safetop
b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday: 12 June  2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 19 June 2003 at 17:00

People - Mense


Speel en leef met oorgawe

Leon Steenkamp

[ Top ]


WhugWANNEER die jong Schalk Burger 'n teenstander op die rugbyveld met 'n donderende slag grond toe bring of aggressief in die losgemaal woel op soek na die bal, gee hy gehoor aan sy pa se raad om met oorgawe te speel.

Schalk Burger het in April 20 geword. Hy is die kaptein van die o.21 Springbokke wat vandeesweek vertrek het om hul titel in die Wêreldbeker Rugbytoernooi in Engeland te

DRIE BULLE. Schalk Burger (middel) by sy seuns Tiaan (links) en Scalk, wat almal ver oor die 90kg weeg en oor die ses voet staan.

gaan verdedig.

Oor die taak wat vir sy oudste seun voorlê, sê Schalk senior: "Gits ek weet nie. Ek dink

dit is goed vir hom, maar aan die einde van die dag het hy 'n job om te doen. As die verdedigende kampioene sal almal se aandag op hulle gevestig wees."

Sport is iets waarmee Schalk, Tiaan (18) en René (15) van kleins-af grootgeword het.

"Hulle het met 'n bal in die hand grootgeword. Daar was nooit 'n tekort aan balle in die huis nie, balle én stukkende ruite," skerts hul pa, 'n wynboer op Wellington.

Die twee seuns se rugbygene kom beslis van Schalk senior, of Groot Schalk soos hy bekend staan.

Schalk, wat soos sy kinders ook op Paarl Gimnasium skoolgegaan het, het in 1973 WP o.19 Cravenweek gespeel.

Op 18-jarige ouderdom het hy vir die Noordoos-Kaap in die Curriebeker uitgedraf en in 1975 is hy in die heel eerste SA o.21 span opgeneem.

"Ons het as die SA Oribi's bekend gestaan en na Suid-Amerika getoer. Ons is nie toegelaat om teen Argentinië te speel nie, maar het ons wedstryde teen Uruguay, Paraguay, Chili en 'n saamgestelde Suid-Amerikaanse span gewen," vertel Groot Schalk.

"Ek en Schalk is dus die heel eerste pa en seun wat SA o.21 gespeel het."

In 1976 het hy vir Westelike Provinsie begin speel, het later aanbeweeg na OP en uiteindelik ses toetse in die Groen en Goud gespeel.

"Ons het baie gemis in die lelike jare van isolasie. Dit is interessant dat van 1982 tot 1992 daar omtrent net tien toetse gespeel is.

"Maar daardie dae het jy nie gekla nie en het die spelers baie energie vir die Curriebeker gehad. Die Curriebeker was soos vandag se Super 12 kompetisie," vertel Burger.

Hoewel sy pa gedink het dat Schalk Junior hom op die krieketveld sou uitleef, het sy seun se passie vir rugby die keuse maklik gemaak toe hy twee jaar gelede by Maties begin studeer het.

Beide Burger-broers is krieketrekordhouers by Hoërskool Paarl Gimnasium.

Schalk, wat sedert graad agt al vir die o.19A-span gespeel het, se 14 honderdtalle vir die eerste span het hom 'n plek in die rekordboeke besorg, terwyl Tiaan die rekord hou vir die hoogste telling (142) wat deur 'n eerstespanspeler aangeteken is.

Tiaan is vanjaar 'n eerstejaar-landboustudent op Wellington en speel vir Wellington Rugbyklub se eerste span.

Kleinsus René is 'n kranige netbal- en tennisspeler en geniet dit om rugby te kyk.

"As sy 'n seun was, het sy seker ook rugby gespeel," lag haar pa.

Schalk het intussen sy studies laat vaar om voltyds op rugby te konsentreer.

Die toewyding en taaiheid wat sy seuns se spel kenmerk, sê Schalk, is seker oorerflik.

"Almal het my gesien as 'n rowwe en onbeskofte speler. Ek dink ek het net met oorgawe gespeel. Ek het geredeneer dat jy net 80 minute in 'n week het om rugby te speel, so gee jou alles.

"Ons het ook teen ouer manne gespeel, so jy leer om jouself te verdedig. Dit was 'n kwessie van swem of sink," lag Schalk vandag goedig.

"Ek dink dit sluit aan by wat Dok Craven gesê het: 'The way you live, is how you play your rugby'.

"Ek het altyd vir my kinders gesê, 'Doen die sport wat julle geniet, doen die basics en doen dit voluit'," som Schalk sy benadering op.

Volgens hom is wen nie altyd die belangrikste nie.

"'n Speler moet hom nie vasstaar in die wenmotief nie. Schalk-hulle het al 'n wedstryd ver gewen, dan sit ek en hy vas oor hoe die wedstryd gespeel moes gewees het.

"Sport is 'n belangrike deel van die lewe; hoe hy dit gebruik én deur die etos van die game te verstaan, dit kan geniet. Op die tegniese punte sal sy afrigter hom help, my rol is om hom as mens af te rond," sê Groot Schalk.

Maar afwisseling is belangrik. Pa en seuns geniet hul ronde gholf en die jong manne, in lyn met albei se lang hare, geniet dit om op die ghitaar en tromme los te trek.

Ook dit is in die gene, aangesien Groot Schalk ook 'n groot aanhanger van folk rock is en soms nog op die ghitaar tokkel.

So, as die rugby eendag nie meer prioriteit is nie, is daar 'n vooruitsig vir 'n Burger-rock duo?

"Miskien, dalk kan ons 'n speelkans kry op 'n KykNet-show," lag Schalk junior.

En is daar vir klein Schalk op die oomblik iemand spesiaal.

"Nee, ek is te koop," sê hy met 'n breë glimlag.

"Maar moenie 'n fout maak nie, hier kom meisies," val sy pa hom vinnig in die rede.

Lekker tye vir die Burgers is Sondagmiddae langs die braaivleisvuur.

"Ons huis is baie oop. Die seuns nooi hul pêlle oor en dan kuier ons lekker.

"Ons is nie 'n gesin wat Vadersdag vier nie. Ons familie is baie close en ek het 'n wonderlike verhouding met my kinders. Daar is baie respek in die huis en dit sorteer daardie tipe goed uit. Elke Sondag is dus vir my Vadersdag."


Bekende inwoner oorlede

[ Top ]


'n BEKENDE inwoner van Wellington, Mieta Bailey, is Vrydag in die ouderdom van 82 jaar oorlede.

Mev Bailey, wat die afgelope drie jaar in die Silwerkruin ouetehuis gewoon het, is dood ná 'n beroerte-aanval.

Sy het op die plaas Provence groot geword en later het sy en haar man, Jan, hul eie besigheid (Hexberg Viswinkel & Algemene Handelaars), bedryf.

Antie Mieta, soos almal haar geken het, sal onthou word vir haar betrokkenheid by Wellington Bejaardesorg. Sy het ook haar man gedurende sy leeftyd ondersteun met al sy werk as kerkraadslid.

Haar kinders vertel ook met 'n glimlag oor al die katjiepieringsteggies wat sy vir mense aan die groei gemaak het, en al die gaatjies wat sy vir meisiekinders in hul ore gesteek het - lank voordat dit 'n bedryf geword het.

Sy laat ses kinders, 12 kleinseuns, een kleindogter en drie agterkleinkinders na. Haar oudste seun is Drakenstein burgemeester Herman Bailey. Die ander kinders is Appollis, Jeanette en Lynette van Wellington, Marie (Vredenburg) en Eileen (Oos-Londen).

Die begrafnis is Sondag 15:00 uit die VGK Wellington.


Die mes maak die man

Malané Bosman

[ Top ]


PRAAT Koos Grobbelaar van Welington oor messe, raak die man skoon liries.

Vir hierdie afgetrede boer is dit nie dae van op Leeuwrivier se voorstoep sit nie, nee, hy maak messe.

Dis nou al twee jaar se ding, nadat hy al die jare meubels gemaak het - totdat daar nie meer 'n meubelstukkie was wat in sy huis en dié van sy kinders gekort het nie.

Maar 'n stokperdjie moet 'n man darem hê. En toe sluit Koos by die mesmakersgilde in die Kaap aan.

Die mesghoeroe Fanie le Grange is sy leermeester. Elke twee maande kom hulle bymekaar en ruil idees en "prentjies" uit.

"Lyk 'n prentjie vir my mooi, dan maak ek hom," vertel Koos en pak sy messe een-een uit, gly hulle liefderyk uit hul volstruisskeenskedes en vertel hul stories.

"JN Grobbelaar - handcrafted" is netjies met suur op die staal lemme geëts, partykeer nog 'n gemsbok-afdrukkie ook.

Daar is askari-messe en dolke met ivoor-handvatsels, ander met klipharde seekoeitand-handvatsels, en nog met krokodilstert en Afrika swarthout-handvatsels.

Daar is knipmesse in alle groottes en vorms. Die vet biltongmessie met die vlakvarktand as handvatsel pas net reg in 'n mens se hand, en jy proe al die biltong op jou tong.

Van die messe word met veerstaal gemaak sodat net een hand nodig is om dit oop en toe te knip.

En toe is dit werkkamer toe.

"Kyk, hier is 'n prentjie," verduidelik Koos.

"Ek laat hom vergroot, knip dit uit en sit dit op die staal neer.

"En kyk hoe maklik. Ek spuit net verf oor die prentjie, lig dit op en dan kan ek dit uitsaag."

Vir die lem word die heel beste N690 Duitse staal gebruik, wat as 'n plat stuk staal aangekoop word.

"Nou maak ek die rande lekker glad en dan boor ek die gaatjies, want as dit eers getemper is, is die staal te hard om te boor."

Op 'n grafiekkaart wys hy hoe al die stale verskillende temperature het waarmee dit hard gemaak word. Vir Duitse staal is dit 1030 grade.

"As hy uit die oondjie kom is hy so rooiwarm soos die son. Dan druk jy hom vinnig in die olie waar hy vinnig afkoel en soos glas word. As jy hom dan kap, breek hy.

"Dan terug in 'n 180 grade oond en as hy dan uitgehaal word moet hy self afkoel."

"Nou kan die staal teen 45 grade gebuig word, en hy sal nie breek nie."

Vir die hef van die lem (bolster) gebruik hy graag chirurgiese vlekvrye staal en ook Domaskus staal uit Swede. Dit is ligte en donker stale wat teen 1000 grade op mekaar gesmee word en dan geslyp word dat die staal 'n grein het soos hout.

Koos werk omtrent 'n week lank aan 'n mes.

Teen die mure van die werkkamer hang rye en rye slypgordels, van grof tot baie fyn. Vir die slyp van een mes word tot vier stroppe opgebruik.

Laaste kom die mes op die poleermasjien, en dan is hy spieëlblink.

"Aan die begin is jy maar dom en jy brand omtrent jou hande. Maar dis 'n heerlike stokperdjie. Jy leer so baie," gesels Koos nog een stryk deur.

As hy die dag baie geld (en die regte kontakte) het, wil hy handvatsels van malmoetivoor uit Alaska, of meteorietrots uit Namibië maak.

Al sy kinders het nou al messestelle met walrustand- en ivoor-handvatsels.

Moenie ophou messe maak net omdat jou huis en dié van jou kinders genoeg messe het nie, Koos. Daar is nog baie hande waarin jou messe knus sal pas.


Ben soek geselskap

Malané Bosman

[ Top ]


SOGGENS is daar baie aktiwiteit in Des Presstraat in Suider-Paarl, en dan is Ben die Boerboel salig gelukkig agter sy heining.

Maar sodra al die pappas straat-uit gery het werk toe, en al die mammas die kinders by die skole gaan aflaai het, dan word dié straat in De Soete Inval stil.

Te stil vir Ben die tweejarige boerboel.

Hy maak nog so 'n paar draaie teen die draad, loer die stil pad af, en dan gaan lê hy kop op die pote - om te dink.

En elke keer kom hy op dieselfde plan. Hy vat 'n goeie aanloop en spring 'n hoë sprong teen die muur by die voordeur.

Met sy voorpote kap hy die voordeurklokkie raak en dong-dong lui dit dat al wat 'n buurman, en natuurlik sy eie huismense, dit duidelik kan hoor.

Die bure het eers gedink die Burgers kry darem baie besoek, maar ook hulle het later besef dis dieselfde besoeker wat so aanhoudend aanklop.

En natuurlik moet Karen en Jikkie Burger die voordeur oopmaak as die klok lui. 'n Mens is mos nie onbeskof nie.

En dis net wat Ben soek: geselskap.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za