|
Die leerders se ouers is almal plaaswerkers en as gevolg van die swak finansiële omstandighede is die skoolfonds net R40 per jaar.
"Om arm te wees, is nie sleg nie, maar 'n mens kan nog steeds trots wees," het Lydia Schartz, voorsitter van die beheerliggaam gesê.
Sy het die hoof en die enkele onderwyseres, Nadia Adams, bedank vir hulle deursettingsvermoë en gesê hulle verdien nie net 'n salaris nie, hulle doen opheffingswerk. André Kühn, elektrifiseringsbeplanningsbestuurder van Eskom, het die vertroue uitgespreek dat die krag leerders sal help om beter te leer, "sodat julle vir julself 'n pad vorentoe kan oopkap in die lewe".
Bosplaas Primêr is in 1972 opgerig met twee klaskamers en 'n stoor. Die skool het begin met 33 leerders en twee onderwysers.
Twee jaar gelede is die stoor omskep in 'n kantoor, 'n telefoonlyn is aangelê en die muur tussen die twee klaskamers is met 'n skuifdeur vervang, sodat dit as saal gebruik kan word.
Die skool maak nog steeds gebruik van 'n emmerstelsel, maar dit word eersdaags vervang met spoeltoilette, geborg deur die Distriksmunisipaliteit.
"Ons grootste bron van kommer nou is die beskikbaarheid van suiwer drinkwater vir ons leerders," sê mev Baron. Die Distriksmunisipaliteit werk op die oomblik aan dié saak. Sy het Dirk Snewe en André Kühn bedank vir Eskom se skenking van krag asook die plaaseienaars, Abri en Lettie van Santen, wat die bedrading gratis gedoen het.
* A farm school received electricity this week. |