|
EK reageer op die brief van "Die polisie gee nie om vir sy lede" van 5 Augustus. Ek wens meer vroue en familielede van polisielede het die "guts" om die polisie vas te vat oor die behandeling van polisiemanne en -vroue.
Vroeër was dit 'n eer om polisieman te word, die standaarde was hoog en die opleiding hard, maar dit was die moeite werd.
Vandag werk die meeste offisiere slegs kantoorure in netjiese verkoelde kantore. Hulle bekommer hulle nie oor lede se welstand en veiligheid nie.
Lede moet gedurig in gevaarlike omstandighede werk en alle vorms van beledigings van die publiek trotseer.
Baie lede tel uit die aard van hul werk aanrandingsake teen hulle op en dan word hul bevordering vir jare teruggehou. Sodoende word die lede ook finansieel benadeel - terwyl hy sy werk op 'n professionele manier probeer uitvoer het.
In die Paarl is misdaad so erg dat dit party naweke soos oorlog lyk in sekere woongebiede.
Vir sommiges haal ek my hoed af, maar die meeste offisiere staan koud teenoor lede. Dit terwyl lede die heeltyd moet dink aan departementele verhore en selfs skorsing. Hierin is offisiere op hul beste.
Berading op 'n gereelde grondslag is baie belangrik vir elke lid in die SAPD.
Daar moet ook gekyk word na die verskil in salarisse tussen die lede wat werklik elke dag in gevaar is en die professionele koffiedrinkers op kantoor.
In murg en been is ek 'n polisieman en soos dinge vandag lyk, wil ek nie een sterf nie. Dalk moet ek rustiger weivelde soek en weer 'n normale man vir my vrou en 'n goeie pa vir my kinders wees.
Oor die vuurwapen wat huis toe geneem word, wil ek verskil met die vorige skrywer. Dit is belangrik dat lede hul vuurwapens by hulle hou omdat dwelmsmouse en bendes lede met die dood dreig.
Aan die offisiere wil ek net vra om tot ander insigte te kom en hulle lede moreel te ondersteun.
Julle kan weer die trots in die polisie terugbring. Klim asseblief af van jul troontjies en vat ons hande sodat ons die swaar misdaadveldtog in ons land kan wen.
Tier |