|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
|
|
DIE manne van Pniel Villagers Rugbyklub is uitgehonger vir die komende seisoen ná 'n oefenkamp op Worcester die afgelope week. Vanjaar is vir die klub en die ondersteuners van geskiedkundige belang aangesien Villagers vanjaar honderd jaar bestaan en ook die eerste keer in sy honderdjarige bestaan in die Westelike Provinsie se Superliga 1A sal deelneem. Volgens die klubvoorsitter, Keith Cyster, word Pniel Villagers op 29 Maart, wanneer hulle hul eerste ligawedstryd teen die Universiteit van Kaapstad speel, die eerste nie-stedelike klub uit 'n benadeelde gemeenskap wat onder die top 12 spanne in die WP sal meeding. "Ons tel nou onder die beste spanne in dié provinsie. Daarom het ons spelers 'n fisies uitdagende voor-seisoenprogram gevolg ter voorbereiding vir die strawwe kompetisie wat voorlê. Vir baie mense in ons klub en ons dorp verteenwoordig dié seisoen die verwesenliking van 'n eeu-oue droom," sê Cyster. Volgens hom is Villagers se fokus vanjaar om soveel spelers moontlik uit omliggende dorpe en in die Groot Drakenstein-vallei te werf. Tot dusver het heelwat spelers uit die Paarl, Groendal, Kylemore en Stellenbosch hul voorgeneem om die Villagers trui oor die kop te trek. Belangstellendes kan die klub se eerste vriendskaplike wedstryde teen Laer-Paarl en Standards (22 Februarie), Victoriane (1 Maart, Danie Craven Stadion), Young Gardens (8 Maart), Schotsche Kloof Walmers (15 Maart) en Saldanha Baai (22 Maart) op Pniel bywoon. Pniel Villagers speel hul eerste tuis ligawedstryd op 5 April teen Tygerberg en dit behoort 'n goeie wedstryd te wees. |
|
|
|
|
Die eerste Boland Ope skaaktoernooi is die naweek in die Paarl gehou. Hoewel krieket en atletiek dié tyd van die jaar voorrang geniet onder die jong klomp, was Eda Serfontein van die Boland Skaak Unie tevrede met die 93 skaakspelers wat deelgeneem het. Volgens Serfontein is dit die eerste groot toernooi wat aangebied word deur die Boland Skaak Unie wat in Mei verlede jaar gestig is. Spelers van 7 tot 55 jaar oud en van sover as Calvinia, Swellendam en Hermanus het hul taktiek en vernuf kom ten toon stel. Die wedstryde is op 'n sewe-ronde-Swiss formaat beslis en spelers moes teen die klok speel en hul skaakskuiwe noteer. Een van die toernooi se hoogtepunte was die kragmeting tussen Roland Willenberg van Steinitz Skaakklub in Belhar en Kenny Solomon van Mitchells Plein. Die twee het omtrent gespook om mekaar vas te manoeuvre, met Solomon wat die laaste kon lag. Die dag se skaak het tot 'n einde gekom, met vier spelers wat elkeen in die laaste ronde 'n telling van ses uit sewe gehad het. Hul gesamentlike punte vir elke ronde is bymekaargetel om die top drie spelers te bepaal. Die broers Willenberg, Graig en Kenny, ook van Belhar, het onderskeidelik eerste en derde geëindig, met Donovan van den Heever van Stellenbosch in die tweede plek. Mark Lewis van Bellville was vierde. |
|
|
|
|
IN wat as een van die moeilikste wedstryde van die seisoen en mees spannende in onlangse geskiedenis bestempel is, het Paarl Gim Saterdag net-net vir New Orleans Sekondêr op Gim se velde geklop. New Orleans wen die loot en stuur Gim in om te kolf. Hulle teken 186/8 aan, met Gysie van Zyl (38nun), Willem Laubscher (31) en Christo Ritter (31) wat goed doen. Die besoekers se Riaan Jephtha was die voorste bouler met 4/47 in 10 beurte, terwyl Hilroy Paulse (1/24 in 10bb) en Waylain September (0/24 in 10bb) ook baie ekonomies was. NO begin goed, maar Gim se gedissiplineerde spel sorg dat hulle uitgeboul word vir 12 lopies kort van die teiken. Paulse (25), Jephtha (25) en Godfrey Stevens (24) het die beste met die kolf gevaar. Andries Botha was die groot doring in die besoekers se vlees met sy 4/23 in 9 boulbeurte terwyl Jaco Carstens die ander uitblinker was met 3/21 in 10 boulbeurte. New Orleans se o.15A span het Saterdag hul Gim eweknieë met 21 lopies geklop. |
|
||||