|
Hulle is teen middernag, ná 'n rojale kreefmaaltyd en wyn, na hul huisie 75m van die see. Leilani sou die volgende oggend gaan draf
het, en Pierre sou met 'n motorfietsie agterna gery het.
"So voor nege het Leilani my skielik aan die arm gegryp en gegil. 'n Brander so hoog soos 'n dubbelverdieping het op ons afgerol.
Hy was vyf meter van ons af, en het al gebreek in 'n swart- en wit skuimmassa.
"Die glas van die skuifdeure het meegegee en ons is met matras en al van die bed afgegooi tot teen die dak.
"Ons is in die badkamer ingespoel, en ek is deur die venstertjie uitgedruk. Leilani het agter 'n kas vasgesit tot ek haar kon
uittrek.
"Toe sit ons op die muurtjie om ons buitestort. Ek sê nog 'Bok, ons is nou veilig', toe hoor ons die mense skree. En toe kom die
volgende brander."
Die twee het geklim tot op die nok van hul huisie terwyl Pierre die heeltyd gedink het 'dis 'n nagmerrie, dit sal verbygaan'. Toe
tuimel die baksteenhuisie soos 'n kaarthuis inmekaar.
"Die krag van die water het ons uitmekaar geruk. Ek het water gesluk, in goed vasgespoel, onder die water gerol, en toe in 'n
palmboom vasgespoel."
Daar het Pierre vir lewe en dood vasgehou terwyl meubels en opdrifsels teen hom vasgespoel het.
Hy het dit toe nie besef nie, maar Leilani is deur die water hoog in 'n ander palmboom gegooi.
"'n Mercedes, een van daardie oues met die regop ligte, het by my verbygerol in die water.
"Mense kom by jou verby, en word deur die water teen die tralies van 'n gebou doodgedruk.
"Ek het om hulp geskree terwyl almal hardloop, so 800m van die strand af. 'n Chinees het op die derde verdieping van 'n hotel
omgedraai, en 'n reling afgetrap na my toe. Dit was toe net bokant die water.
"Ek is so dankbaar vir al hierdie mense. Die man hoef nie te gehelp het nie. Hy was op soek na sy vrou."
Teen daardie tyd was mense se klere van hul lywe afgeruk. Die Chinees het vir Pierre 'n broek gegee wat veels te klein was.
"Ek het niks gehad nie, en van toe af, elke keer as ek moet klere wissel, moet die te-klein geleende klere van my lyf afgesny
word," dink hy terug met 'n glimlag.
Toe sien hy vir Leilani in 'n palmboom sit. Twee mans het op mekaar se skouers gestaan en haar afgetel. Sy het diep wonde gehad, en
vreeslik gebloei.
Dis toe dat mense skree "nog water". En weer moes hulle vlug.
Daar was vier groot branders, met tussenposes van so vyf minute, onthou Pierre.
"Ons het begin hardloop na die berge toe ons by 'n motor kom."
"Ek ry", het Pierre aan die Thaise vrou gesê. Maar skielik was daar weer water voor hulle en hy moes die motor deur 'n bos draai.
"Dis toe dat die vrou die sleutel uittrek omdat ek haar kar 'breek'.
"Toe moes ons ook loop. Dit het stadig en sukkel-sukkel gegaan, want Leilani het al baie bloed verloor en was baie swak.
"'n Boomstomp het haar bors deurboor, sy was oortrek van diep snye en wonde, en senings in haar linkervoet is erg beskadig."
'n Man van Bangledesh het saam aangesukkel. Sy voete was sleg gesny. Hy het sy vrou en seun verloor en was toe van sy dogtertjie
geskei.
Leilani het al flouer geword en was byna bewusteloos toe sy begin Sondagskoolliedjies sing.
"Ek wil huil as ek dink dat ons lewend daar uitgekom het. 'n Tiplorrie het ons van die berg af kom haal. Ek het gedink ons kom
nooit by 'n hospitaal nie.
"Die goedheid van die Thaise mense kan ek nie beskryf nie. Ons is met 'n bakkie na die eerste hospitaal geneem, maar dit was vol.
"Toe 60km verder na 'n vloothospitaal, waar hulle gesê het Leilani is te ernstig beseer.
Hulle het vir haar 'n drup gegee en uitgestuur. Op die bakkie het 'n Sweedse veearts die binneaarse drup aangesit."
Hulle moes 120km verder na die volgende hospitaal. Saam op die bakkie was 'n Rus met twee bottels vodka. Die een het hy op sy vrou
en Leilani se wonde gegooi totdat sy gesê het dis nou genoeg.
"Toe sê hy nog die bottel is byna leeg, en die tweede gaan hy uitdrink. Die Rus se vrou is later oorlede."
Agt uur nadat die eerste brander hulle geslaan het, het hulle by 'n hospitaal aangekom waar hulle opgeneem is.
Daar is die letters SA en 'n nommer op hul lywe geskryf en is hulle na sale geneem. Laatmiddag die volgende dag is Leilani se wonde
toegewerk, en Pierre s'n nog 'n dag later, die Woensdag.
"Leilani is verdoof vir die operasie, maar teen die tyd dat hulle by my hand gekom het, was die verdowingsmiddels al op.
"Die dokter wou twee van my vingertoppe afsit, want toe was daar erge infeksie, en hy het nie tyd gehad vir lank aan my werk nie.
Ek kon hom darem oorreed om eerder die snye net met 'n steek te heg. Gelukkig is my vingers gered."
"Die eerste dae het ons rys en water gekry, en daarna het die plaaslike inwoners vir ons vis en hoender gebring, en vir ons lemoene
gevoer omdat ons hande so stukkend was."
Die Donderdag het die Sweedse regering hul burgers begin uitvlieg. 'n Vrou het haar plakker vir Leilani gegee.
"Ek het net gepleit 'I'm husband', en oral saamgegaan."
Weer is die Le Roux's 80km ver agter op 'n bakkie, met komberse wat die inwoners vir hulle gegee het.
"Dit was stamperig en seer, maar ons was op pad na Phoeket.
"Die Thaise lugmag het ons na Bangkok gevlieg waar ons saam in 'n private saal opgeneem is. Leilani is geopereer en 'n handvol sand
en gras is uit die septiese wond op haar bors uitgehaal.
"Die Thaise regering was wonderlik. Hulle het enige vorm van dominee na die hospitaal gestuur om ons by te staan."
Vrydag is Leilani in 'n Johannesburgse kliniek opgeneem waar nog twee operasies uitgevoer is.
Tans sterk sy by haar familie in Mosselbaai aan, terwyl Pierre haar net lank genoeg daar laat om nodige papierwerk op Wellington
uit te pluis.
So tussendeur kan hy glimlag.
"Ek het lekker gewig verloor van die rys en water. En ek sal nou nooit daardie trourok sien wat toegesluit was in 'n tas (sodat ek
nie kan loer nie).
"Die tas het met sy verskriklike rooi lint (sodat ons dit dadelik op lughawens kon uitken) met die vloedwater by ons verbygedryf.
"Dan is daar my Cat stewels wat Leilani niks van gehou het nie. My koffer het 5kg meer as hare geweeg, en toe raas sy nog omdat dit
glo my swaar skoene is. Ek sweer daardie stewels staan nog vas op die fondasie van ons huisie.
"Ek het 'n ander mens teruggekom. Die branders en die water sal ek vergeet, maar die dood en die kinders kan ek nie verwerk nie.
"Nou word ons oorweldig deur die goedheid van vriende en die belangstelling van vreemdelinge. 'n Mens voel baie klein.
"Leilani sê sy hou van nou af net in die Kruger Wildtuin vakansie.
"Ek weet ek sal weer teruggaan Thailand toe. Ek wil vir die mense daar gaan dankie sê."
* A Wellington couple, injured and traumatised by the tsunami in Thailand, are relieved to have lived through the ordeal.
|