|
|
 |
Sport |
 |
 |
|
Peoples gee Paarl pak |
|
|
 |
 |
|
IN 'n bulstryd op Faurestraat-stadion kon Young Peoples eers in beseringstyd in die wedstryd teen Paarl die punte aanteken wat hul 24-22 laat wen het.
Paarl het in die eerste helfte na die wenspan gelyk en vroeg voorgeloop na 'n drie deur Werner Visagie (agsteman), wat deur Heinie Coetzee (skrumskakel) verdoel is. |
 |
 |
|
GEEN WEGKOMKANS. Melvyn Hermanus, heelagter van Young Peoples, word deur 'n Paarl verdediger vasgevat. Hermanus se doelskop in die doodsnikke van die wedstryd het die 24-22 wen vir sy span verseker. Foto: Leon Steenkamp |
|
 |
 |
|
Die Paarl-pak het voorlangs oorheers en goeie besit vir die agterlyn verseker.
Die tuisspan was daarop uit om elke bal te speel en nadat Coetzee met 'n strafskop die telling op 10-0 gebring het, het 'n kans om te druk weer opgeduik. |
|
 |
 |
|
Peoples verseker besit in 'n lynstaan net buite hul kwartgebied, maar verloor die bal tussen die agterspelers. Die bal word deur Paarl opgepik en ná goeie hanteerwerk druk Terence Valentyn (linkervleuel) in die hoek.
Peoples hergroepeer en stuur die bal na die regterkant van die veld om hul gevaarman, Jacques Lategan (vleuel), in die spel te bring.
Peoples vorder tot in die Paarl se gebied en nadat 'n geelkaart aan die Paarl losskakel uitgedeel word, slaag Melvyn Hermanus (heelagter) met 'n strafskop om die rustydtelling op 15-3 te bring.
Die afrigters se harde woorde tydens halftyd het vuur onder die Peoples-spelers gemaak.
Die besoekers het die pas versnel en die spel begin rek om sy vinnige agterspelers hardloopruimte te gee.
Ondanks die afstuur van hul flank, is dit Peoples wat die doellyn bly aanval.
Lategan kom byna oor die doellyn maar kan nie die bal op die grond kry nie. Tydens die vyftreë-skrum is dit Barry Williams (skrumskakel) wat vinnig die bal kry en deur 'n groot gaping glip om eindelik te druk.
Paarl slaan terug ná 'n skop afgestorm word en Morné Kershoff (flank) gaan kuier in die doelgebied.
'n Tweede geelkaart aan Paarl se losskakel 15 minute in die tweede helfte, los Paarl met 14 man op die veld. Peoples besluit om 'n strafskop vinnig te neem en Jody Davids (linkervleuel) steek die doellyn oor.
Hermanus se doelskop laat hul agterstand tot 22-17 krimp.
Paarl het hierna twee geleenthede gehad om na die pale te mik maar verkies om die doellyn aan te val. Peoples se verdediging hou egter.
Met die minute wat vinnig wegtik, is daar hard oor en weer aangeval.
Paarl se tekort aan 'n speler het egter stelselmatig sy tol begin eis, met meer en meer gapings wat vir Peoples begin oopmaak het.
Die taaiheid van die wedstryd was duidelik te sien aan die hoeveelheid beserings, met spelers wat by tye twee-twee en drie-drie op die veld bly lê het.
Die deurbraak vir die Tiere het gekom ná 'n vinnige agterlynbeweging wat tot by Lategan gevorder het, waarna die bal weer terug binnetoe gespeel is na binnesenter Justin Fortuin wat hakstene gewys het om onder die pale te gaan druk. Hermanus se doelskop het die oorwinning vir Peoples verseker.
Young Peoples se tweede span het ook rede gehad om te glimlag nadat hulle vir Paarl se tweede gekeurdes wat tans bo-aan die punteleer lê, ook met 15-7 geklop het. |
 |
|
|
|
 |
 |
|
Kilotreads Rugbydag word vanjaar groter |
|
|
 |
|
|
|
 |
DIE Kilotreads Rugbydag wat verlede jaar ingestel is om spelers van die Paarlse rugbyklubs geleentheid te gee om hul talente voor WP keurders uit te stal, sal vanjaar groter wees met die insluiting van nog twee spanne.
Young Gardens en Landelike Rugbyklub is die twee spanne wat vanjaar ook deel van die toernooi uitmaak.
Die verteenwoordigers van die 14 deelnemende spanne het verlede Dinsdag lootjies getrek om te bepaal wie teen mekaar speel asook wanneer.
Die twee groepe is so uiteengesit dat spanne wat in ligawedstryde teen mekaar te staan sal kom, nie tydens die toernooi teen mekaar sal speel nie.
Soos verlede jaar sal daar weer heelwat pryse op die spel wees, insluitende 'n prys vir die span wat die mees aanskoulike rugby speel.
Daarby sal insluiting in die Kilotreads-rugbyspan wat verlede jaar teen die WP Disa-span gespeel het, ook in die spelers se agterkoppe wees.
Die spanne wat Maandag kragte sal meet, is 11:00 Riverstones t Paarl Rangers, 12:15 Young Peoples t Mbekweni, 13:30 Allandale t Landelike Rugbyklub, 15:15 Paarl t Paarl Violets, 16:30 Albions t Young Standards, 17:45 Young Gardens t Windmeul United, 19:00 Laer Paarl t Vineyards.
Benewens die toernooi word daar vanjaar ook op die ontwikkeling van jeugrugby gefokus. 'n Afrigtingskliniek vir junior klubspelers van o.16 tot o.18 sal van 08:00 tot 11:00 gehou.
Oud-WP en -Springbok rugbyspeler, Thinus Linee, sal saam met ander groot plaaslike rugbyname, die afrigting behartig.
Toegang vir toeskouers tot Daljosafat-stadion is R5 en gratis vir kinders o.14. |
 |
|
|
|
 |
 |
|
Boland o.18's pak Luiperds eerste |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
DIE Boland Rugbyunie en Wellington speel vanjaar gasheer vir die Coca-Cola Craven-week vir Hoërskole.
Dié jaarlikse byeenkoms van die top rugbytalent in Suid-Afrikaanse skole sal van 7 tot 12 Julie by die Boland Stadion gehou word.
'n Groep van 18 spanne wat elke provinsie in Suid-Afrika verteenwoordig, sowel as spanne van Namibië en Zimbabwe, sal teen mekaar kragte meet. Wedstryde sal op die Maandag, Dinsdag, Woensdag, Donderdag en Saterdag gespeel word.
Dit is die eerste keer sedert 1980 dat Boland as gasheer vir dié toernooi sal optree en die eerste keer dat Wellington hierdie spesiale geleentheid aanbied.
Daar word verwag dat tussen 3000 en 4000 toeskouers daagliks die pawiljoene van Boland Stadion sal volpak.
Die eerste dag se wedstryde skop reeds om 10:30 af wanneer Oostelike Provinsie teen die Blou Bulle Platteland Distrikte (voorheen Verre Noorde) span kragte meet.
Om 11:50 pak die Blou Bulle en Griekwas mekaar, gevolg deur Vrystaat en Grens om 13:10.
Die amptelike opening geskied om 15:00 waarna die hoofwedstryd tussen Boland en die Luiperds om 16:00 afskop.
Op die Dinsdag sal Zimbabwe en Grens Platteland Distrikte die dag se rugby begin om 10:30, gevolg deur Namibië teen Griffons (11:50), Pumas teen Suidwestelike Distrikte (13:10), Leeus teen KwaZulu-Natal (14:30) en in die hoofwedstryd pak Westelike Provinsie die Valke.
Vir verdere inligting kyk op www.bolandrugby.com. |
 |
|
 |
 |
|
Kanoryers hoop op reën vir Berg |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
HOEWEL daar nie meer baie water in die see hoef te loop voor die Bergrivier Kanomarathon op 2 Julie begin nie, moet daar nog baie reën val om te verseker dat die roeiers vanjaar met relatiewe gemak die bedrieglike roete tot in Velddrif kan aflê.
Volgens Herbert Pretorius, voorsitter van Paarl Kanoklub, is die watervlak van die rivier heelwat laer as verlede jaar dié tyd.
Die voornemende deelnemers het Saterdag aan die kwalifiserende been van Gouda tot Bridgetown deelgeneem. Dit is die tweede agtereenvolgende naweek dat die roete afgelê word, met roeiers wat die vorige Saterdag tot by Drie Heuwels gevaar het.
"Ons sou verlede Saterdag vanaf die Daljosafatbrug geroei het, maar omdat min Kaapse roeiers wou deelneem weens die lae watervlak het ons die Gouda-Drie Heuwels gedeelte geroei," het Pretorius gesê.
"Dit is 'n moeilike deel van die roete met baie palmietgangetjies. Dit was dus goed om dit twee weke na mekaar te roei."
Saterdag se wedvaart was ook die eerste kwalifiserende been waaraan die Gautenger en wenner van verlede jaar se Berg, Jacques Theron, deelgeneem het.
Theron het in die vierde plek klaargemaak nadat hy naby die einde van die skof by 'n boomversperring vasgehaak het.
Dit was egter weer eens Graeme Solomon van Skiereiland Kanoklub wat eerste klaargemaak het.
Solomon het in die naelvaart om eerste plek die Matie Gert van Deventer geklop. Edgar Boehm was derde, gevolg deur Theron en Chris van Deventer in die vyfde plek.
Die Paarliet Mynhardt Marais was sewende en die eerste veteraan om klaar te maak. Mark Hill was 14de algeheel.
Adie de Kock en Giel van Deventer was onderskeidelik die tweede sub-meester en meester. Herbert Pretorius was derde in die B-klas.
Inskrywingsvorms vir die wedvaart is beskikbaar by alle kanoklubs en -winkels regoor die land, asook by www.worldofendurance.com. |
 |
|
 |
 |
|
Belangrike seisoen wag op Boland Krieket |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
DIE komende krieketseisoen sal 'n reg-of-weg situasie vir Boland Krieket beteken, sedert 'n besluit wat geneem is om 'n krag-teen-krag beleid in provinsiale krieket in te stel, oor hul koppe hang.
Tydens 'n onlangse bosberaad het die elf provinsievoorsitters ooreengekom dat die provinsies hul eie identiteite sal behou en in twee afdelings van ses en vyf spanne sal kragte meet.
Vir watter ses provinsies dit beskore sal wees om in die boonste liga te speel, sal deur 'n onafhanklike maatskappy bepaal word.
'n Vorige aanbeveling deur Krieket Suid-Afrika ('n maatskappy wat gestig is om beroepskrieket in SA te beheer) dat krieketunies moet saamsmelt en dat vier provinsies hul identiteit sou verloor, is nie meer op die tafel nie.
Die nuwe stelsel sal in die 2004/2005 seisoen in werking tree. Daarom is dit 'n belangrike seisoen wat vir Boland voorlê, sê Pietie Williams, hoofuitvoerende beampte van Boland Krieket.
"Om die sterkste provinsies te bepaal, gaan gekyk word na hoe die span gevaar het en hoeveel nasionale spelers die provinsie opgelewer het.
"Ons het dus gepoog om die span vir die komende seisoen so gebalanseerd as moontlik te maak," het Williams verlede Maandag gesê, kort nadat Justin Ontong sy kontrak vir die komende seisoen met Boland gesluit het.
Charl Langeveldt, die enigste Bolander in vanjaar se Wêreldbeker Krieketspan, sal Paarl vir Oos-Londen verruil nadat hy met die Grens Krieketunie geteken het. Benji Hector, kaptein van die Boland B-span, wat ook wedstryde vir die A-span gespeel het, is Griekwas toe.
Die Boland se staatmaker-paaltjiewagter, Steve Palframan, het sy provinsiale handskoene opgehang maar sal steeds klubkrieket vir Wellington speel.
'n Gebrek aan doeltreffende kolfwerk was verlede seisoen die Boland se doodsteek en dit is dus geen wonder dat daar klem gelê is op kontraktering van kolwers nie.
Onder die nuwe Boland-gekontrakteerdes is die openingskolwer Chad Baxter, wat verlede jaar vir die Boland goed gevaar het in die Standard Bank eendagreeks.
Die leemte wat Palframan gelaat het, sal deur die 22-jarige Matie Graeme Marais gevul word, wat ook sy plek in die middel-kolforde sal volstaan.
Vanuit die WP-geledere het Boland die aanvangskolwer Rashaad Magiet, en paaltjiewagter/kolwer Wesley Hughley gelok.
Nog 'n top-orde kolwer, Mark Sanders van KwaZulu-Natal wat verlede seisoen vyf honderdtalle in die Bowl-kompetisie aangeteken het, is ook gekontrakteer.
Ryan Groeneveldt wat al by geleentheid vir Boland gespeel het, is ook gekontrakteer.
Die veelsydige Doughie Brown van Engeland wat Namibië in die Wêreldbeker afgerig het, is as speler gekontrakteer en sal ook 'n ondersteunende afrigtersrol speel.
Agter die skerms sal daar ook hard gewerk word om Boland se seisoen 'n suksesvolle een te maak.
Prof Justice Potgieter, 'n sportsielkundige, en Brendon Thomas, 'n fiksheidsafrigter, albei van die Universiteit van Stellenbosch, sal die spelers help om elke wedstryd in top vorm te begin.
Daarby sal die raad van kundiges en oud-spelers ook ingeroep word. |
 |
|
 |
 |
|
Newtons is bo |
|
|
 |
NEWTONS se eerste rugbyspan het ná die eerste ronde van die Boland Superliga A2 hul plek bo-aan punteleer behou ná hul 20-11 oorwinning oor Malmesbury verlede Saterdag op laasgenoemde se tuisveld.
Die wedstryd is grotendeels voorlangs beslis, met Newtons se ligter voorhoede wat egter hul man goed gestaan het.
Malmesbury het teen rustyd 11-10 voorgeloop, maar dit sou die laaste punte wees wat die tuisspan sou aanteken.
In die tweede helfte het Newtons se blitsige agterlyn twee drieë gedruk. Die wedstryd het egter op 'n suur noot geëindig toe tuisspan in die laaste minute van die veld afgestap het, ná ontevredenheid oor 'n skeidsregterbeslissing. Die wedstryd was andersins in 'n goeie gees gespeel.
Newtons se drieë is deur Vlam Davids (vleuel), Ranfred Dazel (losskakel) en Ahdiel Cassiem (vleuel) gedruk. Roderick Claasen (skrumskakel) het met 'n strafdoel en doelskop geslaag. |
 |
 |
|
Rangers ontsnap uit Polisie se kloue |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
PAARL RANGERS het die naweek weer 'n belangrike bonuspunt ingesamel toe hulle vir Polisie op Daljosafat met 26-10 (19-10) geklop het.
Hoewel die besoekers met hul swaarder pak die wedstryd probeer dikteer het, kon die ligter tuisspan nie onder gekry word nie.
Inteendeel, goeie skrumwerk deur Rangers het verseker dat hulle twee oorstoot-drieë gedruk het.
Daarby het hul hegte verdediging min beweegruimte vir die manne van Polisie gegee.
Randall Pietersen (vleuel), Jacques Pekeur (senter) en agsteman Johannes van Reenen (2) het Rangers se drieë gedruk, terwyl skrumskakel Mark Adams (2) en stut Butch Green met doelskoppe geslaag het.
Met nog twee wedstryde oor in die eerste ronde is veral Paarl Rangers, Franschhoek United, Polisie en Lagunya in 'n taai stryd gewikkel om die plek vir eerste ronde wenners in die Premierliga B.
* In 'n baie rigiede wedstryd waarin die skeidsregter min tweedefase-spel toegelaat het, het Albions 23-12 teen Primrose verloor.
Die Paarliete het in die eerste helfte goeie rugby gespeel en is met twee drieë deur Ju-Wayne Cyster (regtervleuel) en Janovan Cornelissen (agsteman) beloon. Die doelskop deur John Stevens (losskakel) het Albions rustyd 12-6 laat voorloop.
Albions het geen antwoord gehad op die 17 punte wat Primrose in die tweede helfte aangeteken het nie.
'n Groot wedstryd word Saterdag op Daljosafat verwag wanneer Albions en Paarl in hul Premierliga A wedstryd kragte meet.
Laer Paarl kon in sy wegwedstryd teen Eersterivier nie 'n oorwinning verseker nie maar wel 'n 5-5 gelykop uitslag.
Regtervleuel Dorian Baadjies se drie was die Paarliete se enigste punte van die wedstryd.
Die goeie spel wat deur die voorspelers gelewer is, is deur die agterlyn ongedaan gemaak. Die spelers het dikwels te lank aan die bal geklou en die verkeerde opsies uitgevoer.
Samuel Erasmus (binnesenter) het uitgeblink met sy verdediging en het gekeer dat twee versekerde drieë deur Eersterivier gedruk word.
Te veel oorslaan-aangeë het verhoed dat hy die besit kry waarmee hy homself op die aanval kon bewys. |
 |
|
 |
 |
|
Groter samewerking in Boland landloop |
|
|
 |
|
|
|
 |
 |
|
LANDLOOPTALENT in die Boland sal voortaan beter na vore kom nadat Boland Landloop en Boland Ussasa onlangs vergader en tot 'n ooreenkoms gekom het.
'n Oorvleueling van byeenkomste en gebrek aan samewerking tussen dié twee liggame het in die verlede daartoe gelei dat landloop in skoolverband nie aansluiting gevind het by dié sportsoort op klubvlak nie.
Skoolatlete kan slegs aan die Bolandligas deelneem as hulle by 'n klub geaffilieer is.
By die onlangse vergaderings is daar ooreengekom dat atlete wat slegs aan Ussasa-byeenkomste deelgeneem het, se prestasies ook in aanmerking kom vir die provinsiale Boland landloopspan wat op klubvlak meeding.
"Die feit dat ons vanjaar weer 'n SA-byeenkoms het, was 'n groot motivering agter die vergaderings tussen ons en Ussasa," het Chris Davids van Boland Landloop gesê.
Davids het bygevoeg dat sekere ligas in die tweede ronde van die Boland landloopligas as proewe geïdentifiseer sal word.
"Hoewel die uitslae van Ussasa se byeenkomste tel, sal dit goed wees as skool-atlete wat nog nie in die ligas deelgeneem het nie, aan die proewe deelneem sodat ons kan sien wie is ons beste atlete," sê Davids.
Volgens Davids sal die Bolandliga en Ussasa landloopbyeenkomste so gereël word dat skoolatlete aan albei kan deelneem.
"Ons wil skoollandloopbyeenkomste in die week hou, terwyl Bolandligas op Saterdae aangebied sal word," sê Davids.
Tussen die eerste en tweede ronde van die Boland liga is daar 'n maand blaaskans, waarin daar 'n oefenkamp aangebied sal word.
Kort nadat die seisoen weer hervat het, sal atlete van Boland, Westelike Provinsie, Suid-Westelike Distrikte en Griekwas sake uitspook in 'n interprovinsiale byeenkoms.
"Dit sal as barometer dien om die graad van kompetisie te bepaal ná die rusperiode."
Op 23 Augustus word die amptelike Boland Kampioenskappe by Nelson's Creek gehou, waar skoolatlete en klubatlete teen mekaar sal meeding.
Ook hier is daar tot 'n ooreenkoms gekom. Ussasa sou oorspronklik sy kampioenskappe op Robertson aanbied, terwyl die klubkampioenskappe eers 'n week later sou plaasvind.
"Ek sien uit na groter spanne wat Boland Landloop nou sal kan kies, en die baie medaljies wat ons gaan inpalm, net soos in baan- en velditems waar die Bolandse atlete uitstyg.
"Dit sal nog meer so in landloop wees. 'n Atleet met rou talent kan ver kom in landloop en dus vinniger deursyfer na die hoë vlakke van dié sportsoort," het Davids gesê. |
 |
|
 |
|
|
|