|
DAAR is altyd talle maniere waarop syfers gemanipuleer kan word en gegewe die ingewikkelde integrasieproses van die onderskeidende geografiese gebiede van die Drakenstein Raad, ook goeie argumente soos byvoorbeeld pariteit wat bereik moet word wat aangevoer kan word om onafwendbare verhogings in tariewe jaarliks mee te motiveer.
Die finale toets is egter wat die werklike impak is op die onderskeie kategorieë van verbruikers se maandelikse begroting.
'n Vergelyking tussen tariefverhogings vir die kategorie gemiddelde huis (voorafbetaalde krag) in die 2003/2004 begroting toon 'n verhoging van 7% vir Paarl, 15% vir Wellington, 40,5% vir Saron en 10,4% vir Gouda.
Die gevolge van hierdie besluit sal waarskynlik daartoe aanleiding gee dat sommige inwoners in hierdie kategorie uit hul huise gedwing sal word of bloot deel sal word van die statistiek van wanbetalers.
Ons vind die Raad se 2003/2004 begroting onaanvaarbaar omdat dit 'n erg verhoogde las op 'n uiters kwesbare deel van die gemeenskap plaas, naamlik die "nuwe middelklas" - die gedeelte van ons gemeenskap wat daarin kon slaag om hulself op te hef tot 'n gemiddelde grootte huishouding vanaf 'n klein huishouding (dikwels staatsamptenare en eerste keer huiskopers) en die "kwesbare middelklas" (pensionarisse wat 'n gemiddelde huis probeer in stand hou en die gewone werker wat nie 'n groot huis kan bekostig nie).
Hierdie feite word klaarblyklik erken deur die Raad in die Paarl area se begroting waar 'n verstandige progressie tussen die onderskeie groottes huishoudings plaasvind, maar dit word totaal misken in Wellington, Saron en Gouda.
Hoe kan die Raad regverdiging daarvoor vind om hul bedryfsbegroting met 13,7% te laat toeneem gegewe dat die motivering vir integrasie van die onderskeie rade 'n besparing in bedryfskostes ten doel gestel het? Ons aanvaar dat die Raad nuwe funksies bygekry het, maar is hierdie funksies volledig befonds?
Ons stel voor dat die Raad dringend sy begroting in heroorweging neem om daadwerklike verarming van die Drakenstein Gemeenskap te voorkom.
Ook was die syfers wat aan die Paarl Post verskaf is en op 5 Junie gepubliseer is vir 'n gemiddelde huis met voorafbetaalde krag op Wellington (kategorie 2a) foutief.
Die totaal behoort R491,24 te wees vir die vorige jaar (nie R549,70 nie), wat verhoog na R567,27 (R240,84 vir krag, nie R284,36 soos vir konvensionele krag nie) wat 'n verhoging van 15,5% soos aangevoer is nie. Die stadstesourier het die fout erken.
Max van der Wath Wellington Sakekamer |