|
|
 |
 |
|
Sport |
 |
Ware Interskole-stryd |
|
|
 |
IN 'n harde rugbywedstryd eg aan die tradisie van die jarelange worsteling tussen Paarl Gim en Boishaai, het Gim Saterdag 13-3 die beste daarvan afgekom.
Gim was vooraf die gunstelinge, maar die nat weer was 'n groot gelykmaker en het albei spanne se hantering tot die uiterste getoets.
HJS het egter 'n stryd gestry wat enige 'old boy' se hart trots sou laat klop het. Klipharde verdediging deur albei spanne was ook 'n groot faktor.
Gim se kaptein, Ashley Johnson, wat op agsteman baie die bal gedra het, het veral onder die Boishaaiers se vernietigende laagvatte deurgeloop. Daarby was die druk op Gim se losskakel, Ricardo Croy, ewe groot.
Gim was egter die welverdiende wenners |
|
|
 |
nadat hulle die enigste twee drieë van die wedstryd aangeteken het.
Cobus Visagie het laat in die eerste helfte ten einde laas deur die hegte verdediging van Boishaai gebreek en sierlik oor die nat doelgebied geskuif, om Gim 5-0 te laat voorloop. 'n Goeie strafskoppoging na die pale teen 'n sterk wind deur HJS-senter, Clive Samuels, asook 'n suksesvolle strafskop deur Croy het die rustydtelling op 8-3 te staan gebring.
In die tweede helfte het albei spanne weer soos besetenes aangeval, maar geeneen wou die ander 'n duim beweegruimte gee nie. Gimnasium het in die skrums oorheers en genoeg besit gehad om die HJS-verdedigers voortdurend op hul tone te hou.
In die taai stryd was dit egter Gimnasium wat beter gebruik gemaak het van hul kanse, terwyl Boishaai weens gebrekkige afronding nie hul harde werk in punte kon omskep nie.
In die laaste vyf minute het die bastions van Boishaai se verdediging uiteindelik verbrokkel toe Kotie Kotzé (flank) in 'n losgemaal enkele treë van HJS se doellyn, deurbars vir Gim se tweede drie.
Die Gimmies se uitblinkers was Johnson, Carlo Prinsloo (stut), die skakelpaar Croy en Marnus Hugo (skrumskakel) asook Jean Stemmet (senter).
Samuels het met 'n paar goeie breekslae die oog gevang terwyl Heunis, Terry Jacobs (vleuel), en kaptein Dries Pienaar (haker) ook hul alles vir HJS gegee het.
Dit was vanjaar Gim se beurt om koning te kraai en hoewel die teleurstelling duidelik leesbaar was op die gesigte van die Boishaaiers, het die sowat 20 000 toeskouers groot waardering getoon vir die mooi stryd wat die dag opgelewer het.
Meisies deel sukses
Op die netbalbaan en hokkieveld het die meisies van Gim en Hoër Meisieskool sukses gedeel.
Gim was Vrydag eerste aan die wenkant toe hul netbalspan dié van HMS 31-24 geklop het. Die Gim meisies het in die laaste 10 minute die oorhand gekry in wat tot op daardie stadium 'n baie gelyke stryd was, met die doele wat die telbord laat wipplank ry het.
Sowat 100m verder was dit egter weer die meisies van HMS wat die oorhand op die hokkieveld gehad het. HMS het kort voor rustyd 1-0 die voortou geneem toe die kaptein, Kate de Villiers, die eerste en enigste doel van die wedstryd aangeteken het.
Die seunshokkiewedstryd op Boishaai se veld die volgende dag was propvol aksie en hier was dit die tuisspan wat bo uit gekom het. Neil Hessling het vir HJS 'n doel ingeskiet in hul 1-0 sege.
Ander uitslae: (Rugby) o.14A Gim wen 13-10, o.15A Gim wen 25-6, o.16A Gim wen 12-9, o.19B HJS wen 15-12. (Netbal) o.14A Gim wen 22-12, o.16A Gim wen 16-14, o.19A Gim wen 31-24. (Meisiehokkie) o.14A HMS wen 1-0, o.16A Gim wen 2-1, o.19A HMS wen 1-0. (Seunshokkie) o.14 gelykop 1-1, o.16A HJS wen 2-1, o.19B HJS wen 4-0. |
 |
|
 |
Geen skuldiges in klubrugby-debakel |
|
|
 |
|
 |
GEEN skuldiges is uitgewys nie nadat 'n tugverhoor verlede week die oproerige omstandighede tydens 'n wedstryd tussen die rugbyklubs Wellington en Roses United ondersoek het.
Die wedstryd is na slegs 10 minute gestop nadat spelers en toeskouers van dié klubs handgemeen geraak het.
Die verhoor was deur adv Jannie Lubbe van SARVU, gelei.
Roses United is op alle klagte - wat onsportiewe gedrag, aanranding op Wellington spelers en toeskouers, rassistiese opmerkings en aanranding op die grensregter ingesluit het - vrygespreek. Geen stawende bewyse kon gevind word om Roses skuldig te bevind nie, nadat al die getuienis wat 'n video en foto's ingesluit het, asook verklarings, bespreek is.
Volgens die getuienis van die skeids- en grensregter kon hulle geen vuishoue tydens die betrokke voorval waarneem nie. Die grensregter het ook getuig dat hy nie aangerand was nie.
"Roses was die enigste party wat getuienis van rassisme en aanranding op 'n beampte van Roses United deur Wellington toeskouers en spelers na vore gebring het. Die bewyse was egter nie genoegsaam om Wellington skuldig te bevind nie," het Willem Small van Roses gesê.
"Die uitslag bevestig dat Roses se bestuur en funksionering kerngesond is. Die voorsitter van die dissiplinêre verhoor het bevestig dat rassisme die oorsaak was van die betrokke insident," het Small bygevoeg.
Volgens Dolft Stemmet, president van Wellington Rugbyklub, het sy klub appèl aangeteken teen die bevinding van die tugkomitee.
"Weens 'n kommunikasiegaping met die bestuurder van Boland klubrugby, Ivan Pekeur, is sewe verklarings van Wellingtonspelers en toeskouers nie aan die tugkomitee voorgelê nie," het Stemmet gesê.
Volgens Pekeur was die betrokke verslae wat op 21 Julie ingegee is, te laat ingehandig vir sirkulasie onder die tugkomitee en Roses United verteenwoordigers, ondanks die feit dat die verhoor met 'n week uitgestel is na 27 Julie.
"Die klagstaat wat opgestel is, is so wyd dat 'n ossewa daardeur kan ry. As Wellington skuldig bevind is omdat hy nie sy klubverpligtinge nagekom het nie, sou ons dit so aanvaar het. Maar geen regproses kan almal onskuldig bevind nie," sê Styemmet.
Die aansoek om appèl is na Boland Rugby se uitvoerende bestuur verwys. |
 |
|
 |
Albions kelder Stars met drieë-storm |
|
|
 |
|
 |
DIE Albions Rugbyklub se eerste span het Saterdag weer 'n goeie sege behaal in hul wegwedstryd toe hulle vir Young Stars 35-12 geklop het.
In moeilike, nat weersomstandighede het die Paarliete steeds goed karakter getoon deur sewe drieë in te ryg met mooi hardlooprugby.
Elrico Pietersen (vleuel) is met twee skitter-drieë beloon nadat hy moes hard werk om 40m te hardloop en só die rustydtelling op 10-0 te staan gebring.
Ten spyte van die wind van voor het Albions na 'n hoër rat oorgeslaan.
Die vaste vyf - haker Fuad February, stutte Gillian Arendse en Edgar Arendse asook die slotte Roderick Allies en Alfredo Adams - het goed hul kant gebring.
Agterlangs het die senters voortdurend die gapings opgesoek en die tuisspan se verdediging getoets.
Roger Uren (senter) het 'n aanskoulike drie gedruk, maar die speler wat werklik die oog gevang het, was Ju-Wayne Cyster.
Cyster se breekslae en rotsvaste verdediging was eersteklas, wat die geleentheid geskep het vir Lincoln du Preez se kuiertjie in die doelgebied.
Alvin Hugo (regtervleuel) het ook twee keer agter die lyn gaan druk.
* Albions II wen 60-5. Die derdespan wedstryd het nie plaasgevind nie omdat Young Stars laat opgedaag het.
Albions speel Saterdag teen Stellenbosch Coro-nations. |
 |
|
 |
MTB Schools series kicks off |
|
|
 |
|
 |
THE Mongoose/Pro-Nutro School Mountainbike Challenge will kick off in Paarl on 21 August.
The aim of the series is to promote mountain- biking at grassroute level, to help schools establish mountainbike clubs and to provide an opportunity for riders of all levels to compete on a purpose-built course similar to what they would be riding at competition level.
An open class will also cater for other riders to compete. Races will be held on Saturday afternoons to ensure maximum participation.
Races will take place on short course tracks purposely designed and built for this series. Riders of all levels will be able to ride the course. Course length will be between two and three kilometres.
The courses are designed with the intention of providing maximum spectator value and for riders to have as much fun as possible.
Any bike with brakes that is in a reasonable riding condition should be able to negotiate the course. BMX bikes will also be able to complete the circuit. If the person wants to take part, but is unsure about the condition of his bicycle, he should go to the following participating stores: Huguenot Cycles, Paarl (872-43540), Masons Bike Inn, Stellenbosch (883-2202), Manic Cycles, Franschhoek (876-4956).
All school categories will be catered for. There will also be an open class. This will be a sprint race over 30 minutes plus one lap.
The first race will take place on 21 August at the Taal Monument. Entry forms are available at most schools and at the three participating cycle dealers. Info: Fred Coleske 872-4436. |
 |
|
 |
Begroet lente uit 'n fietssaal |
|
|
 |
|
 |
FIETSRYERS kan die eerste lentebloeisels behoorlik vanuit hul sale begroet wanneer Yorkshire Fietsryklub sy Lente Fietsry Uitdaagbyeenkoms vroeg in September aanbied.
Dit is vanjaar die vierde keer dat die byeenkoms gehou word en 'n vol program word vir die dag beplan.
Fietsryers sal Saterdag 11 September by Ivanhoe Park in Klein Drakensteinweg in die Paarl bymekaar kom vir die byeenkoms wat deel uitmaak van Yorkshire se 85ste bestaansjaarvieringe.
Wedrenne vir groot tot klein sal aangebied word en sluit in 'n 1 km driewielwedren vir twee- tot agtjariges, 'n 20km prettrap vir die hele gesin, ontwikkelingsklinieke en -wedrenne vir skoliere en wedrenne vir geregistreerde fietsryers.
Deelnemers aan die 20km prettrap kom ook in aanmerking vir 'n gelukkige trekking.
"Die klub poog om met die dag veral die jeug betrokke te kry by fietsry en ook om motoriste bewus te maak van fietsryers op die pad," sê Ian Goetham, van Yorkshire.
"Terselfdertyd wil ons ook by fietsryers verdraagsaamheid aanmoedig vir motoriste."
Inskrywingsvorms is beskikbaar by Kevin Green Sport, Bredastraat of skakel 083-949-4501 of 083-292-4691 vir navrae. |
 |
|
 |
Bergrivier oorheers Weltevrede in nat derby |
|
|
 |
|
 |
IN 'n klipharde derbywedstryd wat bemoeilik is deur sifreën, slaag Bergrivier daarin om met 26-3 Weltevrede se neus letterlik in die modder te vryf.
Die wedstryd het op Boland Stadion teen 'n geweldige tempo afgeskop en geen genade is getoon nie.
Bergrivier ruik eerste bloed toe hul betroubare losskakel, Conroy Gertse, met 'n strafdoel slaag. Kort daarna val Bergrivier verwoed aan en Abrio du Bruyn (senter) duik oor in die hoek vir die eerste drie van die wedstryd. Gertse verdoel en dit bring die telling op 10-0 te staan.
'n Verdere strafskop deur Gertse en een deur Weltevrede se Christo Fransman bring die rustydtelling op 13-3 te staan.
In die tweede helfte was daar geen keer aan Bergrivier nie en met goeie berekende aanvalle vorder hulle tot in Weltevrede se kwartgebied.
Vanaf die daaropvolgende lynstaan, jaag Gertse die bal met 'n sierlike skepskop deur die pale om sy span se voorsprong nog verder te vergroot.
Daarna was daar net een span op die veld.
Weltevrede se heelagter, Michael van Wyk, sukkel om 'n hoë bal onder beheer te kry en dit gee vir Franzel September, flank en kaptein van Bergrivier, die geleentheid om die los bal op te pik en oor te val vir 'n verdoelde drie.
Gertse voeg kort daarna nog 'n strafskop by en stuur Weltevrede met die kous oor die kop huis toe.
Bergrivier wen dan ook al die rugbywedstryde o.14 (10-7), o.15 (15-10), o.16 (24-0) en o.19B (16-10).
Bergrivier is dan ook die algehele wenners van die derby met 30 punte teenoor Weltevrede se 18.
Ander eerste spanne uitslae: (Krieket) Bergrivier wen. (Skaak) Weltevrede wen 6-2 (Veerpyle) Weltevrede wen 6-5 (Vlugbal) Bergrivier seuns wen, Weltevrede meisies wen (Netbal) Bergrivier wen (Sokker) Weltevrede wen (Landlope) Bergrivier wen (Basketbal) Bergrivier seuns wen, Weltevrede meisies wen. |
 |
|
 |
 |
|
|
|