|
DIE louere in albei die 25 Myl wedrenne van die Boxing Day en Nuwejaarsdag byeenkomste in die Paarl het onlangs aan een fietsryer
gegaan.
Nolan Hoffman se harde trapkrag vroeg tydens die Boxing Day 25 Myl het verseker dat hy dié wedren kon wen sonder om enigsins in 'n
naelrit vir die wenstreep betrokke te raak.
Hoffman, voorheen 'n lid van die plaaslike Rhadsport Fietsryklub, ry deesdae vir die beroepspadfietsryspan Excell in Johannesburg.
"Die begin was hard met die 35 ryers wat hard getrap het, maar met sowat 30 rondes oor het dinge begin rustiger raak. Ek het 'n
aanval geloods en twee ryers, Paul Minnaar en Dean Hopf, het my gevolg," vertel Hoffman.
Die drie ryers het vir 'n paar rondes saamgewerk totdat Nolan besluit het om weer onder hulle weg te trek.
"Ek het weer die bondel ingehaal en was dus 'n ronde voor. Die bondel het toe stelselmatig weer vir Paul en Dean ingehaal. Met
sowat 20 rondes oor het ek en Garth Thomas weer aangeval en het ons weer die bondel ingehaal."
Hoffman en Thomas se voorsprong van onderskeidelik twee en een ronde het die wedren van 'n spannende naelrit vir die wenstreep
ontneem.
Die idee om die bondel reeds vroeg verby te steek, was van die begin af sy taktiek, sê Hoffman.
"Ek het die hele dag goed gevoel. Ek het die punte en myl wedrenne gewen en gesien ek was die sterkste ryer op die dag."
Volgens hom het die afwesigheid van die Kaapse CVT-ryers, wat gewoonlik in spanverband dié wedren probeer wen, sake vanjaar ietwat
vergemaklik.
"Die klomp individuele ryers moes elkeen self hard ry vir 'n plek."
Dit is die eerste keer dat dié 19-jarige ryer die Boxing Day 25 Myl wen. In sy eerste verskyning in dié wedren in 2002 het hy derde
geëindig, terwyl hy die volgende jaar weer tweede was agter Garth Thomas. Vanjaar se sege voltooi dus dié opwindende ryer se opmars tot Boxing Day glorie.
Die junior, Martin Malan (Paarl Fietsryklub) was in die derde plek.
Hoffman het dan ook sy titel in die Nuwejaarsdagbyeenkoms se 25 Myl vanjaar suksesvol verdedig deur Morné Blignaut te uitoorlê.
Hoewel daar minder ryers in dié wedren in aksie was, het die tweestryd tussen Blignaut en Hoffman, asook heelwat valle, die skare
behoorlik vermaak.
Hoffman en Blignaut van CVT het na 25 rondes weggebreek en saamgewerk om hul voorsprong op die bondel te hou.
"Ek het geweet ek kon nie wag tot die naelrit na die eindstreep toe nie, aangesien Morné, 'n sterker naelryer, onder my sou uitry."
Hoffman het 'n aanval geloods, maar Blignaut het bygebly, 'n ronde later het nog 'n aanval gevolg, maar weer het die CVT-ryer aan
Hoffman se agterwiel bly vasklou.
Met Hoffman se derde aanval 'n ronde later was Blignaut se gô egter uit en die baan was oop vir die Franschhoek-ryer om sy tweede
25 Myl sege te verseker.
Vir Hoffman lê daar 'n bedrywige 2005 voor.
Hy is reeds terug in Johannesburg en het Saterdag tydens 'n 120km wedren in Bronkhorstspruit hard met moeder aarde kennis gemaak.
Gelukkig is die omvang van sy beserings slegs "'n paar skraapwonde".
Hoffman wil sy stem behoorlik dik maak tydens die Klub Classic wedrenne in Johannesburg en mik ook om die SA Padkampioenskappe te
wen.
"Ek sal ook graag 'n skof van die Giro del Capo toer wil wen en goed doen wanneer die Excell-span in Maart na Frankryk toer," het hy
bygevoeg.
|