|
Hugenote vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier met die amalgamasie van die skole vir seuns en meisies in 1954.
Die drama was nie bedoel om 'n feitelike weergawe van die ontstaansgeskiedenis van die skool te wees nie. Dit het danksy verteller Henry (Uliano Marthinussen) se breë omgang met die waarheid vele interessante kinkels opgelewer.
Soos hy dit stel: "Embroider op die cold, hard facts" om bietjie energie in te blaas in 'n andersins vervelige geskiedenistaak wat hy en sy vriende moes inlewer.
Omdat die stuk uit die oogpunt van 'n 2004-leerder vertel word, is uitkomsgebaseerde onderwys, en die integrasie van die skool na 1994 ook in die teks ingewerk.
Daar is vertel hoe die eerste onderwysers in die omgewing matrose en reisigers was wat maar self 'n gebrekkige kennis van die ABC gehad het.
Ds Andrew Murray (Jaco-Chris Koorts) wat sy besadigde verskyning gemaak het, het besluit om iets te doen aan die ongeletterdheid van die platteland, en onderwysers begin werf.
Dit het die pad oopgemaak vir die toetrede van drie formidabele onderwysers tot Wellington se onderwysgeskiedenis, Miss Bliss (Maureen Malan), Miss Ferguson (Johanna Joubert) en Robert MacCrone (Nicol Moodie).
Die meer ernstige karakters is afgewissel met deeglike hoeveelheid humor (soos die posduif-cum-bode Herman Bailey jr), en natuurlik, heelwat spoke.
Daar is ook vertel van een van die eerste onderwysers, Jan Hendrik Retief (Niël Swanepoel), wat by die Wederdopers in die laat 1800's aangesluit het.
Hy het geglo dat die wederkoms in Wellington sou plaasvind en dat hy lewendig sou opvaar. Om sake te bespoedig, het hy homself lewend op 'n brandstapel aan die brand gesteek.
Die stuk het ook slim gespeel met kwinkslae en bekende oud-skoliere. Breyten Breytenbach se poësie het soms 'n paar interessante draaie bygekry, terwyl Valerie Swart (Gerbrandt Kriel) die 1800s se eerste rock 'n roller was.
Die akteurs het hulself gewis goed van hul taak gekwyt, van diegene wat die besadigde hoofkarakters moes speel tot die groepie koshuismeisies wat gillend vir elke spook geskrik het. Die regie is behartig deur Cornelia du Preez. |