|
"Die kompetisie is baie sterk, daarom het ek nie verwag om hierdie eer te beurt te val nie. Ek is baie dankbaar.
Die topmatrikulante het almal tussen 107% en 110%.
Gerhard het 109% behaal, met onderskeiding vir al agt sy vakke.
Hy het volpunte behaal in Wiskunde, Skei- en Natuurkunde en Rekeningkunde (almal Hoër Graad) en 98% vir addisionele wiskunde wat hy
buitemuurs geneem het.
Vir Afrikaans Eerste Taal behaal hy 95%, vir Engels Eerste Taal 80%, vir Musiek (klavier HG) 87% en vir Musiekvoordrag (dwarsfluit
ekstra instrument SG) kry hy 90%.
Dat hy die "regte" gene het is nie te betwyfel nie - "anders veg 'n mens 'n verlore stryd," sê hy self.
Sy pa Nelis ('n teoloog verbonde aan Wellington se Vigsburo) en sy ma Liesl is syfermense. Liesl is wiskunde-onder- wyseres by Hoër
Jongenskool.
"Maar onthou, Gerhard was nooit by my in die klas nie," skerm sy.
Of sy ma hom ooit gehelp het met sy huiswerk?
"Nee," sê Gerhard met 'n glimlag, "'n Mens leer meer as jy self worstel met 'n som."
En dit is duidelik iets waarvoor hy nie skrik nie.
Hy was verlede jaar die beste wiskunde-student in die Wes-Kaap en onder die top tien in die land. Hy het onder die top tien in die
Harmony nasionale wiskunde olimpiade geëindig en die UCT wiskunde olimpiade vier jaar agtereenvolgens in sy jaargroep gewen.
Sy syferkop het hom al tot in Athene laat reis waar hy aan die internasionale wiskunde olimpiade deelgeneem het en eervol vermeld
is onder die 500 deelnemers van oor die hele wêreld.
In die Skeinat-olimpiade was hy onder die beste 100 deelnemers in die land.
Maar sulke prestasies is vir die Du Toits niks nuuts nie: Gerhard se ouer broer Heinrich, het self in matriek die nasionale
rekenaarolimpiade gewen.
Net 'n boekwurm is Gerhard beslis nie. Hy was sekretaris van die leerlingraad, kringleier van die SCA en het die skool se snoepie
bestuur.
"Dit was 'n dinamiese, besige jaar en ek het nie net agter die boeke gesit nie. Ek ry fiets om in die buitelug te kom en die
studiestres te breek."
Hy geniet die fisiese uitdaging en het al die Burger Sanlam en die Argus prettrappe in goeie tye voltooi.
'n Mens moet nie die kers alkante probeer brand nie, meen hy.
In bloktyd het hy soggens studeer, dan gaan fietsry en weer namiddag sy studies gepak - maar nooit tot laat snags nie.
"Dit help nie jy put jou uit die aand voordat jy moet skryf nie," glo hy.
Vir die mense wat hom "gecoach" het, het Gerhard die hoogste lof.
"Ek was by Boishaai nooit onder druk om te presteer nie, maar die onderwysers is ervare en toegewyd - hulle het moeite gedoen om my
te help en my swak punte uit te wys.
"My musiekonderwyseres by die skool het verseker dat ek my musiek ook baie geniet het."
Dié veelsydige uitblinker het verlede jaar die Unisa graad 8 eksamens in klavier en dwarsfluit geslaag met onderskeiding.
Gerhard het beslis 'n lang pad gekom van sy kaalvoetdae aan die Laerskool Slot van die Paarl, maar vir die volgende jaar gaan hy
rus na al die harde werk.
Hy hoop om in Mei na die VSA te vertrek om by 'n Christen-somerkamp vir skoliere te werk en daarna dié wêreld te verken.
Om dié doel te bereik werk hy by 'n plaaslike braairestaurant. Die fooitjies word gebêre vir sy vliegtuigkaartjie.
Gerhard gaan dus beslis nie op sy louere rus nie. Soos hy self verklaar, sy ouers het hom altyd baie liefde en ondersteuning gegee,
maar van bederf was daar nooit sprake nie.
Wanneer hy terugkeer wil hy graag, soos sy broer op tellenbosch studeer in elektroniese ingenieurswese (sien bl 4).
* The top local matriculant, Gerhard du Toit of Paarl Boys' High, achieved the seventh position in the province.
|