|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
spelers met ervaring sal kies, aangesien dit nie net 'n belangrike toernooi vir die span is nie, maar ook vir die land in geheel." Ontong se mees onlangse wedstryd as Protea was in die eerste eendagwedstryd teen Sri Lanka op Centurion, waar hy 6 lopies aangeteken het. Hy is die eerste om te erken dat hy nog nie sy kanse op internasionale vlak kon aangryp nie. "Ek is tot beter in staat en ek glo ek kan nog baie beter speel," sê hy. Baie sal egter stry dat die Bolander nog nie werklik 'n kans gegun is om homself in die SA span te bewys nie, weens wisselvallige insluiting. Hoewel hy nie verskonings soek nie, beaam Ontong dat dit soms moeilik is. "Dis nie dat ek myself probeer beskerm nie, maar as ek gekies word, speel ek een wedstryd en word dan vir die volgende drie gerus. Dit is nie altyd goed vir jou selfvertroue nie. "Toe ek die eerste keer gekies is vir 'n eendagtoets is ek as 'n bouler gekies en het ek baie laag op die kolforde gekolf. Maar dit het van my 'n beter speler gemaak - my boulwerk het intussen verbeter en het ek as speler gegroei," sê Ontong wat dit verkies om op nommer vier voor die penne stelling in te neem. "Maar ek moet myself nog bewys deur 'n paar groot honderdtalle te slaan in die plaaslike reekse om só my plek oop te speel. "Dit kos jou ook net een goeie seisoen, soos Graeme Smith wat hierdie seisoen briljant gespeel het," sê hy, maar bevestig dat met spelers van kaliber soos Herschelle Gibbs en Jacques Kallis dit baie moeilik gaan wees om hom in die Suid-Afrikaanse topkolforde te vestig. Hy hou nou duim vas vir sy insluiting in die vierdaagse toetsspan wat van 20 tot 23 Desember teen Pakistan op Pietermaritzburg sal speel. "Die kanse is baie goed dat ek en (Boland spanmaat) Charl Langeveldt gekies word vir die A-span. "Ek het 'n goeie wedstryd teen Kenia gehad met boulsyfers van 3/30. Ek het in die laaste twee boulbeurte kom kolf en het 7 nie uit nie, aangeteken. "Dit was teleurstellend om nie vir die volgende wedstryd teen Indië gekies te word nie, maar daar is vir my redes gegee hoekom ek uitgelaat is en ek het verstaan," vertel hy. Gevra of hy voel hy kan homself in die SA A-span se meerdaagse wedstryde bewys vir insluiting in die Protea-eendaggroep, sê Ontong dat hy ook verby die Wêreldbekertoernooi kyk. "Ek weet die eendagwedstryde is belangrik vir die Wêreldbeker. Maar ná die Wêreldbeker is daar nog die toer na Engeland en die eintlike toets in krieket is om goed vier- of vyfdagkrieket te kan speel. "Ek glo as jy hier goed doen, sal jy plek in die eendagspanne kry." Oor die grootste verskil tussen speel vir die SA A-span en die Proteas, sê Ontong, dat die tweede gekeurdes meer ontspanne op die veld is. "As jy by die A-span instap kan jy dadelik voel daar is 'n lekker spangees. In die Protea-span is die druk groter." Oor transformasie sê hy is daar ook druk. "As ek, Makhaya of Herschelle speel, speel ons vir onsself en ons weet ons behoort daar, want ons is goed genoeg. "Maar jy voel tog ekstra druk. Omdat jy deel is van die minderheid voel jy jy moet die publiek wys, al weet jy jy het dieselfde talente as die ander spelers," sê hy. As kaptein van die Boland is Ontong op sy gemak. "Om kaptein te wees, is nog nuut vir my maar dit word makliker gemaak deur die ondersteuning van ervare manne soos Steve Palframan en Henry Williams," sê die kaptein. "Die span was baie af ná sy vertoning in die SuperSport reeks, maar nadat ons vir OP en Gauteng met bonuspunte gewen het, was die gees weer goed. "Ons is 'n beter gebalanseerde eendagspan so ons het geweet ons gaan 'n krag in die eendagreeks wees." As die twee Bolanders vir die SA A-span gekies word, sal hul provinsie sonder hulle moet klaarkom in hul tuiswedstryd teen Namibië volgende Vrydag. Die Boland het nog 'n buitekans om na die halfeindwedstryd deur te dring as hulle goed doen in hul orige wedstryde teen Namibië en die Westelike Provinsie. |
|
|
|
|
DAAR is nog 4750 kaartjies oor vir die eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Pakistan wat Maandag in Paarl gespeel word, volgens Cassie Viljoen, administratiewe beampte van Boland Krieket. Daar is nog plek vir 3000 toeskouers op die graswalle, 1450 op die tydelike pawiljoen en 300 op die Nederburg pawiljoen. Kaartjies kan gekoop word by die kantore van Boland Krieket wat Saterdag van 09:00 tot 13:00 oop sal wees, by die webtuiste sacricket.co.za of by die Oproepsentrum by 083-123-6464. Toeskouers moet let op die gemerkte ingange aangesien houers van graswal- en pawiljoenkaartjies by verskillende ingange moet inbeweeg. Die nuwe telbord is opgerig en sal die naweek getoets word, waarna dit Maandag vir die eerste keer gebruik sal word. Die wedstryd begin om 10:00 maar die hekke open reeds om 08:00. "Ons vra die publiek om geduldig te wees met die sekuriteitreëlings om sodoende die dag saam met ons te geniet," het Viljoen gesê. Toeskouers sal by Klein Nederburg Sekondêr en die Ligstraal Skool vir Gestremdes kan parkeer asook langs Langenhovenweg. * Intussen het die Verenigde Krieketraad in samewerking met die Wêreldbekerkomitee besluit om van die veiligheid- en sekuriteitmaatreëls te verslap vir die oorblywende eendagtoetse tussen Suid-Afrika en Pakistan. Volgens die Wêreldbeker se direkteur van veiligheid, Patrick Ronan, volg dit op waarnemings tydens die vyf eendagwedstryde wat teen Sri Lanka gespeel is. "Die loodsprojek-wedstryde het ons geleentheid gegee om die veiligheidmaatreëls te beproef en om die stelsels te toets voor die Wêreldbekertoernooi. Ons het gevolglik besluit om sekere maatreëls te verslap. "Die beperking op die inneem van plastiese water- en koeldrankbottels in die stadion is opgehef. Toeskouers mag egter nie flesse of ander harde houers inbring nie. "Hout of plastiek strandstoele mag by die stadion ingeneem word, asook spuitbotteltjies en parfuumbotteltjies. "Hoewel die ander beperkinge steeds van toepassing is, sal toeskouers braaigeriewe en sambrele gratis binne die stadion kan gebruik. Toeskouers kan ook sagte koelsakke inneem." |
|
|
|
|
DIE nuwe krieketklubhuis van Young Peoples in Daljosafat is nog skaars ingewy of 12 van die vensters se ruite is reeds stukkend. En nee, dit is nie die kolwers wat Saterdae so verwoestend onder die boulwerk inklim nie - die stukkende ruite is die werk van vandale. Klublede het twee weke gelede met die Donderdag se oefening die skade gesien. Hoewel die meeste van die ruite met roosters bedek is, wat inbrake en vandalisme verhoed, is dié ruite op die eerste verdieping sonder beskerming en weerloos teen kwaaddoeners. 'n Klip wat deur een van die agterste ruite - die vensters waar die meeste skade aangerig is - gegooi is, het reg deur die klubhuis getrek en 'n glas-skuifdeur aan die voorkant van die gebou gekraak. Die klubhuis maak deel uit van die Verenigde Krieketraad van Suid-Afrika se voorbereidingsprojekte op die 2003 Wêreldbeker kriekettoernooi. Die nuwe klubhuis en tien oefennette is deel van die toernooi se nalatenskapbeleid, maar daar sal nie veel nagelaat kan word as dít is hoe die gemeenskap na hul geriewe omsien nie. Daarby sal die Hollandse span vir die duur van die toernooi in die Paarl tuisgaan en 'n oefenkliniek op Daljosafat aanbied asook daar oefen. 'n Gehawende klubhuis weens voortdurende vandalisme gaan nie die buitelandse pers ontglip nie en sal ook beslis nie 'n goeie beeld na buite stuur nie. Die voorval is reeds by Boland Krieket aangegee en daar sou vandeesweek vergader word oor die herstelwerk. Die oorhoofse ligte van die aangrensende krieketveld is ook stukkend gegooi. |
|
|
|
|
IN wat as 'n eerste in sy soort bestempel is, het die Boland Sportraad verlede week 'n dekade van uitnemendheid in sport gevier deur 105 Bolandse sportlui te vereer wat hul land verteenwoordig het. Volgens Wilfred Daniels, voorsitter van die Boland Sportraad, is daar besluit om erkenning te gee aan die atlete, sportafrigters en -beamptes wat oor die afgelope tien jaar bygedra het tot die sukses van SA spanne in die onderskeie kodes. "Hulle het nie net hulself en hul land goed verteenwoordig nie, maar ook dié plattelandgebied - die Boland," het Daniels gesê. Hy het bygevoeg dat die Boland Sportraad in die laaste 12 maande "dinamiese leierskap" in dié liggaam bevorder het deur die aanwysing van 'n paneel beskermhere. "Die bestuur het besluit om mense van formaat aan te wys as beskermhere van Boland. Hulle is mense van aansien wat trots sal wees om te sê dat hulle die Boland Sportraad ondersteun en die boodskap van die uitnemende sporttalent in die Boland na buite sal uitdra," het Daniels gesê. Die beskermhere sluit in Sol Krynauw, Jannie van Eck, Arthob Pietersen, Emily Pienaar, Andries Krogmann, Yvette Pietersen en Patrick Ross - persone wat almal 'n groot rol speel in plaaslike sportkringe. Nog vier beskermhere sal in April aangewys word, twee swart en twee vrouens. Daniels het die geringe verteenwoordiging van swart atlete en administrateurs op die besture van die onderskeie Bolandse sportkodes bevraagteken en gesê dat dit moet verander, veral weens die baie sporttalent wat daar in die informele woonbuurte van die Boland is. "Ons moet die voorbeeld stel. Ek wil voortaan bekend staan vir transformasie en deursigtigheid," het Daniels gesê en die storie van Xolisa Moshoeshoe, 'n naelloper van Mbekweni, ter illustrasie vertel. Moshoeshoe is 'n begaafde 100m atleet wat in 2001 Suid-Afrika tydens die Wêreld Jeug Atletiekkampioenskappe in Hongarye verteenwoordig het. "Moshoeshoe het ondanks die toestande waarin hy leef nie 'n bendelid geword of na drank en dwelms of enige van die ander sosiale euwels gegryp nie. Hy het hom toegespits op sy sport. "Toe hy TB kry en hy deur sy gemeenskap verstoot word omdat hulle dink hy het Vigs, het hy bly veg om bo uit te kom. "Maar Moshoeshoe is nie die uitsondering nie, daar is baie soos hy. Ek sien die drome van die volgende generasie atlete in 'n atleet soos Moshoeshoe, " het Daniels gesê. Die Springbok-paalspringer Okkert Brits het namens die atlete die Boland Sportraad bedank vir sy ondersteuning deur die jare en bygevoeg dat daar met optimisme uitgesien word na die nuwe bande wat die Raad met die beskermhere gesluit het. "Ons het baie talent in die Boland, baie waarvan ons nie eens weet nie en ek hoop met die hulp van die Boland Sportraad gaan dié atlete in die volgende paar jaar na vore kom," het Brits gesê. Transformasie moet ook 'n rol speel by gestremde atlete, met sportgeleenthede en -stadions wat ook voorsiening moet maak vir gestremde atlete, het Daniels gesê. Volgens een van die sprekers, Sol Krynauw, sal besighede meer geneë wees om borgskappe te gee as sport-administrateurs hulle met gesonde besigheidsbeginsels nader. Boland sportpersone Tydens die geleentheid is die junior en senior sportman en -vrou van die jaar ook aangewys. Die judokas Samantha Thornhill en Willie Viljoen is as junior sportseun en -dogter aangewys. Die Paarliete Magdelene Nicholson en Nolan Hoffman (albei fietsryers) was naaswenners. In die kategorie vir senior vroue het die Boland netbalspeler Mabel van der Vyver van Oud-Maties met die louere weggeloop, terwyl die Boland krieketkaptein Justin Ontong die manstoekenning opgeraap het. Die Boland Netbalspan is as die span van die jaar aangewys, terwyl Kobus Bester van die Ou Kraal Jukskeiklub (Paarl) as die jaar se sportadministrateur vereer is. Rose Samuels en Pieter Pietersen is as junior gestremde atlete van die jaar aangewys, met die fietsryer Marius Louw wat die senior manstoekenning vir gestremdes ontvang het. |
|
||||