|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Machelm moes hierna verbete klou aan die eerste plek en slaag daarin om 'n ses sekonde voorsprong op te bou en palm ook die Koning van die Berg-titel (44:48) op die 13 kilometer-merk in. Maar die Ceresiet wou nie gaan lê nie en toe die twee voorlopers die afdraande deel van die roete pak, slaag hy daarin om gou-gou weer in Machelm se nek te blaas. Die Matie-atleet het egter mooi kopgehou en sy kans sowat 2km voor die wenstreep by Laerskool Noord-Eind benut. Hy het sy pas genoegsaam versnel om onder Laban uit te hardloop en die wenstreep in 1:11:18 oor te steek. Laban het kort op sy hakke gevolg in 1:11:40, gevolg deur Caster Saul (1:12:43). Hoewel Steyntjie Prins van Paarl Atletiekklub nie haar prestasie van 2001 kon herhaal deur die eerste vrou te wees wat die wenstreep oorsteek nie, het sy nietemin 'n mooi vertoning gelewer. Haar tyd van 1:37:57 was goed genoeg om haar 'n algehele vyfde plek te gee in die afdeling vir senior vroue, asook die eerste plek in beide die subveterane- en veterane-afdeling. Nomvuyisi Seti van New Balance Khayelitsha het eerste die wedloop voltooi in 'n tyd van 1:30:42, gevolg deur Esmé Koopman (Mr Price Celtics) en Marzanne Burger (individueel) wat onderskeidelik in 1:31:01 en 1:33:21 klaargemaak het. |
|
|
|
|
DIE afrigter van die Ceres Rugbyklub, Hawies Fourie, is die nuwe bloed wat deur die Boland Rugbyunie aangestel is, om die Boland Kavaliers voortaan te brei. Die besluit om Fourie aan te stel in plek van Jerome Paarwater wat 'n afrigterspos in Italië aanvaar het, stryk met Boland Rugby se strewe om plaaslike talent te ontwikkel. Denver Pienaar en Deon Davids is ook deel van die afrigtingspan. Die 34-jarige Fourie rig al vir die afgelope twee jaar vir Ceres af. Die klub het die rugbypubliek vanjaar laat regop sit toe hulle die Maties in vanjaar se nasionale klubrugbytoernooi met 27-18 geklop het. "Dit was die beste tyd en twee dae later ook die ergste tyd, toe ons teen Shimlas verloor het," skerts Fourie. Fourie wat op sy tyd ook vir Maties gespeel het, het van 1994 tot 2000 as losskakel en binnesenter vir Ceres uitgedraf en is in 1994 en '95 vir die Kavaliers gekies. "Ek glo eerstens in 'n gelukkige span. Daarna moet jou oefeninge gestruktureerd wees, daar moet dissipline in die span wees en die spelers moet vertroue hê in hul spanmaats en afrigter. Eers dan kan jy begin kyk na jou tipe spel," beskryf Fourie sy benadering tot afrigting. Dat die Kavaliers nie presteer soos hulle moet nie, gee hy toe. Hy is egter vol vertroue dat daar genoeg talent is om die Bolanders weer op die wenpad te kry. Ná die Kavaliers se 33-7 nederlaag teen die Grens-Bulldogs Saterdag moet daar nou op die Bankfin-skild gefokus word. "Om te wen is nou ál wat die spelers se moraal sal regkry. Dieselfde spelers wat verlede jaar die B-seksie gewen het, speel vanjaar weer. Ons het nou geen ander keuse as om die B-seksie te wen nie," sê hy. Oor groter rugbyunies wat na spelers soos Wayne Julies, Enrico Januarie en Ashwin Willemse vry, sê Fourie dat daar strukture in plek gesit sal word wat verhoed dat dié talent opgeraap word. Rudy Joubert, wat voor Paarwater die Kavaliers gebrei het, en nuut aangestelde afrigter van die Bulls, was ook Dinsdag tydens Fourie se bekendstelling teenwoordig. Gevra of hy Joubert se noue band met die Kavaliers as 'n moontlikheid sien dat van die Bolanders volgende jaar miskien tydens die Super 12 reeks kan uitdraf, was Fourie positief. "Ek glo nie daarin om spelers van hul kanse te weerhou nie, en as ons spelers kans kry om op 'n hoër vlak te speel, moet hulle die kans gegun word. "Daardeur sal jy meer o.21 spelers kry wat vir jou wil speel, omdat hulle sien die speler kom êrens." |
|
|
|
|
Die nominasies vir die Paarl Post Sportman en -Vrou van die Jaar sluit môre en belangstellendes het nog 'n laaste kans om inskrywings vir vanjaar se kompetisie in te stuur. Laatslapers moet dus wikkel en sorg dat hul inskrywingsvorms môre voor 17:00 by die kantore van Paarl Post ingehandig word. Die dinee waartydens die vier wenners in onderskeidelik die junior en senior sportman en -vrou van die jaar afdelings aangewys word, sal op 14 Oktober plaasvind. Die meeste skole en sportklubs in die Paarl, Wellington en Franschhoek omgewing het reeds inskrywingsvorms ontvang. Bykomende inskrywingsvorms is by die kantore van Paarl Post beskikbaar. Elke instansie kan slegs een kandidaat per afdeling inskryf. Vir meer inligting skakel Leon Steenkamp by 871-1170. |
|
|
|
|
HOEWEL 'n oorvloed strafskoppe Saterdag hul spel gekenmerk het, het Riverstones nietemin daarin geslaag om op Daljosafat 19-3 met Sir Lowrians af te reken. Die tuisspan het eerste punte aangeteken toe Manfred Hendricks (10) ná 10 minute gaan druk en verdoel. Ongedissiplineerde spel en foute het Riverstones voortdurend van besit en posisie ontneem. Kort voor rustyd slaag die besoekers met 'n strafskop om die rustydtelling op 7-3 te bring. Hoewel die spel nie vreeslik gevloei het nie, het Riverstones by tye sterk dryfbewegings en stormlopies aanmekaar geflans om goeie fasebesit te verseker. As die stoomrollerspel van Riverstones eers momentum opgetel het, was daar geen keer nie. Dit is dan ook ná so 'n periode van spel wat Riverstones tot in Sir Lowrians se kwartgebied gevorder het. 'n Strafskop het die voorspelers kans gegee om die doellyn te bestorm en Hilton Green (5) druk die tuisspan se tweede drie. Hendricks se skop tref die regoppaal, maar spring tog oor en Riverstones vergroot hul voorsprong 14-3. Riverstones moes egter hierna sonder sy regtervleuel, Wayne Cupido, klaarkom nadat hy 'n geelkaar gekry het vir trap. Hy vergoed egter daarvoor deur later 'n drie te druk. Simon Julies, Riverstones se agsteman, was baie prominent met sy sterk stormlopies en breekslae van agter die skrums. In 'n wedstryd wat in 'n sterk wind op Franschhoek gespeel is, het Young Standards sleg tweede gekom teen Franschhoek. Standards het die voortou geneem ná 'n skepskop deur Bradman Arendse. Franschhoek het sy groter pak voorspelers goed aangewend om deur die verdediging van Standards te bars en teen rustyd het die tuisspan reeds 29-3 voorgeloop danksy vyf drieë deur Louvin Jacobs 2, John Jacobs, John Williams en Tino Prins. Hoewel die besoekers in die tweede helfte beter gespeel het, met die regtervleuel Donny Williams wat 'n drie druk, het Franschhoek se samespel en meer gedissiplineerde benadering hul maklik na 'n 41-8 oorwinning gehelp. In die tweede helfte druk Werner Groenewald en Aubreyan Manual vir Franschhoek. Prins verdoel drie van die drieë. Hoewel Paarl Rangers tot en met die laaste 10 minute nog in die prentjie was in hul wegwedstryd teen Harlequins met die telling op 28-26, het twee vinnige drieë deur die tuisspan vir die Harlequins van 'n oorwinning besorg en Rangers ook van 'n ekstra bonuspunt beroof. Claude Vos, Philip van Staden en Eric Plaatjies (2) het vir Rangers gedruk terwyl Leswyn Baron met twee strafdoele geslaag het. |
|
|
|
|
DAAR is nog heelwat kaartjies beskikbaar vir die drie Wêreldbeker-krieketwedstryde wat op Boland Park gespeel gaan word. Kaartjiepakkette is al van 15 Julie by krieketstadions regoor die land beskikbaar, maar kopers wat net in individuele kaartjies belang stel, sal tot 2 Desember moet wag. "Daar is steeds heelwat kaartjies beskikbaar vir die wedstryde by al ons kleiner stadions, BoE Park, inkluis. "Dit is belangrik om te let dat aangesien dit 'n Wêreldbeker is, elke wedstryd ewe belangrik is en gevolglik baie opwindend gaan wees," het dr Ali Bacher, uitvoerende direkteur van die Wêreldbeker 2003, verlede week in 'n persverklaring gesê. "Dit is belangrik dat plaaslike gemeenskappe deel word van die Wêreldbeker omdat heelwat opwindende aktiwiteite benewens die wedstryde beplan word. "Daar sal opwarmingswedstryde, afrigtingsklinieke, spelers-onthale, 'n promosietoer, musiekfeeste en so meer gehou word. Dit beteken dat die gemeenskap sal voordeel trek uit al die verrigtinge. "Daarom is dit belangrik dat die Wêreldbeker en al die aktiwiteite wat daarmee gepaardgaan deur almal ondersteun moet word, tot voordeel van die land," het Bacher gesê. Hy voeg by dat daar uit sekere geledere groot druk op hulle was om nie wedstryde by kleiner stadions aan te bied nie. "Maar ons het hard baklei om die Wêreldbekerwedstryde so eweredig as moontlik te versprei om te verseker dat almal voordeel trek uit dié wonderlike geleentheid. Dit is hoekom ons dus 'n beroep op die publiek wil doen om die wedstryde te ondersteun. "'n Suksesvolle Wêreldbeker sal baie vir die land beteken, veral uit 'n toerisme-oogpunt. Maar dan moet ons die stadions vul om die doel te verwesenlik." Volgens Cassie Viljoen, administratiewe beampte van Boland Krieketraad, is daar nog 367 sitplekkaartjiepakkette en nog 1502 graswal-kaartjiepakkette. "Diegene wat Paarl-pakkette gekoop het, sal voorkeur geniet by die aankoop van kaartjies vir die eendagtoets tussen Suid-Afrika en Pakistan wat op 16 Desember by Boland Park gespeel word," het Viljoen gesê. |
|
|
|
|
DIE eerste rugbyspan van Paarl Gimnasium het Saterdag in Oos-Londen naelskraap teen Selbourne College verloor in die eindstryd van Media24 se nasionale rugbykompetisie vir hoërskole. In 'n taai wedstryd waarin die uitslag tot op die laaste oomblik onseker was, het Gim se voorspelers 'n goeie vertoning gelewer. Die Paarliete se losskakel, Etienne Duvenage, het ook 'n skitter vertoning gelewer en altwee sy span se drieë gedruk. Die tuisspan wat rustyd 6-5 voorgeloop het, het egter goeie 15-man rugby gespeel om die Paarliete naelskraap met 11-10 van glorie te ontneem. |
|
||||