safetop
ppostgothic
uitleg2mouthpiece
uitlefstreep

Thursday 13 March 2003

uitlefstreep

This site will be updated on: 20 March 2003 at 17:00

b_home
fb_news
b_people
fb_lifestyle
fb_arts
fb_sport
br_schools
fb_letters
fb_business
fb_property
b_vacancies
b_classifieds
fb_archives
fb_aboutus
fb_advertise
printing
homeads
fb_touristinfo
fb_businessindex
fb_organisations
fb_contact
fb_search
Google

Search WWW
Search Paarlpost
 

 Letters - Briewe


Waar is die dae van goeie diens nou heen?

[ Top ]


IS diens nog wat dit moet wees? En wat het geword van foute regstel, indien jy 'n fout gemaak het?

Wat gemaak as 'n voertuig by 'n vulstasie stop om die brandstoftenk vol te maak? Is die petroljoggie nie veronderstel om te verneem welke soort brandstof u verlang nie?

En as die brandstof-flappie oopgemaak word en daar staan duidelik in rooi letters "Diesel fuel only", is dit nie die joggie se plig om u daarop te wys dat die dieselpomp op 'n ander plek geleë is nie, of moet hy doodeenvoudig vol maak soos vir hom gevra is?

Word die joggies deesdae nie meer opgelei om hul werk na behore uit te voer nie, of word daar doodeenvoudig nie omgegee hoe hulle te werk gaan nie?

En dan, as daar reeds vir die brandstof betaal is en die voertuig gaan staan, op wie se skouers kan die fout geplaas word?

'n Vulstasie wat ek met vyf voertuie se brandstof ondersteun, Daljosaphat Motors, sal seker nie omgee om my op dié stelling te antwoord nie.

Le Roy

Volgens die eienaar van die motorhawe volg pompjoggies die instruksies van die motoreienaar en kan dus nie verantwoordelik gehou word wanneer die verkeerde brandstof ingegooi word nie. - Red.


Hierdie munisipale amptenaar is nie korrup nie

[ Top ]


IN die Paarl Post van 20 Februarie is 'n brief geplaas wat beweer dat daar 'n korrupte munisipale amptenaar is wat voortdurend in die Windmeul-gebied werk aan elektrisiteit en geïmpliseer dat hy 'n munisipale voertuig misbruik om private werk vir sy eie sak te doen.

"Anti-Korrup" kon egter op navraag deur die munisipaliteit nie aan hulle die amptenaar se beskrywing gee of datums en tye verskaf nie.

Vir die leser se inligting: daar is wel drade en pale verskuif op my plaas, maar dit was Telkom s'n.

Amptenare van die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling het na 'n onverwante kragonderbreking kom ondersoek instel en die probleem opgelos. Dit is deur die regte kanale gedoen.

My raad aan die briefskrywer is: los die vriendelike en pligsgetroue amptenare, dat hulle voortgaan om hul werk reg te doen en dra iets konstruktiefs by tot die samelewing.

Belastingbetaler (Windmeul)


Hier gaan nog 'n groot ongeluk gebeur

[ Top ]


MISBRUIK van die verkeerslig aan die onderpunt van Lady Greystraat in Jan van Riebeeckweg, Paarl, maak dit baie gevaarlik.

Wanneer die robot die verkeer van Lady Greystraat se kant reël vir motoriste wat regs wil draai, toon dit 'n groen pyl, maar die robot vir die oorkanste verkeer is rooi.

Dit gebeur al meer dat wanneer die Lady Greystraat-verkeer voorkeur het, die voertuie (taxi's) wat van die oorkantste kant kom (oor 'n rooi lig) voor die verkeer van Lady Greystraat inry.

Aangesien dit iets is wat daagliks gebeur is dit vir my moeilik om te glo dat die verkeersdepartement nie bewus is daarvan nie.

My vraag is: Moet daar eers iemand seerkry voor iets aan die saak gedoen gaan word?

Bekommerde motoris


Pluimpie aan die Verkeersdepartement

[ Top ]


AS motoreienaar was dit my voorland om weer my motorlisensie te hernu vroeër vanjaar. Ek het egter tot die dag voor die vervaldatum gewag en het my toe klaargemaak om in die Paarl in 'n ellelange tou te gaan staan.

En met dié dat 'n mens nou nog 'n entjie na die Verkeersdepartement ook moet ry, was ek seker my hele oggend is daarmee heen.

Wat was my verbasing groot toe ek daar aankom en daar is geen tou nie. Ek word sowaar dadelik gehelp en baie vriendelik en bekwaam op die koop toe.

Ek wil graag 'n pluimpie gee aan die mense wat agter die toonbanke staan en sekerlik wel by tye in lang toue moet vaskyk. Almal het vriendelik gegroet toe ek instap, die diens was flink en ek kon in 'n goeie stemming daar uitstap.

Marié Smidt


My drom stink nie

[ Top ]


HOEWEL die Drakenstein Munisipaliteit in al hoe meer gebiede oorskakel na die groter wieldromme, wat vullisverwydering verminder tot een maal per week, meen ek daar is 'n oplossing vir klagtes oor dromme wat stink.

Indien ek deur die week nat vullis soos vis- en vleis-afval sit, plaas ek dit in 'n plastieksak in my vrieskas en haal dit dan uit op die dag wanneer die vullis verwyder word. Jy moet net die verwyderingskalender wat uitgedeel is, goed bestudeer.

Skille van groente en vrugte begrawe ek in my tuin. My drom word ook skoongemaak met ontsmettingsmiddels, maar lok nie vlieë nie en het nie 'n onaangename reuk nie. 'n Mens kan selfs met 'n diep gat in die tuin ook die vis en vleis-afval asook enige nat vullis begrawe.

T Nel


Suid-Afrikaners is wonderlike mense

[ Top ]


EK is 'n Nederlander en woon in Haarlem. Ek het tien maande gelede 'n meisie ontmoet van La Motte by Franschhoek.

As daar een iets is van Suid-Afrikaners is dit dat hulle liewe mense is met 'n goeie geaardheid. Ek het 'n maand gelede op besoek gekom in Suid-Afrika en wat ek daar ervaar het, het ons minder in Nederland.

Alhoewel ons een ryke land is het ons nie so 'n sosiale lewe as wat die Suid-Afrikaners het nie.

Dit is een ding wat ek daar geleer het vir die afgelope maand wat ek daar was - dat jy arm kan wees en nie soveel geld verdien nie, maar die deur staan altyd oop waar jy vandaan kom en wie jy is. Die mense daar het goeie harte. Ek sal nooit vergeet van wat ek daar ervaar het nie, ek sal die land se naam hoog hou hier in Nederland.

Suid-Afrika, jy sien my weer, definitief oor 'n paar maande en dié keer sal dit 'n groep wees wat daarna toe gaan kom.

Jetse van Gelder


Redaksioneel:

Tronk nie meer 'n skande

[ Top ]


DIE stories van stygende skuld en korrupsie by die Drakenstein Munisipaliteit is genoeg om enige belastingbetaler in depressie te laat verval.

Korrupsie is deesdae so algemeen soos kakiebos en om tronk toe te gaan is lankal nie meer 'n skande nie.

Wat hier in Drakenstein gebeur, is blykbaar in lyn met die aanvaarde norme vir ons nuwe demokrasie.

Ons het dus een van twee keuses: ons moet maar die nuwe bedeling in al sy fasette aanvaar of ons moet daadwerklik inspring om dit te verander.

Aanvaar ons dit, kan ons maar boedel oorgee en self deel word van die korrupsie. Wil jy plante vir jou tuin hê, kan jy dit mos sommer op die naaste sypaadjie of middelmannetjie uithaal.

Wil ons dit verander, gaan dit 'n bietjie meer sweet en baie morele moed kos.

Ons sal moet begin om werklik betrokke te raak by die munisipaliteit en die stadsraad se aktiwiteite.

Ten spyte van advertensies was daar verlede week geen lid van die publike teenwoordig by die bespreking van die Ouditeur-general se verslag oor munisipale finansies nie.

Gaan die publiek toelaat dat korrupsie en misdrywe voortduur of gaan oortreders aan die man gebring word?

Raadslede is verkose verteenwoordigers van die gemeenskap en is dus verantwoordelik aan die inwoners.

Weet u wie u raadslid is? Weet u watter besluite in u naam geneem word?

Raadslede moet aanspreeklik gehou word vir wat gebeur of nie gebeur nie - ook by die stembus.


[ Top ]

Tel: (021) 871-1170 - e-mail: edit@ppost.co.za