykop uitslag van 10-10 teen Wesbank 'n trappie nader gegee aan die eindstryd van die Boland Superliga A2.
Met slegs een wedstryd oor op sy tuisveld Saterdag teen Grabouw, benodig Newtons slegs 'n gelykop-uitslag om vir die finaal wat op 20 September op Boland Stadion beslis word, te kwalifiseer.
Die naweek se wedstryd is deurslaggewend aangesien die wenner in die liga-eindstryd teen Wesbank te staan kom.
Drie van Newtons se spelers is ook in die Boland Meriete A-span opgeneem wat Vrydag op Boland Stadion teen die Valke speel.
Hulle is Ranfred Dazel (vleuel), Ben Martin (heelagter) en Roderick Demas (slot). |
 |
|
 |
Telbord werk in Rangers, Polisie se kragmeting |
|
|
 |
IN 'n spannende en aanskoulike hardloop-rugbywedstryd waar die telling deurentyd wipplank gery het, moes Paarl Rangers met 41-36 die knie buig voor 'n begeesterde Polisie.
Die stryd was 'n drieë-fees met elke span wat vyf keer agter die pale gaan kuier het op Polisie se tuisveld.
Sake het gelyk verloop in die eerste helfte met die rustydtelling op 17-21 vir die tuisspan.
'n Keerpunt was egter toe Polisie 'n onderskep-drie druk en kort daarna weer in die doelgebied gaan kuier.
Vir Rangers het John Filander, Roger Ruiters, Johannes van Reenen, Jacques Pekeur en Eric Plaatjies drieë gedruk. Mark Adams het met vier doelskoppe en 'n strafskop geslaag.
Rangers se tweede span het 5-7 gewen en die derde span 15-12.
Hoewel Rangers tans tweede lê op die Premierliga B punteleer moet hulle minstens twee ligapunte in hul volgende twee wedstryde verdien om te verseker dat hulle volgende seisoen weer in dié liga speel. |
 |
Riverstones klop Standards |
|
|
 |
|
 |
DIE manne van Riverstones Rugbyklub het hul posisie bo-aan die Premierliga C verseker deur Saterdag met Young Standards af te reken.
Riverstones het eerste bloed geruik toe Gershwin Paulse (losskakel) met 'n strafskop slaag. Kort daarna maak Standards se Enrico Davey sake gelyk met 'n strafskop.
Die wedstryd is teen 'n vinnige tempo gespeel, met die voor- en agterspelers wat goed kombineer. Beide spanne se verdediging was rotsvas.
'n Skepskop deur Bradman Arendse laat sy span rustyd 6-3 voorloop.
Riverstones val verwoed aan in die tweede helfte en word beloon met 'n drie deur Lance Benjamin (slot) wat deur Paulse verdoel word.
Verkeerde besluite en Riverstones se hegte verdediging keer dat Standards binne trefafstand kom.
Op hul beurt het Riverstones hul kanse beter benut en 'n tweede drie deur die kaptein, Benjamin, beklink die wedstryd 15-6 vir hulle.
* Standards hou hul derby teen Young Peoples op 27 September by Faurestraat Stadion. Oud-lede, veterane en vroue van Standards wat belang stel om wedstryde te speel, moet SS Arendse skakel by 862-5166. |
 |
|
 |
|
|
|