safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 13 February 2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 20 February 2003 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

People - Mense


'n Ongenooide kuiergas

Malané Bosman

[ Top ]


wsheba13GASTE is altyd welkom in Piet en Carole Theron se woning op die plaas Palmietvlei in Klein Drakenstein, maar selfs hulle trek darem die streep as dit by slang se maat kom.

So sit die egpaar nou die Saterdagaand knus in die sitkamer en televisie kyk. Hulle hoor (wat hulle dink) een van die honde druk-druk so aanmekaar aan die glas- skuifdeur agter hulle, maar op die skerm is Pretty Woman darem net te

SAGGIES SIT. Piet Theron en Sheba, die Labrador, sit deesdae meer versigtig voor die televisie.

interessant om op te staan.

Toe Piet die steurnis later nie meer kon

hou nie, kyk hy om en jou wrintie, wie druk teen die binnekant van die glasdeur? 'n Reuse, goudgeel Kaapse kobra.

Van televisiekyk was daar geen sprake meer nie, en die Paarlse slangevanger, Danie Malherbe, is haastig oorgenooi.

Die Therons het die middag so vyfuur hul huis toegemaak en min wetend die slang, wat seker 'n koeltetjie kom soek het, saam met hulle in die sitkamer opgesluit.

Waar die slang gerus het totdat hy begin druk-druk het om uitgelaat te word, sal net hy weet. Die huisbewoners sidder om te dink dat hulle dalk die bank met hom kon gedeel het.

Carole kyk beslis nou onder elke stoel en elke kas voordat sy saans huis toemaak teen die ongediertes wat buite (behoort te) skuil.

* A Klein Drakenstein farmer found himself watching television with a Cape cobra in his lounge.


Singende posman 96

Leigh Reitz

[ Top ]


PAARL se "Singende Posman" het verlede Vrydag verjaar en 'n gesonde 96 jaar saam met sy familie en vriende gevier.

John Goliath onthou nog sy dae in die posbedryf asof dit gister was. Eers skraap hy sy gedagtes bymekaar en begin vertel dan hoe dit alles op Oudtshoorn begin het.

"Ek was veertien jaar oud toe ek as skoonmaker by die poskantoor op Oudtshoorn begin werk het. Toe sterf een van die bodes en ek word toe in sy plek aangestel. Ek was vir ongeveer drie jaar toe 'n bode.

"Daarna het daar 'n posman afgesterf en ek is toe in sy plek bevorder. My broer, Pieter, was ook 'n senior posman.

"In 1936 het ek Paarl toe verhuis, waar ek by die Hugenote poskantoor begin werk het," vertel hy.

Dis mos toe dat die destydse posmeester eendag opmerk watter goue stem Goliath het, toe hy by sy aftrede gesing het.

"Van toe af het ek by troues en enige sangeleentheid begin sing. Toe die Tweede Wêreldoorlog verby is, het hulle 'n herdenkingsdiens in die Paarlse stadsaal gehou en ek het onder meer "Holy City" daar gesing.

Hy het na 33 jaar die tuig in die pos van toesighouer van die sorteerafdeling, neergelê. Darem nie te lank gelede om te onthou dat daar soms kwaai honde agter die voorhekkies was waar hy in Suider-Paarl moes pos aflewer nie.

"Die eienaars het my darem altyd gewaarsku en dan het ek ook 'n koppie koffie of tee te drinke gekry," lag hy.

Ná sy aftrede was hy baie nou betrokke by die Annunciation Kerk, waar hy die oudste oorlewende lidmaat is.

Nou vat hy dit maar rustig deesdae en al jeuk die vingers wat destyds so trots dahlias by skoue uitgestal het, soek hy maar liewer die koelte van die sitkamer op waar sy vyf kinders, elf kleinkinders en twaalf agterkleinkinders hom geselskap hou.


Bekende Paarliet sterf

[ Top ]


'n BEKENDE Paarliet, Koos Labuschagne, wat vir meer as twintig jaar die stadstesourier van die Paarl was, is Saterdagaand in Huis Vergenoegd oorlede nadat 'n slagaar gebars het.

Oom Koos, of Lappies soos baie hom geken het, was 80 jaar oud en volgens familielede was hy nooit bedlêend in al die jare nie. Dit is vir hulle 'n riem onder die hart dat hy op 'n natuurlike wyse tot sterfte gekom het.

Oom Koos het in 1966 in die Paarl aangekom nadat hy as stadstesourier aangestel is. Hy het die res van sy lewe hier deurgebring.

Hy word oorleef deur sy vrou, Estelle, en sy twee seuns Kosie (van Wellington) en Marius (van die Paarl), sy kleinseun Jéan en kleindogter Mia.

Sy eerste pos was by die Germistonse munisipaliteit as junior klerk, waarna hy tien jaar lank stadstesourier van Windhoek was voordat hy met sy kinders na die Paarl verhuis het.

Volgens sy familie, was sy uitstaande kenmerke 'n hoë intelligensie en veral vreedsame goedheid. Konflik en gekompliseerdheid was vir hom tydmors.

Hy was ook veral lief vir skaak speel en balsport en het tot op 65 nog aktief tennis gespeel.

Die roudiens vind vandag om 15:30 by Huis Vergenoegd plaas by die kapel op die eerste vloer in blok C.


Polisieman oorlede

[ Top ]


'n BEKENDE polisieman van Wellington, Clint Franke, het verlede week in sy motor op die N1 gesterf op pad huis toe.

Insp Franke (40) was verbonde aan Misdaadintelligensie in Kaapstad nadat hy jare lank by dieselfde eenheid in die Paarl werksaam was.

Insp Gerome Daniels van Klapmuts was Woensdagoggend om 02:20 op patrollie op die N1 toe hy die motor langs die pad wes van die Klipheuwel afrit gesien het.

Hy het ondersoek ingestel en insp Franke dood aangetref in die goue Mazda Etude.

Insp Franke was die aand aan diens en op pad na die Paarl toe sy motor die pad verlaat het. Hy het vermoedelik agter die stuur aan die slaap geraak.

Die motor het deur die lug getrek en met die bestuurdersdeur om 'n boom gevou. Insp Franke het aan veelvuldige beserings beswyk.

Ooggetuies van die ongeluk word versoek om insp Clifford Coetzee van Klapmuts (875-5555) te skakel.

Franke word oorleef deur sy vrou en twee kinders.

Hy is reeds ter ruste gelê uit St Albans kerk in Wellington, waar hy self 'n hulp-prediker was.


Jong vrou sterf op pad

[ Top ]


'n JONG vrou van Wellington het Saterdagoggend op die Durbanville pad gesterf terwyl sy op pad na haar ouerhuis op Wellington was.

Michelle de Jager (24) van Rieslingstraat, Nuwe Uitsig was saam met Morné Stapelberg van Morgensonplaas, Wellington, onderweg.

Volgens getuienis lyk dit asof Morné om 05:45 op die Durbanvillepad voor die aansluiting van die Agter-Paarlpad beheer oor die motor verloor het.

Die motor het eers die pad aan die regterkant verlaat, en het toe weer oor die pad geswenk voordat dit links van die pad oor 'n draadheining gevlieg en gerol het.

Michelle het uitgeval en het onder die groen Honda Ballade beland. Sy het aan veelvuldige beserings gesterf.

Morné is vir geringe beserings behandel.

Familie en vriende onthou Michelle, 'n oud-Hugenoter, as die meisie met die pragtige glimlag en die borrelende geaardheid.

Sy word oorleef deur haar ouers, Kobus en Anneline, susters Li-Anne en Jacqueline en oumas Anna Coetzee en Sannie de Jager.

Michelle is gister uit die Wellington-Oos NG Kerk te ruste gelê.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za